Motors

Tata Xenon 3 liter 2008

Tata beweer hulle nuwe Xenon is “die perfekte balans tussen voorkoms en werkverrigting”. Barnie Louw kyk of die woord “perfek” hoegenaamd in dié sin hoort.Selfs ná ’n paar skuimkoppe sal jy nie sommer Kallie Knoetze in dieselfde asem as Muhammad Ali noem, of Hempas Rademeyer met Carel du Plessis vergelyk nie.Wat doen jy dus as jy moet skryf oor die jongste bakkie uit die land wat die wêreld die Taj Mahal, Gandhi, die Kama Sutra én kerrie en rys gegee het?Vergelyk jy die Tata Xenon met die meer gevestigde dubbelkajuitbakkies op die Suid-Afri-kaanse mark? Vergelyk jy dit eerder met sy voorganger, die Telcoline? Of beskou jy die Xenon op sy eie?Daar’s ’n paar faktore om in gedagte te hou voor jy vergelykings begin tref: Die Xenon is loshande (R50 000 se los-hande) goedkoper as enige ander dubbelkajuit op die mark.Hieruit kan ons een van drie dinge aflei: Die Xenon is uitstekende waarde vir geld; ons betaal hopeloos te veel vir ander dubbelkajuite; en die ouens by Tata het dalk ’n paar kortpaaie gevat met die ont-wikkeling van die Xenon …Verder is Tata as handelsmerk nog nie so gevestig soos, sê nou maar Isuzu en Toyota nie, hul handelaarsnetwerk is nog yl, en hul plek op die indeks van verbruikerstevredenheid wys dié Indiese vervaardiger het nog nie sy vlerkies verdien nie.In die gees van regverdigheid voel ek dus genoop om die Xenon eerder met homself of die Telcoline te vergelyk.Wat is anders?Om die Telcoline met Tata se nuwe “lewen-stylbakkie vir die buitelug-entoesias” te vergelyk, is soos om te sê ’n Commodore 64 en ’n Pentium IV is dieselfde:Die ontwerp is meer modern as die Telcoline se plaveisteen-met-wiele-ontwerp, dit het heelwat ekstras, en die veiligheidskenmerke is ook opgeknap.Onder die kap.Die Xenon is beskikbaar in twee modelle – ’n 4x2-dubbelkajuit en ’n 4x4-dubbelkajuit – maar met net een enjinkeuse, ’n 3 liter-turbodiesel met drukbuisinspuiting.Die enjin ontwikkel omtrent soveel krag soos ’n asmatiese kruiwa (84,5 kW), maar die wringkrag (320 Nm) vergoed in ’n mate daarvoor én help om die Xenon verbasend bekwaam in die veld te maak.In die veld. Danksy die Xenon se vierwielaandrywing waarmee jy in die ry na hoëstrek kan oorskakel (“shift on the fly”) en laestrekratkas (in die 4x4-model), vastrapewenaar en versterkte onderstel en vering, is dit nie meer nét ’n bouer- of tuinvullisbakkie nie, maar ’n voertuig wat in die veld kan begin saamgesels.Kyk, dis nog nie ’n veldryreus soos die Defender of Cruiser nie, maar op die Xenon se bekendstelling het sy veldryvermoë ’n hele paar siniese motorjoernaliste ordentlik beïndruk.Boonop het Tata se inge-nieurs die Xenon se agterwiele verder agtertoe geplaas sodat dit beter kan sleep.Al die ekstras.Die Telcoline se binneruim is waarskynlik ontwerp deur ’n span ouens wat dink “spartaans” is ’n sinoniem vir “luuks”, maar dié manne was duidelik nie deel van die Xenon-ontwerpspan nie. ’n Kragstuur, verstelbare stuurkolom, lugver-sorging, elektriese vensters en selfs ’n radio-CD-MP3-klankstelsel is alles standaard in die Xenon.Verder kan die volgrootte agtersitplekke wegvou vir meer pakplek. Leerbekleedsel, kolligte en treeplanke is egter opsioneel.Veiligheid.Tata en veiligheid was nog nooit eintlik hand op die blaas nie, maar die Xenon verskuif die Tata-grense met sy standaard-veiligheidskenmerke: frommelsones, invoubare stuurkolom, sentrale sluitstelsel, rukstopgordels én kant-impakstawe.Maar … waar’s die lugsakke en ABS-remme?Dít pla ook.In die veld is die Xenon meer bekwaam as wat algemeen verwag is, maar op die oop pad het dit, weens die ouergenerasie-dieselenjin, soveel oemf soos ’n skulpvis tydens rooigety; daar’s geen voetrus langs die koppelaar-pedaal nie; die knoppie waarmee jy tussen 2H, 4H en 4L skakel, is petieterig en versteek; en die Telcoline se eienaardige, gepunte wieldoppe is steeds deel van die Xenon se ontwerp.Braaivleisfeit. Daar is meer as 4 miljoen Tatas op paaie in Indië. Op sigself indrukwekkend, maar hou in gedagte daar’s meer as 1 000 miljoen mense wat kan help stoot as hulle sou breek.* Tata SA het betaal vir die reis- en verblyfkoste vir die Xenon se bekendstelling.Bl 2: Die feiteDIE FEITEGOED, HOEVEEL?

  • Vloerprys: 4x2 d/k: R170 000;4x4 d/k: R195 000
  • Diensplan: 3 jaar/60 000 km
  • Waarborg: 3 jaar/100 000 km

GEE MY KRAG!

  • Enjin: 3 liter-turbodiesel met drukbuisinspuiting
  • Ratkas: 5-spoedhandratkas
  • Krag: 84,5 kW @ 3 000 r.p.m.
  • Wringkrag: 300 Nm @ 1 800-2 000 r.p.m.

HOE VINNIG, HOE DORS?

  • Topspoed: 160 km/h
  • Brandstofverbruik: 9 liter/100 km
  • Brandstoftenk: 65 liter

ONDERKANT?

  • Vering: Dubbele mikvere met wringstaaf voor; bladvere agter
  • Remme: Skyfremme voor; trommels agter

HOE GROOT?

  • Wiele/bande: 16 duim-allooi; 205R16C106S
  • L./B./H.: 512 cm; 186 cm; 176,5 cm (sonder vrag)

HOE SWAAR?

  • Gewig: 1 970-2 000 kg
  • Maks. sleepgewig: 2 000 kg

HOE BEKWAAM?

  • Naderingshoek: 26 °
  • Vertrekhoek: 22 °
  • Grondvryhoogte: 20 cm

MEDEDINGERS? ’n Swetterjoel ingevoerde Chinese bakkies.VIR? ’n Groot verbetering op sy voorganger teen ’n baie goeie prys.TEEN? Goedkoop is soms duurkoop (wat ek hoop nie die geval is nie).Oorspronklik gepubliseer in WegRy #6 | April - Mei 2008

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM