Die Toyota Land Cruiser Prado word in meer as 170 lande verkoop – meer as enige ander Japans vervaardigde voertuig. En dit lyk of die vierdegeslag-Prado nóg ’n paar lande gaan byvoeg, sê Barnie Louw.
Toyota oordryf nie as hy sê die nuwe Prado is een van die tegnologies gevorderdste veldvoertuie ter wêreld nie – die eienaarshandleiding beslaan ’n volle 1 426 bladsye.
Maar as jy die Prado vir jou pêlle wil beskryf, hou eerder by: Dit het meer spiere, ’n beter padhouvermoë, dis geriefliker binne, en is toegerus met ’n mond vol elektroniese bestuurders- en nuwe veldryhulpmiddels.
Die bestuurdershulpmiddels sluit in veelterrein-ABS, remkragverspreiding, remhulp, stabiliteitsbeheer, hellingwegtrekhulp en ’n kineties-dinamiese veerstelsel.
Die ouens met die witjasse sal dié veerstelsel, wat vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 gebruik is, só beskryf: Dit optimaliseer voortdurend die werking van die voorste en die agterste stabiliseerder deur ’n interaksie tussen die twee via ’n hidrouliese stelsel.
Eintlik beteken dit maar net dat dit bakrol in toom hou, en in die veld sorg dit vir beter wielartikulasie.
Vir veldry is daar twee nuwe funksies: Multi-terrain Select (’n eerste vir Toyota) en kruipbeheer.
Deur wieltol en wielsluiting te beperk, verseker die Multi-terrain Select die maksimum vastrap in die veld. Jy kies bloot een van vier verstellings (modder en sand, rotse, los rotse, en heuwelagtige terrein) en die stelsel doen die res – dink daaraan as veldry vir dummies.
En danksy kruipbeheer, wat ook vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 gebruik is, kan jy ’n bestendige, lae snelheid oor die strafste terrein handhaaf – sonder om aan die versneller of remme te raak.
Terloops, in die eienaarshandleiding word 168 bladsye afgestaan om te verduidelik hoe al die veldryslimmighede werk.
Dis goed en wel, maar al dié nuwe funksies en goeters is jou net beskore as jy die luukse Prado VX koop – die TX-modelle, wat vroeg in 2010 bekendgestel word, het dit nie.
As jy ’n TX koop, sal jy ook moet klaarkom sonder die ses kameras buite-om die VX wat jou wys waar om te ry (of nie), spoedbeheer, die satellietnavigasiestelsel, en die koelboksie tussen die voorste sitplekke, om net ’n paar goed te noem.
Maar troos jouself daaraan dat die TX na verwagting R90 000-R100 000 goedkoper gaan wees as die vlagskip-VX.
Braaivleisfeit: “Prado” is afgelei van die Portugese woord vir prêrie.
Toyota sê …
Enjin: 4.0 V6 Petrol of 3.0 D-4D Diesel
Ratkas: 5-spoed outomaties
Krag: 4.0 V6: 202 kW @ 5 600 r.p.m.; 3.0 D-4D: 120 kW @ 3 400 r.p.m.
Wringkrag: 4.0 V6: 381 Nm @ 4 400 r.p.m.; 3.0 D-4D: 400 Nm @ 1 600-2 800 r.p.m.
Vering: Onafhanklike dubbelmikveerstelsel voor en vierskakelstelsel met sybalke agter
Remme: Skywe voor en agter
Grondvryhoogte: 23 cm
Naderingshoek: 32 °
Vertrekhoek: 24 °
Brandstoftenk: Altesaam 150 liter
Brandstofverbruik: 4.0 V6: 11,3 liter/100 km; 3.0 D-4D: 8,5 liter/100 km
Waarborg/diensplan: 5 jaar/90 000 km (DP)
Diensinterval: 10 000 km
Model: 4.0 VX Petrol out.; 3.0 VX Diesel out.
Prys: R650 000 (4.0 VX Petrol); R637 900 (3.0 VX Diesel)
Wat kry ek alles?
Te veel om op te noem … stabiliteitsbeheer, hellingwegtrekhulp, snelheidsbeheer, leersitplekke, sitplekverwarmers, satellietnavigasiestelsel met stemherkenning, stuurhoekafbeelding, “Push-to-Start”-funksie ...
Ons sê ... WegRy se indrukkeDIE EERSTE INDRUKKE
- Die binnekant is meer suksesvol oorgedoen as die buitekant – daai kamera in die neus en die bonkige wielboë bederf sy voorkoms so effens.
- As jy vergeet van die voorkoms, hoekom sal jy nog ’n Cruiser 200 wil koop?
DIE BINNEKANT
Gemak en ruimte:
Al die gemak wat R600 000 jou kan koop én ’n koelboksie tussen die voorste sitplekke – wat meer wil jy hê?
Op die agtersitplek:
Jy kan ’n hele Weight Watchers-beginnersgroep in die tweede ry sitplekke inpas. En omdat die vloer onder die agterste twee sitplekke 5 cm laer is, sit die agterste passasiers nie so erg met hul knieë langs hul ore nie.
Kindervriendelik:
Die oorhoofse konsole het ’n sogenaamde “gesprekspieëltjie”, sodat jy makliker ’n ogie op die kinders (of passasiers) agter kan hou.
DVD-skerms teen die rug van die voorste sit¬plekke is deel van die opsionele ekstras.
Laairuimte:
Die agterste ry sitplekke vou heeltemal plat – met net die druk van ’n knoppie!
Veiligheid:
Lugsakke en kantlugsakke voor, ’n knielugsak vir die bestuurder, en gordynlugsakke vir al drie sitplekrye.
Gebou om te hou, of nie:
Dis mos ’n Toyota, of hoe?
OP PAD
Bestuurderposisie:
Dié sitplek het agt verstellings …
Padgeraas:
Dis so stil binne jy kan jou bors¬hare hoor groei.
Padhouvermoë:
Ondanks die leerraamonderstel klou die Prado aan die pad soos klitsgras aan ’n wolkombers, en bakrol is veel minder as by die vorige generasie.
Boonop kry jy drie veringverstellings: Normaal, Gemaklik en Sport. Die skokbrekers se fermheid word aangepas om by elk van die verstellings te pas.
In stadsverkeer:
Leer solank dié woorde: Hei, wil jy dice?
Op die langpad:
Die Prado het alles vir die langpad: ’n klankstelsel met 14 luidsprekers, genoeg beenruimte, ’n koelboksie tussen die voorste sitplekke, verstelbare bestuurdersitplek, en ’n 150 liter-brandstoftenk wat die Prado ’n geskatte reikafstand van meer as 1 000 km op een tenk brandstof gee.
Ratwisseling:
Albei modelle het ’n outomatiese vyfspoedratkas, maar dis al asof die diesel en die ratkas beter saamwerk, veral in die veld.
Werkverrigting:
Albei enjins het ’n beter brandstofverbruik en meer krag as voorheen. Die nuwe 4 liter se 202 kW en 381 Nm is onderskeidelik 16% en 1% meer as die vorige enjin, en die 3 liter se 120 kW en 400 Nm is onderskeidelik 25% en 17% meer. In vergelyking hiermee skop die Land Rover Discovery 4 onderskeidelik 180 kW en 600 Nm uit ...
Remme:
Het jy al ooit op ’n tiekie gestop? Nie? Wel, nou kan jy.
VAN DIE PAD AF
Dís wat jy alles kry:
Jy kry net laestrek en ’n agterste ewenaarslot saam met die Super Select-vierwielaandrywingstelsel. En hoewel jy nog ’n hefboom moet gebruik om in 4x4 ’n Heeltydse vierwieldryfstelsel met ’n Torsen-tipe vastrapmiddelewenaar, laestrek en ’n agterste ewenaarslot.
Saam met veldryhulpmiddels soos Multi-terrain Select en kruipbeheer sal (of eerder, behoort) jy nooit weer vas te sit nie.
’n Beheerskakelaar vervang die tradisionele oordragkashefboom, en word saam met die kontroles vir die middel- en agterste ewenaarslot op die sentrale konsole gegroepeer.
Om die Prado se Multi-terrain Select te aktiveer, is nie so intuïtief soos die draai¬skakelaar van die Disco 4 se Terrain Response-stelsel nie.
En die Prado se naderings- en vertrekhoek van 32 ° en 24 ° onderskeidelik word die loef afgesteek deur die Disco 4 se 36 ° en 29 °.
Hoe vaar hy op …
•
Grond: Hy klou soos kougom in ’n mat.
•
Sand: Met Multi-terrain Select sal jy dink jy ry teerpad, veral in die diesel.
•
Rots: Sien bo.
Van Zylspas of nie?
Geen probleem nie, mits jy meer geharde bande as die padge¬oriënteerde Bridgestone 265/60 R18’s opsit.
HOE PRAKTIES
Dít werk:
•
Die tweede ry sitplekke kan geskuif word, wat dit makliker maak om by die derde ry sitplekke uit te kom.
Maar dít pla:
•
Die agterste noodwieldeksel versper ’n deel van die uitsig deur die agterruit.
•
Die kamera in die noodwieldeksel vra om seer te kry as jy die noodwiel moet afhaal.
WAARDE VIR GELD
DIE SJOE!-FAKTOR
ONS HOU VAN ...
•
Jy kan tot 2 000 liedjies bêre op die klankstelsel se 80GG-hardeskyf.
•
Die stuurhoekafbeelding wys jou op ’n skerm hoe jou wiele gedraai is.
•
Dit was nog nooit makliker om die agterste ry sitplekke plat te vou nie – druk net
’n knoppie!
•
Die meeste 4x4-goeters is bymekaar op die sentrale konsole
JA, MAAR ...
•
Die brandstoftenk is wel 30 liter kleiner as tevore, maar Toyota sê die nuwe enjins se beter brandstofverbruik behoort hiervoor te vergoed.
•
Dis dalk hare kloof, maar die horlosie se digitale beeld is te klein.
•
Die kontroles vir die elektriese vensters sit ietwat ongemaklik
GROOTSTE MEDEDINGERS?
• Discovery 4 TDV6: R595 000-R725 000
WEGRY SÊ:
Miskien nie die mooiste of die modernste nie, maar die tegnologie is koeëlvas. En dis luuks en gerieflik genoeg vir ’n daaglikse gebruiksvoertuig. Boonop kan jy dit met vertroue veld toe vat.
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #16 | Des-Jan 2010












