Motors

Travelstar VW Crafter-4x4

Hoe gemaak as 'n dubbelkajuitbakkie te klein raak en jy nie lus is om 'n 4×4-karavaan saam te sleep nie? Jy laat vir jou 'n 4×4-paneelwa bou, reken Jaco Kirsten.

In die ou dae kon jy basies kies tussen koffie en tee. Maar as jy vandag by 'n restaurant iets wil bestel, is daar seker vier soorte tee en 'n magdom koffies om van te kies. Ken jy die verskil tussen, byvoorbeeld, 'n frappé, espresso con panna, macchiato, ristretto, cafe brevo en 'n americano?

Die rede is eenvoudig: Mense het verskillende smake en behoeftes. Waar een ou erg is oor 'n Frappé (eintlik maar 'n fensie koue koffie) verkies iemand anders weer 'n Americano - eintlik gewone koffie met melk soos ons hom ken.

Dis dieselfde met rygoed. Tot onlangs toe kon jy kies tussen bakkies of sportnutsvoertuie. Met of sonder sleepwaens. En as jy lus was vir gerief, het jy 'n bossleepwa saamgesleep. Eh, uh, dit was omtrent dít. Maar wat van ouer egpare wat die land wil platry, selfs waar die paaie eintlik nie meer paaie is nie, en dan in gerief wil oorbly - en, let wel, nie kamp op- en afslaan nie?

Daai van klink bekend

Dis waar Travelstar 4×4 Motorhomes van Knysna in die prentjie kom. Die manne agter die stuur van Travelstar is Geert en Dickie Jurgens. Wag, die naam Jurgens lui mos 'n klokkie? Ja, dis die einste Jurgens-familie wat jare gelede die Jurgens-handelsmerk verkoop het.

Maar die Jurgens-broers is rustelose planmakers. En so tussen die bou van kampeerders en die inrig van vragmotors vir trans-Afrika ekspedisies, het hulle ook begin peuter met Mercedes-Benz Sprinter-bussies. En onlangs met VW Crafters.

Hoewel hulle al die kennis en ervaring het om luukse kampeerders te bou, het ek gewonder oor die bou van 4×4's. Dis gelukkig nie 'n probleem nie, want hulle het ook die alleenreg in Suid-Afrika om 4×4-aandrywingstelsels van die Oostenrykse maatskappy Oberaigner te installeer. Oberaigner het ook die 6×6-aandrywingstelsel vir die Toyota Hilux Arctic Trucks verskaf.

‘n VW in Mercedes-klere?

Wat min mense weet, is dat 'n Mercedes-Benz Sprinter en 'n VW Crafter identiese voertuie is waarvan net die enjins, neuse en wapen op die stuurwiel verskil. En wanneer hierdie voertuie ontwerp en gebou word, word dit só gedoen dat Oberaigner se 4×4-stelsels agterna eenvoudig aan die nuwe bussies vasgebout word.

Selfs die bedradingsharnasse is ontwerp om die Oberaigner-stelsels te akkomodeer. En as dit eers geïnstalleer is, sal jy sien dat die vervaardigers vooraf die liggies in die instrumentepaneel aangebring het wat aandui wanneer die ewenaars gesluit is of laestrekratte gekies is. Boonop benadeel dit geensins die voertuie se fabriekswaarborge, aangesien Oberaigner en die voertuigvervaardigers saamwerk met die ontwikkeling van hierdie stelsels.

Die basis van Travelstar se ombouings is 'n VW Crafter-bussie met voltydse vierwielaandrywing, hoë- en laestrekratte, ewenaarslotte middel en agter en hoër vering. Jy kan ekstra water- en brandstotenks spesifiseer, asook verstelbare lugvering.

Alles wat kan oop- en toemaak

Om die omgeboude voertuie te ry, is 'n plesier. Niks is anders nie. Behalwe natuurlik die knoppies waarmee jy die ewenaars sluit of laestrek kies. Dié kom saam met die Oberaigner-ombouing en lyk identies aan die Merc of VW-knoppies in die kajuit en daar is vir hulle ook reeds voorsiening gemaak in die bedradingsharnas agter die instrumentepaneel. Dit is, soos hulle in goeie Afrikaans sê, "plug and play".

Ons het die Crafter vir 'n rit gevat op die Prins Alfred-pas bo Knysna en Kom se Pad. Jy't nooit die idee gekry dat jy 'n reusagtige vragmotor bestuur nie. Maar een kyk oor jou skouer het bevestig dat jy agter die stuur sit van 'n ryding met een m*****e groot binneruim. Ek kon lag-lag regop staan binne-in en die ander bussies wat Travelstar besig was om om te bou, het getuig van hoogstaande vakmanskap en soveel moontlikhede dat dit eintlik net jou beursie is wat jou planne kan beperk. Grootskerm tv's, rekenaars, storte, spoeltoilette, gasstowe, mikrogolfoonde, dubbelbeddens, eettafels, noem maar op.

Dis nie die soort voertuie waarmee jy Vanzylspas wil doen nie. Maar ek het al gesien hoe 'n swaargelaaide Sprinter met 'n Iglhaut Alrad-ombouing (die Oberaigner-stelsel is meer gevorderd) die diep sandpaaie van Suid-Mosambiek kafdraf, so jy behoort enigiets behalwe ernstige klippe met gemaak te kan baasraak, veral as jy opsionele veldrybande opsit.

Ander klante laat hulle Sprinters of Crafters weer ombou as 'n 4×4 Crew Bus, m.a.w. daar is sitplek vir 5 volwassenes met genoeg plek agter vir twee motorfietse én bagasie of wat jou hart ook al begeer om in te pak.

Die ombouings is nie goedkoop nie - jy kyk na 'n aks oor die R778 372 vir 'n vierwielaangedrewe VW Crafter 2.5 TDI (120 kW) met hoë-lig vering, hoë- en laestrekratte, sluitbare middelste en agterste ewenaar, asook 245/75 R16 veldrybande. Dan las jy nog die inrig van die binneruim by. Dit kan wissel van R150 000 tot R250 000, afhangende van wat jy alles wil hê. Maar dis 'n proses waar jy letterlik álles kan kies, van die afwerkings, tot die uitleg en toerusting. Wat selfs 'n Italiaanse koffiemasjien kan insluit. Sorg net dan dat jy die verskil tussen jou espresso con panna en jou ristretto ken.

Vir meer inligting oor hierdie voertuie en hulle 4×4-stelsels skakel 044 382 1516 of besoek:

www.travelstar.co.za

www.oberaigner.com/en/

Marilize Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM