Motors

Volkswagen Touareg 2010

Seekoei word ballerina

Die 2010 Volkswagen Touareg is ’n heel nuwe voertuig. Hy’s wel groter as die vorige Touareg, maar ook ligter en meer doeltreffend.

Die ooglopendste verandering is aan die buitekant, maar onder die oppervlak is die veranderings selfs interessanter:

  • Al die modelle het nou ’n agtspoed- outomatiese ratkas
  • (voorheen was dit ’n sesspoedratkas).
  • Die nuwe enjin is volgens VW 20-24% meer brandstofdoeltreffend. Die reeks sluit in die 3.6 V6 FSI-petrol (na bewering 9,9 liter/100 km), die bekende 176 kW 3.0 turbodiesel (af na 7,4 liter/100 km)
  • en ’n nuwe 4.2 V8 turbodiesel (250 kW/800 Nm) in plaas van die dorstige V10 TDI.
  • ’n Hibriede model sal volgende jaar beskikbaar wees.
  • Die nuwe Touareg-modelle is gemiddeld 200 kg ligter.
  • As jy 4x4 wil hê, kan die V6 TDI-model bestel word met ’n 4XMotion-stelsel met behoorlike laestrekratte en ’n sluitbare middelewenaar.
  • Jy kan ook lugvering en ’n sluitbare agterste ewenaar kies.
  • ’n Voertuigkamera help met parkering en veldry. Sy kopligte draai in die rigting waarin die voertuig beweeg en sak outomaties as ander voertuie nader.

Nog toerusting wat jy kan bykoop, is ’n groot raakskermnavigasiestelsel, ’n sondak wat die hele dak vol is en ’n sleepstang wat elektries wegvou.

Braaivleisfeit: Die Touareg is gebou op wesenlik dieselfde onderstel as die

Porsche Cayenne en Audi Q7, in dieselfde fabriek in Bratislava, Slowakye.

Volkswagen sê …

Enjin: 3-liter turbodiesel

Ratkas: 8-spoed outomaties

Krag: 176 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag: 550 Nm @ 2 000-2 250 r.p.m.

Vering: Dubbele mikvere voor en agter; kronkelvere/opsionele lugvering

Remme: Skywe voor en agter, 330 mm

Grondvryhoogte: 22-30 cm

Naderingshoek: 26 ° en 33 °

Vertrekhoek: 26 ° en 33 °

Brandstoftenk: 85 liter en 100 liter

Brandstofverbruik: 7,4 liter/100 km

Waarborg: 3 jaar/120 000 km

Onderhoudsplan: 5 jaar/100 000 km (AutoMotion-plan)

Diensinterval: 15 000 km

Modelle: Van Augustus/September 2010:

V6 FSI petrol (206 kW), V6 TDI (176 kW), V8 TDI (250 kW)

Van 2011:

Hibriede model met 245 kW V6 TSI petrol en ’n 34,3 kW E-motor (algehele lewering 279 kW)

Prys: Nog onbekend

Ons sê … WegRy se indrukkeDIE EERSTE INDRUKKE | 4-ster

  • Dit het daardie seekoei-agtige kurwes afgeskud, en lyk kleiner en meer gespierd, hoewel die nuwe model eintlik groter is.
  • Binne beïndruk die gehalte-afwerking.

DIE BINNEKANT | 5-ster

Gemak en ruimte:

Net een woord: styl. Alles binne is maklik en logies om te gebruik.

Op die agtersitplek:

Daar is meer beenruimte nadat die asafstand met 3,8 cm vergroot is.

Kindervriendelik:

Isofix-babasitplekpunte is standaard, maar kies donker kleure vir die binnekant as jy beplan om die baba in die ry kos te gee. Mat- en laairuimtebeskermers help darem om die kajuit te beskerm teen stampe en stote.

Laairuimte:

Die skerm van die laairuimte skuif oop op ’n spoor, en is baie nuttig. Die laairuimte is breër as voorheen, en is 550 liter groot (genoeg plek om jou vier kwylende rottweilers park toe te neem), en as die sitplekke platslaan, kan jy 1 642 liter inpas.

Veiligheid:

’n Vyfster-NCAP gradering is vanselfsprekend in sy klas, en jy kry die volgende: lugsakke oral en kindervriendelike sitplekgordels wat vooraf styftrek. Hy’t ook elektroniese hulpmiddels vir vastrap, stabiliteit en remvermoë. Van die ryhulpmiddels sluit ’n gonser in wat jou waarsku as jy sit en droom en uit jou baan uit dryf en kameras wat die pad voor en agter jou dophou – veral nuttig vir versteekte aansluitings en as jy met ’n sleepwa of karavaan deur ’n nou opening wil ry.

Gebou om te hou, of nie:

Die afwerking is uit-stekend en die onderhoudsplan is omvattend.

OP PAD | 4-ster

Bestuurderposisie:

Jy sit stewig in die sitplekke, het ’n uitsig wat skrik vir niks en die leerstuurwiel is verstelbaar (op en af en vorentoe en agtertoe). Die knoppies se uitleg is logies en die raakskermkoppelvlak werk soos ’n bom.

Padgeraas:

Baie aandag is hieraan gegee. Aërodinamika is verbeter, die vering is verfyn en dit ry soos ’n droom. By modelle met lugvering kan verstellings soos “Sport” of “Comfort” in die ry gekies word.

Padhouvermoë:

As jy mooi kan ry, sal die Touareg veilig wees, met gesofistikeerde vering, breë bande en ’n wavrag vol elektroniese hulp. Jy sal nie glo jy ry in ’n veldwa wat swaarder as twee ton weeg nie.

In stadsverkeer:

Verstelbare stuurhulp help jou om skerper teen ’n lae snelheid om nou draaie te ry.

Op die langpad:

Dié groot voertuig kan vinnig ry – en dis louter plesier. Die V8 TDI is onbeskof vinnig, en die V6-petrol klink goed, maar kan raserig raak as jy erg voet in die hoek sit. Die V6 TDI gee ’n lekker kombinasie van krag en ekonomie. En die binnekant lyk soos ’n vlieënde sitkamer.

Ratwisseling:

So glad jy sal dit nie kan hoor nie. Maar as jy in ’n sportiewe bui is, kan jy dit self met die ratspane agter die stuurwiel wissel.

Werkverrigting:

Die V6 petrol (209 kW/350 Nm) en V6 TDI (176 kW/550 Nm) versnel albei van 0-100 km/h in 7,8 sekondes, terwyl die V8 TDI (250 kW/800 Nm) dit in 5,8 sekondes haal.

Remme:

Met 330 mm-skyfremme op die V6 en 360 mm-remme op die V8 en hibriede model, is daar meer as genoeg remkrag.

VAN DIE PAD AF | 3.5-ster

Dis wat jy alles kry:

Veldryvermoë hang af van die model. Die basiese 4Motion-stelsel is puik vir grondpaaie en hellings van tot 31 grade. Dit het ’n draaiknop waarmee jy ’n veldryprogram kies wat ratwisseling en remwerking aanpas volgens die omstandighede. Dit het ook afdraandebeheer.

Met die 4XMotion-stelsel wat jy kan bykoop, kan jy selfs steiler hellings baasraak en die laestrekratte sal jou oor hindernisse laat klouter.

Die kronkelveerstelsel is ook hoër om die vertrek- en naderingshoeke te verbeter. As jy lugvering kies, kan jy met ’n sluitbare middel- en agterewenaar ernstige hindernisse pak.

Hoe vaar hy op …

Grond:

Aktiveer eenvoudig die veldryverstelling en ry rustig voort. Die grondvryhoogte is goed en wringkrag word in ’n 60:40-verhouding na agter verdeel; jy kan jou dus verbeel jy is Sarel se kleinneef.

Sand:

Daar is oorgenoeg krag beskikbaar.

Rots:

Laestrek is jou vriend en die hoë kamera help jou om voor en aan die kante te sien.

Van Zylspas of nie?

Teoreties, ja. Maar jy het ’n noodwiel of twee nodig, omdat jy nie altyd 17 duim-bande in afgeleë plekke kan kry nie.

Grootste mededingers

Land Rover Discovery 4 3.0 TDV6 SE: R645 000, HSE R725 000

Toyota Land Cruiser Prado3.0 DT VX: R637 900

BMW X5 XDrive 30d: R657 500+

HOE PRAKTIES | 3-ster

Dít werk:

  • Die ontwerp binne is uitstekend. Alles voel bekend en is maklik om te gebruik.
  • Daar is meer pakplek, en meer plek vir passasiers.

Maar dít pla:

  • Die intreevlakmodel is basies. Jy betaal ekstra vir die lang lys van nuttige speelgoed.
  • Jy kan net die dieselmodelle gebruik naby plekke waar skoon diesel beskikbaar is. Dit beperk jou tot hoofpaaie en/of stede.

WAARDE VIR GELD | 2.5-ster

DIE SJOE!-FAKTOR | 4-ster

Ons hou van …

  1. Skerper lyne laat die Touareg heelwat beter lyk.
  2. Die agtspoed-ratkas is so glad jy weet nie eens wanneer dit oorskakel nie, veral die dieselmodelle s’n.
  3. Brandstofverbruik is beter en minder gasse word vrygestel; die belastingboete en rykoste sal dus laer wees.

Ja, maar …

  1. VW beperk die laestrek-opsie (4XMotion) tot die V6 turbodieselmodel.
  2. Daai amptelike brandstofsyfer sal nie so maklik bereik kan word met ’n oordragratkas, dubbeldoelbande en hoër vering nie.

WegRy sê:

’n Gesofistikeerde, veilige en aantreklike vernuwing van ’n beproefde resep wat ekonomies is en selfs goeie waarde vir geld bied. Volkswagen het bewys hy kan uitstekende rygoed bou, en die ingenieurs het hard gewerk om dié een te verbeter.

Oorspronklik gepubliseer in WR19 | Junie-Julie 2010

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM