Motors

n Amarok met meer perde

Volkswagen het pas die intreevlak-Amarok meer woema gegee. Jaco Kirsten vertel wat hy van die pakket dink.

VW Amarok 2.0 TDI Trendline 4Motion

​Toe Volkswagen 'n jaar of drie gelede die Amarok bekendgestel het, het die intreevlakmodel se 2.0 TDI-enjin 90kW en 340 Nm ontwikkel. Kraglewering is intussen opgestoot na 103kW, met die wringkrag onveranderd.

Ons het pas so 'n dubbelkajuit gekry om te toets, maar dis die kort weergawe. Die langer weergawe is dat ek 'n paar maande gelede genooi is om die uitdun van die Spirit of Africa-4×4-kompetisie in Limpopo by te woon en deel te neem aan 'n media-uitdaging.

Die lede van die wenspan sou elkeen twee maande lank die nuwe 2.0 TDI Amarok kry om te ry. Twee dinge het dit aanloklik gemaak: Een, ek is nogal 'n mededingende ou en twee, hier by WegRy kan ons altyd 'n bakkie gebruik om plekke te besoek. Om 'n lang storie dus kort te maak, daar staan nou 'n Amarok by die kantoor. (Vir die wat stadiger van begrip is, Jaco het 'n klomp ander motorjoernaliste uitgestof in 'n veldrykompetisie. Ramkat! - Red.)

Hoe lyk die intreevlakmodel?

Hoe onderskei jy die intreevlak-Amarok van sy duurder familielede? Eerstens is daar die 2.0 TDI-kenteken op sy stert. Die kragtiger 132kW-weergawes dra die BiTDI-modelnaam.

Die ander verskil is dat dit die sogenaamde Trendline-afwerking het teenoor die duurder Amaroks se Highline-afwerking. Afgesien van die 2.0 TDI se 16 duim-wiele (teenoor die 2.0 BiTDI se 17 duim-wiele) is die verskille buitelangs moeilik om raak te sien. Binnelangs is daar klein verskille soos die afwesigheid van elektroniese stabiliteitsbeheer (die 2.0 TDI het net vastrapbeheer), Isofix-hegpunte vir kindersitplekke en 'n paar lugsakke.

Soek jy verder, sien jy dat sy klankstelsel vier luidsprekers het in plaas van die BiTDI se ses, 'n meer elementêre lugversorger, minder leer en tapyte binnelangs asook geen getinte agterste ruite nie.

Hoeveel spaar jy nou eintlik?

Vir die prys van R418800 teenoor die BiTDI se R447500 bespaar jy R28700. Die enjin ontwikkel 103kW en 343Nm, teenoor die BiTDI se 132kW en 400Nm. Met ander woorde, jy het 29kW en 57Nm minder onder die enjinkap vir daai besparing van amper R29000, oftewel minder as 7%.

Die meeste mense finansier hulle rygoed. Dus is die vraag nie of die 2.0 TDI 'n goeie ryding is nie (wat hy sonder twyfel is), maar of die besparing teenoor die BiTDI die moeite werd is, veral as jy sy laer kraglewering in ag neem.

Kom ons vergelyk appels met appels. In dié geval, die Ford Ranger HP XLS 2.2 wat 110kW en 375Nm ontwikkel. Hy kos boonop R403700.

Anders gestel: Is die Amarok R15100 beter as die ooreenstemmende Ranger? Dit sal moeilik wees om 'n objektiewe waarnemer daarvan te probeer oortuig, of hoe?

Die troefkaart

Maar die Amarok het sy eie troefkaart of twee.

Hy gaan binnekort die langpad Namibië toe en terug aanpak en dan gaan sy brandstofverbruik waarskynlik die oë laat rek, want hierdie enjin is waarskynlik die mees ekonomiese van alle dubbelkajuite.

Dis 'n goeie bakkie wat saam met die Ranger die doelpale van waartoe bakkies in staat is, ver verskuif het: Dubbelkajuitbakkies is nie meer vragdraers met passasiersitplekke nie, maar werklike veeldoelvoertuie wat naweke en vakansies in die veld kan speel, maar in die week insittendes in die grootste gemak in die stad kan karwei.

Sleutelsyfers

Enjin: 1968cc, viersilinder-turbodiesel

Krag: 103kW @ 3500 r/min.

Wringkrag: 340Nm @

1600-2250 r/min.

Topsnelheid: 161km/h

0-100km/h: 13,7 sek.

Transmissie: sesgang handrat, deeltydse vierwielaandrywing, hoë- en laestrek, elektroniese vastrapbeheer, ewenaarslot

Vering: onafhanklik voor, vaste as met bladvere agter

Remme: skywe voor,

trommels agter

Bande: 245/70 R16

Grondvryhoogte: 192mm

Naderingshoek: 28º

Vertrekhoek: 23,6º

Dompeldiepte: 500mm

Gewig: 2820kg

Sleepvermoë: 3000kg (gerem)

Brandstoftenk: 80liter

Brandstofverbruik:

7,7 liter/100km

Diensinterval: 15000km

Waarborg; diensplan:

3 jaar/100000km;

5 jaar/90000km

Prys: R418800

Marinette Potgieter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM