Vloedwater, twee gebreekte polse, vermiste stappers, vallende rotse, stappers wat vasgekeer staan op 'n eiland met die malende Visrivier om hulle… Min het die eerste groepe van 2011 se Visriviercanyonstapseisoen geweet watter ontberings op hulle wag.
Selfs op 'n goeie dag is die Vis nie 'n staproete wat jy sonder handskoene (en deeglike voorbereiding) aanpak nie. Dié staproete van 90 km in die suide van Namibië begin by Hobas (waar jy sowat 500 m afklim tot onder in die canyon) en volg dan die loop van die Visrivier tot by Ai-Ais.
Daar is wel twee ontsnaproetes ('n gevaarlike klim teen byna loodregte kranse uit), maar as jy eers onder is, is daar eintlik net een pad uit - al die pad suid tot by Ai-Ais. Oor die jare het duisende stappers al sonder 'n skrapie daar aangekom, maar soms verloop dinge nie volgens plan nie. Veral nie as die sluise van damme hoër op oopgetrek word nie…
'n Paar lesers wat in die eerste week van Mei 2011 onder in die canyon was, vertel van hulle nagmerrie-ondervindings:


Hy het geweet sy eerste Visstaptog gaan taai wees, en hoewel hy taamlik fiks was en sy twee stapmaats ervare, kon niks Derek Stedall voorberei op wat op hom wag nie.
Die reën kletter onophoudelik op ons tweemantentjie. Ek en Jitske Kroukamp, my een stapmaat, lê doodstil tussen sopnat rugsakke en stapskoene, ore gespits vir 'n onheilspellende geluid - die gedruis van die rivier wat afkom.
Lizette Cloete, die derde lid van ons groepie, sit al heelnag regop van die pyn. Sy hou haar gebreekte pols vas soos 'n afvlerkduif. Die spalkie wat ons vroeër met 'n plastiekmessie en verbande eprakseer het, help nie veel nie.
Dit is ons vierde aand in die canyon. Ons is moeg, en dit is onafwendbaar dat die vloedwater van hoër op in die Visrivier ons een of ander tyd gaan inhaal. Maar presies wanneer, weet niemand nie.
Tot nou toe was die reën en moeilike rivierkruisings deel van die pret. Maar noudat die sluise van die Naute- én die Hardapdam oopgetrek is, is alle grappies op 'n stokkie.
Ons móét voor die water bly, en boonop moet Lizette dringend by 'n dokter uitkom.
As ek 'n paar dae vantevore geweet het wat ek nóú weet, het ons sweerlik nooit ons voete in die canyon gesit nie.
Sondag 1 Mei
Ons is eintlik veronderstel om môre te begin stap, maar die personeel by Hobas gee ons toestemming om 'n dag vroeër weg te spring. Op die middaguur begin ons in die canyon afklim. Ons is die tweede groep van die dag - 'n groep van nege Mosselbaaiers het 'n paar uur voor ons in die pad geval.
Die afgelope week of wat het ek (onsuksesvol) probeer uitvind of die roete met die baie reën en die rivier se buitengewoon hoë vlak wel begaanbaar sal wees. Dus het ek net ingeval 'n paar oorlewingsakke ingepak - daardie groot oranje sakke waarin jy jou rugsak en stapskoene kan toeknoop wanneer jy deur 'n rivier moet swem. Ons dra ook 'n tweemantentjie saam.
Tussen die twee van hulle het Lizette en Jitske die roete al tien keer gestap, maar vir my, 'n 60-jarige pensioentrekker met 'n skut om elke knie, is die 550m se klim tot onder 'n effense skok, en 'n voorsmaak van wat voorlê.
Op pad af stap ons verby twee Mosselbaaiers, Wessel de Lange en sy dogter Eliska. Dit lyk of Wessel sukkel teen die skuinste af, maar gelukkig het die res van sy groep sy rugsak solank afgedra. Dié stuk tot onder éét 'n man se knieë, en wanneer ons onder kom, stap ons skaars 'n paar honderd meter aan voordat ons besluit om ons kampmatrassies net daar onder die sterre oop te rol.
Maandag 2 Mei
Die reën maak ons vroegoggend wakker. Die Vis se eerste skof lê voor en ons kry koers. Dis byna die heeldag 'n nat, gladde geklouter in gietende reën, maar dis mos die soort pret waarvoor ons hier is.
Ná 14 km roep ons net voor Swawelbron halt vir die dag. Teen skemeraand klaar die reën op en baie optimisties rol ons weer die kampmatrassies onder die sterre oop. Maar dis nie lank nie of 'n gerammel en weerligstrale laat ons die tweemantentjie in 'n japtrap opslaan.
Kyk, wanneer drie mense kop-by-voet in 'n tweemantent moet inpas, is 'n salige nagrus nie jou voorland nie - altans nie vir my nie.
Jitske en Lizette sluimer gou in, maar ek lê die heelnag wakker op my een sy, te bang ek begin snork as ek aan die slaap raak.
Dinsdag 3 Mei
Met ligdag ontmoet ons nog 'n Mosselbaaier. Theunis Schutte kom stroomop verby om te gaan kyk waar Wessel en Eliska is. Hy wil hulle tot by die eerste ontsnaproete vergesel - naby Swawelbron, sowat 15 km van die beginpunt af - om hulle die res van die veeleisende stap te spaar. (Dit was egter nie einde van hulle ontbering nie - lees deel 2 hier onder
Toe Theunis later die dag weer verbykom, bring hy 'n onheilspellende tyding: Hy het 'n groep teëgekom wat gisteroggend begin stap het, en hulle het vertel die twee damme se sluise is oopgetrek omdat dit te vol is. En dié massa water gaan die staproete oor sowat 48 uur bereik…
Die vloedwater spook in my agterkop, maar dit demp nie ons goeie gees nie. Dis sonnig, en die dag se vier rivierkruisings is makliker as wat ons verwag het. Teen laatmiddag is ons by Tafelberg, sowat 25 km van die beginpunt af. Dié slag slaan ons sommer by voorbaat die tentjie op.
Die rivier se vlak is nou al merkbaar hoër weens die reën, en ons kan maar net wonder watter uitwerking die damme se water oor die volgende paar dae gaan hê.
Woensdag 4 Mei
Met die vloedwater in ons agterkop, stoot ons teen 'n vinniger pas aan om Bushy Corner (17 km verder) voor donker te haal. Die dag begin sommer met 'n rivierkruising, een van vele. Elke keer as ons moet skoene uittrek, rugsakke in oorlewingsakke toebind en deur die rivier stap of swem, kan ek nie help om te dink hoe tydrowend dit is nie. Hoe lank nog voor die vloedwaters ons gaan inhaal?
Teen dié tyd is ons oorlewingsakke al gehawend, maar ons kan darem die skeurplekkies met duct tape toeplak. Die Mosselbaaiers (sonder Wessel en Eliska) besluit om ook die aand by Bushy Corner halt te roep, en ons groepie hou verby sodat elke groep darem sy privaatheid het.
Ná die lang dag wil ons so gou as moontlik tot ruste kom, maar… Toe sy haar waterbottel wil volmaak, gly Lizette op die gladde klippe, val en breek haar pols. Asof die wedloop teen die vloedwater nie genoeg van 'n uitdaging is nie…
Ons spalk Lizette se pols so goed as wat ons kan, en net toe ons inkruip, sak die reën weer uit. Met 'n geskarrel (en vyf hande!) word die tentjie vir nog 'n ongerieflike nagrus opgeslaan.
Dinge lyk nie goed nie.
Donderdag 5 Mei
Toe ons ligdag uit die tent loer, ontdek ons ons tentjie is omring met water. Gelukkig is dit nog nie die vloedwater nie, maar stroompies reënwater wat van die canyonrand af vloei. Teen dié tyd is die koue en nat nie meer snaaks nie.
Die Mosselbaaiers is vroeg aan die gang, en ons besluit om saam te stap en mekaar by rivierkruisings - teen dié tyd veel sterker as die vorige dag - te help. Die groepe se bui is merkbaar meer gespanne as vroeër. Wat 'n opwindende stap was, het nou in 'n resies teen tyd ontaard.
My voete protesteer, en die nat sokkies en stewels sorg vir groot blase. Ek begin agter raak, en elke tree is nou 'n pyniging. Om tyd te wen en die dag se stap met 6 km te verkort vat ons die Kooigoed Heightskortpad oor 'n hoogtetjie by die Drie Susters.
Dis toe ek die veldwagters se 4x4-bakkie naby die Duitser se Graf sien, dat ek die erns van die situasie besef. Hier is gróót moeilikheid op pad as hulle die stappers al so ver van die eindpunt af uit die canyon kom haal.
Die twee veldwagters beduie ons moet nog een laaste keer oor die rivier kom sodat hulle ons uit die canyon kan help. Maar by die kruising wat hulle aandui, is 'n gevaarlike stroomversnelling en die Mosselbaaiers kry 'n veiliger plek, sowat 300 m stoomop. Teen dié tyd loop die Visrivier al 'n goeie 50m breed - die middelste 30 m is só diep dat ons dit noodgedwonge moet swem. Dit is senutergende oomblikke: Jy mik stroomop, maar spoel dan etlike meters stroomaf in die rigting van die versnelling.
Uiteindelik is almal ongedeerd deur die rivier, en ná 'n skotige klim teen die helling uit staan ons by die bakkie. Met nog sowat 35 km van die roete oor, kom ons Visrivierstaptog hier by lt. Thilo von Trotha se graf tot 'n vroeë einde. Maande se voorbereiding en afwagting is daarmee heen.
'n Paar van die Mosselbaaiers word Ai-Ais toe geneem om hulle voertuig te gaan haal en die res van ons te help aanry Hobas toe. By Hobas ontmoet ek 'n groep stappers wat net die vorige dag, nadat die sluise lankal oopgetrek is, in die canyon toegelaat is. Dié groep was net een aand in die canyon voordat hulle eerder weer uitgeklim het.
Ek is stomgeslaan. Hoe kon die amptenare stappers willens en wetens in die canyon toelaat? Is daar dan nie kommunikasie nie? 'n Bussie neem ons later Ai-Ais toe, waar 'n dokter wat toevallig daar met vakansie is, Lizette se pols versorg. Ek hinkepink met ons noodhulpstelletjie ablusieblok toe om my seer voete te gaan dokter.
'n Operasie is nodig op Lizette se pols, en ons val die volgende dag in die pad terug Suid-Afrika toe.
Veel later onthou ek alle stapgroepe moet by Hobas inteken en weer by Ai-Ais uitteken. Maar in al die harwar het ons skoon daarvan vergeet.
Ek wonder of soekgeselskappe ons nie ver stroomaf soek nie. Miskien moet ek Hobas 'n luitjie gee en sê ons is heelhuids terug by die huis. Of miskien nie.


Nadat hulle op Dinsdag 3 Mei by die eerste ontsnaproete aangekom het, het dinge nie klopdisselboom geloop vir Wessel en Eliska de Lange nie. Allermins.
Nadat hulle nog 'n dag in die canyon gekamp het, het Wessel en Eliska op Donderdag 5 Mei die ontsnaproete naby Swawelbron begin uitklim. Maar hulle het nie ver gekom nie. 'n Rots het losgebreek en op Wessel te lande gekom - sy skouer is uit potjie gestamp, en sy een arm is onder die rots vasgepen.
Eliska het so vinnig as moontlik uit die canyon geklim om hulp te ontbied. 'n Duitse toeris in 'n ryhuis het haar op die pad na Hobas teëgekom en opgelaai. Intussen het die eerste van die Mosselbaaiers wat in Ai-Ais aangekom het, ontdek Wessel - wat hulle die Dinsdag laas gesien het - het steeds nie opgedaag nie.
Terwyl hulle op pad was om die ander Mosselbaaiers en die ander voertuig by Hobas te kry, het hulle in die verbygaan toevallig vir Eliska in die ryhuis herken. Nadat Eliska hulle vertel het wat met haar pa gebeur het, is besluit om 'n helikopter te ontbied.
Dit was makliker gesê as gedaan. Terwyl die ander aanhou probeer het, is Theunis Schutte laat die middag teen die ontsnaproete af tot waar Wessel nog onder die rots vasgepen was. Theunis het 'n noodfakkel afgevuur om die ander op die borand te laat weet Wessel is stabiel. Hy het hom onder die rots uitgehelp, sy vergruisde pols verbind en hom kos, water en pynpille ingejaag. Die twee het begin uitklim totdat Wessel se toestand hulle vir eers gestuit het.
Die borand van die plato was nie meer ver nie en Theunis het besluit om in die donker uit te klim en die helikopterredding te keer - met eerste lig sou hulle vir Wessel te voet kon uithelp. Maar die ander op die borand het intussen aanvaar Theunis en Wessel gaan die nag op die ontsnaproete deurbring, en hulle het terug Ai-Ais toe gery.
Toe 'n uitgeputte Theunis uiteindelik bo kom, was daar g'n mens in sig nie. Al uitweg was dat hy - sonder water - die sowat 20 km tot by Hobas moet stap. By Hobas was die personeel al lankal huis toe, en die krag boonop af. Gelukkig was die ablusieblok nie gesluit nie, en Theunis het die nag in 'n bad vol warm water deurgebring.
Die volgende oggend is Wessel uiteindelik uit die canyon gekry. Hy en Eliska het dieselfde dag nog Mosselbaai toe vertrek, waar sy gebreekte pols geopereer is.


'n Groep stappers van Pretoria wat Dinsdag 3 Mei in die canyon afgeklim het, kon nie betyds voor die vloedwater uitkom nie. Drie van hulle was twee nagte op 'n eilandjie vasgekeer. Angelique Herremans, een van die drie, vertel.
Het julle geweet van die reën?
Ja, ons het so twee weke voor die staptog al gereeld begin navraag doen of die roete van 1 Mei af oopgestel sou word. Ons het ook die dag voor ons begin stap het, by Hobas én Ai-Ais navraag gedoen. In al twee gevalle is ons die versekering gegee dis veilig.
In die canyon self het die nat sand dit makliker gemaak om te stap, maar die rivierklippe was seepglad. Ons het dit alles maar as deel van die stap se uitdagings aanvaar.
Hoe is julle vasgekeer?
Weens die reënweer het ons groep stadig gevorder, en dit was gou duidelik dat ons nie die gewone vyf nie, maar wel sewe dae sou stap. Dit was Saterdag 7 Mei ons vierde stapdag in die canyon, en ek was saam met die voortou van ons groep naby Bushy Corner waar ons die rivier sou moes oorsteek.
Danie Pienaar het 'n goeie oorsteekplek gesoek, en 'n vertakking in die stroom met twee taamlik groot rots- en sandbanke in die middel, het die veiligste gelyk. Hoewel die stroom vinnig gevloei het, was die water net enkeldiep, en ek en Danie is eerste oor, met Michael Ellis kort op ons hakke.
Ons het skaars die sandbank in die middel gehaal toe die water eensklaps rondom ons begin styg. Ons wou dadelik terugdraai, maar die stroom was binne sekondes te sterk. Die watervlak het aanhou styg tot net onder ons knieë.
Van die sandbank het nog net 'n paar ronde klippe bo die oppervlak uitgesteek, en al die spinnekoppe en goggas wat uit die water wou ontsnap, het teen ons bene begin opklim.
Wat het julle toe gedoen?
Ons het ure lank in die water bly staan. Naderhand het ons van die klippe wat ons kon bykom, op mekaar gestapel sodat ons die twee rugsakke daarop kon neersit (myne het weggespoel). Ons het die hele Saterdagnag op die rugsakke gesit, met ons voete in die water. Die res van ons groep het op die wal bly wag, met die hoop dat die water sou sak.
Die volgende oggend was die stroom nog steeds te sterk om deur te swem. Genadiglik het die watervlak 'n bietjie gesak en daar was meer van die sandbank waarop ons kon rondbeweeg.
Wat het deur jou kop gegaan?
Ek was deurentyd kalm, en ons drie op ons eiland het baie gebid. Die paar dae op die klippe en sand was ongerieflik, en ek het deesdae nuwe waardering vir my bed en bad.
Hoe het julle daar afgekom?
Die Sondagoggend het die res van ons groep aangestap om by die tweede ontsnaproete uit te klim en hulp te ontbied.
Intussen het Danie en Michael 'n plek probeer soek waar ons kon deurkom tot op vaste grond, maar die stroom was nog steeds te sterk.
Laatmiddag het 'n paar manne aan die oostekant van die rivier opgedaag en dadelik probeer om met 'n kano tot op ons eiland te kom - sonder sukses.
Dus moes ons nog 'n nag op die eiland deurgebring. Teen dié tyd het ons al die bietjie peuselkos wat in die twee rugsakke oor was, streng gerantsoeneer.
Die volgende oggend kon die reddingspan ons met behulp van die kano, 'n tou en ure se inspanning uiteindelik met 'n hele paar heenen-weer-togte aan wal bring.













