Reis

33 Slim dinge wat 4x4-eienaars in 2017 kan doen

Dis weer daai tyd van die jaar wat jy ophou tob oor die dinge waarby jy nié in 2016 uitgekom het nie, en liewer fokus op die dinge wat jy gaan inpas in 2017. Die WegRy-span het 'n paar voorstelle in verskillende dele van die land.

1. Laat jou reismaat behoorlike 4x4-opleiding ondergaan

Het jy al ooit gewonder wat sal gebeur as jy tydens 'n reis beseer word en nie meer jou eie voertuig kan bestuur nie? Maak seker jy is nie die enigste een wat weet hoe en wanneer om die diff-lock te gebruik of hoe om veilig met enjinremming teen 'n steil afdraand af te ry nie.

2. Ontdek die Tankwa-Karoo

Geen besoek aan die Tankwa is volledig sonder om te kuier by Stonehenge, die eiendom waar die jaarlikse Afrika Burn-fees ook gehou word nie. Hier kan jy 'n yskoue bruisdrankie in die Tankwa-tentkamp se Onverklaar Bar geniet of gaan ontspan in die "Gene Pool", 'n plaasjacuzzi wat met vuur warm gemaak word. En op pad terug beskawing toe kan jy sommer ook by die beroemde Tankwa-padstal stilhou.

3. Geniet 'n 2M-bier en peri-peri-hoender in Inhassoro, Mosambiek

Sit agteroor en ontspan 'n bietjie op die stoep van Johnson's Beach Bar in dié Mosambiekse kusdorpie met 'n koue 2M-bier terwyl die ouens in die kombuis vir jou 'n heerlike peri-peri-flatty braai. Verkyk jou dan ook hoe die plaaslike inwoners groot visvangnette uit die blou see voor jou trek.

4. Ry Mariepskop uit

Daar is 'n steil pas (wat later 'n sementpad word) teen hierdie berg uit wat na 'n lugmag-radarstasie lei. Van bo af het jy 'n indrukwekkende (régtig) uitsig oor die laagliggende Hoedspruit- en Klaserie-dele verder ondertoe. Op pad soontoe kan jy ook stilhou by die Klaserie-waterval wat ook 'n piekniekplek het. Kry 'n permit vir Mariepskop by die kantoor (015 793 2581), ongeveer 21 km uit Klaserie op die pad na Mariepskop.

5. Bewys iemand 'n vooruitguns!

Het jy enige 4x4- of kampeertoerusting wat by die huis rondlê en in jou pad is? Hoekom gee jy dit nie weg vir iemand wat dit nodig het nie? Die Engelse praat van paying it forward. Met ander woorde, jy help iemand anders sónder dat jy iets in ruil daarvoor wil hê. Die eintlike beloning lê in die help van jou medemens.

6. Besoek 'n buurland - maar nie alles op een slag nie!

Een van die grootste foute wat mense maak is om, byvoorbeeld, 'n groot land soos Namibië sommer op een slag te wil sien. Dit maak nie sin nie, want nie net gaan jy daagliks verskriklike afstande moet aflê nie, jy gaan nie regtig die plek kan ervaar nie. Hoekom deel jy nie eerder die land op in minstens drie of vier verskillende reise nie en gee jouself twee of drie dae by lekker bestemmings soos Swakopmund? Boonop gaan jy ook jou familie se nuwe held wees.

7. Word 'n amateur-werktuigkundige

Kyk, ons gaan jou definitief nie aanraai om onnodig aan jou ryding te begin peuter nie, maar kan jy jou bakkie se brandstofstelsel bloei, die remblokke verander of 'n pap band toeprop? Dis maklik: Lees 'n bietjie jou ryding se eienaarshandleiding oor 'n bier, kyk bietjie YouTube-video's of vra 'n paar ou hande om die kampvuur. Jy kan ons later bedank.

8. Hou stil en vra aanwysings!

Raait, daar is tweede redes waarom hierdie 'n goeie idee is. Eerstens gaan jou vrou ophou om haar oë vir jou te rol. En tweedens gaan jy 'n kans kry om bietjie met die locals te praat. Want dit maak nie saak waar in die wêreld jy reis nie - die ervaring verbeter altyd as jy die moeite doen om oor ditjies en datjies met die mense te gesels. Laat jouself oop vir nuwe ervarings en sien hoeveel meer genot jy uit 'n reis put.

9. Wees 'n ambassadeur vir Suid-Africa

Jy ken die stereotipe: Groepe luidrugtige, besope en aanstootlike Suid-Afrikaners in ons buurlande. Kom ons elkeen maak seker dat ander lande geen rede het om ons met agterdog te bejeën nie. En as daar wel landgenote is wat die dam onder die eend uit pluk, rapporteer die walgworse se gedrag.

10. Doen 'n bietjie navorsing

Voordat jy op jou volgende reis vertrek, hoekom lees jy nie 'n bietjie op oor die plekke wat jy gaan besoek nie? Jy sal verbaas wees oor die fassinerende geskiedenis en 'n paar interessante plekke langs die pad ontdek. Want daar is min beter maniere om die hede te verstaan as om oor die verlede te leer.

11. Word 'n amateur-sterrekundige

Jy hoef nie 'n tweede Carl Sagan te probeer wees nie, maar dit kan nie skade doen as jy leer hoe die belangrikste konstellasies in ons sonnestelsel lyk nie. Jou vriende en familie sal "oe" en "aah" wanneer jy jou laser-pointer uitpluk en al die fassinerende dinge van die naghemel bo julle uitwys. Boonop is daar ook 'n swetterjoel apps vir jou slimfoon of tablet om jou daarmee te help en jou verveelde tieners mee te beïndruk.

12. Kyk hoe die maan oor die warmwaterbronne by Riemvasmaak opkom

Hierdie natuurlike warmwaterbronne, sowat 60 km buite Kakamas in die Noord-Kaap, is iets wat jy moet beleef wanneer jy weer in die omgewing is. Bly in die selfsorg-chalets naby die twee bronne, en kyk hoe die maan oor die maanlandskap opkom.

13. Besoek Namibië via die Sendelingsdrift-pont

Wanneer jy weer Namibië toe gaan, vermy die besige Vioolsdrifgrenspos en laat liewer jou wiele "op water loop" deur die Oranjerivier met die Sendelingsdrift-pont oor te steek. Maak dit deel van jou reis deur die ompad deur die Richtersveld-oorgrenspark te ry. Slaap 'n nag by die Sendelingsdrift-ruskamp oor voordat jy die volgende oggend Namibië met die pont binnegaan. Bespreek by www.sanparks.co.za.

14. Help iemand wat vassit

As jy dikwels afgeleë gebiede in jou 4x4 verken, is die kanse goed dat jy al herwin moes word. Of dalk het jy al gewonder wat sal gebeur as jy iewers vassit en niemand kom vir dae aaneen daar verby nie. Volgende keer as jy 'n 4x4-ryer in nood sien, sit bietjie hand by, ongeag of dit met 'n spaarwiel of die wenas is.

15. Oorwin Van Zylspas, wen die bokdrolspoegkompetisie

As jy nog nie oor Van Zylspas gery het nie, is dit iets wat op jou emmerskoplys vir 2017 moet wees. As jy 'n molshoop van dié berg gemaak het, sal dit vir jou voel of jy op die wolke loop. Daag jou medereisigers uit tot 'n bokdrolspoegkompetisie wanneer julle aan die ander kant kom.

16. Kyk teen sonsondergang hoe die olifante water drink in Chobe

Daar is niks lekkerders as om teen sonsondergang by 'n watergat in die bos te sit nie. As jy boonop kan sien hoe 'n trop olifante (soos dié wat jy in Chobe vind) in die water plas, het jy iets waarmee jy by jou vriende en familie kan spog wanneer jy by die huis is.

17. Doen 'n basiese noodhulpkursus voor jy op vakansie gaan

Soms het jy net 'n koppynpil en 'n pleister op vakansie nodig. Maar dit maak sin om jou voor te berei op erger noodgevalle deur 'n noodhulpkursus te volg. Dink net as dit die dag die lewe van 'n geliefde kan red. Noodhulpkursusse word landwyd aangebied - kyk uit vir een in jou omgewing.

18. Sien die wilde perde van Aus in Namibië

Wanneer jy weer oorblits na ons bure, ry Aus toe. Op die vlaktes van die Namib-woestyn sal jy die wilde perde in hulle natuurlike habitat aantref. Hou stil by die Garub-watergat (sowat 20 minute buite Aus), waar jy die woestyndiere vanaf 'n uitkykpunt kan dophou.

19. Hou bietjie spontaan vakansie

Volgende keer as jy weer op vakansie gaan, hou 'n paar nagte oop op die kalender. Dit sal jou dwing om vir daardie nag of twee spontaan verblyf te bespreek. Dit bring jou dalk uit op plekke wat jy andersins nie sou oorweeg nie.

20. Gaan op 'n selfrytoer deur die Knysna-bos

Baie jare lank het slegs stappers toegang tot die Knysna-bos gehad. Maar nou het Bhejane toestemming van Sanparke gekry om 4x4-uitstappies deur die bos aan te pak. Verken die wêreld van Dalene Matthee en kyk of jy die ontwykende Knysna-olifante kan opspoor. Bespreek by info@bhejane.com

21. Gaan skud blad by die bure op die staanplek langsaan

Kampeerders wat hulle musiek tot laat in die nag laat pomp of die Bosveld-stilte die hele nag met 'n kragopwekker versteur, maak 'n mens soms minder lief vir die mensdom. Maar voordat jy die bure op die staanplek langsaan veroordeel, gaan kuier en drink 'n drankie saam. Dis 'n wonderlike geleentheid om nuwe vriende te maak, te hoor watter diere hulle al gesien het en vakansiestories uit te ruil. Dit sal dit makliker maak as jy hulle later moet vra om dit 'n bietjie sagter te draai.

22. Braai iets nuuts

Tjops vir aandete. Koue tjops vir ontbyt. Klink dit bekend? Ons sal nóóit sê 'n tjoppie met sy vetjies net reg gebraai is sleg nie. Maar 2017 kan jou jaar van braai-avonture wees. Kampkos, 'n publikasie wat ons saam met ons "susters" Weg en WegSleep uitgegee het, is nou op die rak.

23. Ry Sanipas, voor dit heeltemal geteer is

Sanipas word vinniger geteer as wat jy laestrekratkas kan sê. Daar is nog 'n stuk grondpad, maar dit lyk vir ons die skrif is aan die muur vir een van Suider-Afrika se ikoniese grondpadpasse. Hierdie jaar is dalk jou laaste kans om hom van jou emmerskoplys af te kry.

24. Moenie lekkers vir die locals gooi nie

Ons wil nie prekerig klink nie, maar om hande vol lekkers uit jou toervoertuig vir kinders te gooi wanneer jy deur Afrika-dorpe toer, bevorder eintlik 'n bedelkultuur. En onthou, die naaste tandarts is dalk twee dae se stap vir party van daai kinders.

25. Klim 'n koppie. Enige koppie

Partykeer kan jou voete jou selfs verder as jou 4x4 neem. Trek 'n paar stapskoene aan en gaan klim 'n slag 'n koppie saam met jou familie. Dis 'n heel ander soort kontak met die natuur as om dit van agter die stuur te bekyk. En jy sal sommer 'n bietjie van gisteraand se tjoppies van jou "spaarband" afbrand.

26. Besoek 'n nuwe bestemming

Op 'n manier maak dit sin om elke jaar na dieselfde plekke te reis - jy weet waar om skoon diesel te koop en jy't nou al mooi uitgefigure waar kamp daai ou met die vier kwadfietse en die Duitse doef-doef musiek. Maar die wêreld is te groot daarvoor, man! Blaai deur verlede jaar se WegRy-tydskrifte of begin 'n vuurtjie op die forum vir reisidees. Soos die spreekwoord sê, daar's 'n ganse wêreld daar buite.

27. Doen die Bull Run!

'n Afgeleë pan diep in die Noord-Kaap. Opgeterte ou karre wat oor die woestynvlaktes jaag, met spanne soos Die Stander-gang, die Arm Biere en Die Loodgieters agter die stuur. 'n Winkelpop wat 'n stort vang op 'n ou Merc se kattebak. Een van vanjaar se deelnemers het dit só opgesom: "Dis soos Matrieknaweek, maar vir ouens met wiele!" So bespreek jou plek en kom laat jou hare hang. Láág hang.

28. Leer drie nuwe boomname

'n Bietjie kennis oor die bome in jou omgewing is baie soos 'n stukkie kennis oor die sterreruim - die wêreld om jou voel net 'n bietjie voller. En dit help jou dalk net om nie die verkeerde bessies te eet en heel vakansie vir die naaste boom te hol nie (waarvan jy boonop nie eens die naam sal ken nie!).

29. Bestuur 'n nuwe bakkie

Vat 'n paar Saterdae en gaan toetsbestuur 'n nuwe bakkie of twee. Selfs al wil jy nie nou dadelik een koop nie, sal dit jou 'n idee gee van wat beskikbaar is. En dis baie lekkerder as gras sny.

30. Diens jou toerusting

Wat's die diensdatum op daai brandblusser agter in jou Cruiser? Werk jou noodflits nog? Om jou toerusting na te gaan en te diens word mos dikwels uitgestel omdat dit net nooit vreeslik dringend voel nie. Tot die dag wat jou tent aan die brand slaan.

31. Leer hoe om herwinnings te doen

Party manne gebruik 'n kinetiese strop vir enige ding. Dis vinnig en maklik, maar dit sit 'n klomp stres op jou voertuig en dis gevaarlik. Dus moet dit eintlik jou laaste opsie wees. Doen 'n herwinningskursus en leer hoe om jou voertuig reg te herwin. En veilig ook.

32. Gaan kyk die sneeu

Sê dit nou êrens in 'n kroeg diep in die VSA en jy kry dalk 'n paar snaakse kyke, maar daar is eintlik talle plekke in Suider-Afrika waar jy sneeu kan gaan kyk in die winter. Kies koers vir Matroosberg in die Wes-Kaap, die Drakensberge in KZN of die Oos-Kaap, of besoek Lesotho vir foto's wat sal lyk of jy hulle in Switserland geneem het. Wel, amper.

33. Swem in die poele by The Gap, Swaziland

The Gap is een van Swaziland se versteekte juwele, waar die Komatierivier in 'n skeur in die aarde verdwyn en eers meters verder weer uitbruis. Rondom dié natuurwonder is 'n klomp kolkgate, waar jy veilig van die stroom in die rivier kan lê. En voor jy flou val van afwagting, hier's die koördinate: S26.084530 E31.305781.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM