Die Makgadikgadi was eens 'n groen oasis en dus ideaal hiervoor. Maar toe die streek mettertyd droër word, het die veeboere padgegee en al wat oorgebly het, was die jagterversamelaars, die San.
Dit lyk dalk onmoontlik om in dié dor gebied te oorleef - die woord Makgadikgadi verwys immers na 'n soutpan of groot dorsland. Al is hier min tekens van menslike bedrywighede, is hier tog bewyse dat die San dit wel reggekry het om hier 'n bestaan te maak.
Op die westelike grens van die Nxaipan-gebied sien 'n mens byvoorbeeld die sogenaamde Bushman Pits. Die San het dié putte naby 'n watergat gegrawe en daaruit die diere gejag wat kom drink het.
En as 'n mens fyn kyk, sien jy plek-plek in die Makgadikgadi oorblyfsels van klipgereedskap in die sand. Wees op die uitkyk vir donkerder klipfragmente wat nie soos die wit kalkreetklip van die gebied lyk nie - die kans is goed dat dit 'n stuk gereedskap is.
Maar los dit net daar! Dis 'n belangrike deel van die landskap se argeologiese geskiedenis en het baie groter waarde as op jou kaggel by die huis.
As jy egter 'n beter blik op die San-nalatenskap wil kry, mik eerder vir die Tsodilo-koppies in die noordwestelike hoekie van Botswana. Hier is van die beste voorbeelde van San-rotskuns - altesame meer as 4 000 tekeninge.
Hoewel die meeste van die San-mense vandag nie meer op die ou tradisionele manier leef nie, lewe hulle steeds na aan die aarde.












