Wat was jou grootste uitdagings?
Ek moes diep grawe om agter die kap van die byl te kom, siende dit 'n stuk geskiedenis is wat grotendeels vandag vergete is. Behalwe vir dr. Wim Myburgh se boek Woman at War is daar nie veel materiaal beskikbaar nie.
En om eerstehandse inligting by van die oorlewende familie van die vegtervroue te kry, was ook nie maklik nie. Vir foto's was baie van die radarstasies vanweë hulle afgeleë ligging moeilik om te bereik. Boonop is die meeste van hulle vervalle en deur vandale verniel.
Wat het jou verras?
Ek het jare lank op Pringlebaai gewoon en was salig onbewus van die stuk geskiedenis wat hier onder my neus afgespeel het. Ek was ook verbaas om te hoor dat die basisse waar die vroue werksaam was, net deur die Native Military Corps bewaak was - met tradisionele wapens in 'n wêreldoorlog omdat hulle nie toegelaat was om vuurwapens te dra nie!
Dit was vir my absurd én hartseer - net in Suid-Afrika!
Hoekom weet so min mense van dié deel van ons geskiedenis?
Die vroue se betrokkenheid is streng geheim gehou; dus was daar min amptelike dokumentasie en inligting daaroor beskikbaar, selfs ná die oorlog - om van byna 80 jaar later nie eens te praat nie.
Daar is ook 'n politieke aspek aan verbonde. Die land was tydens dié oorlog verdeel oor Suid-Afrika se ondersteuning van Brittanje. Afrikaner-nasionaliste was openlik daarteen gekant en het 'n paar jaar later aan bewind gekom.
Nadat dié bedeling dekades later deur demokrasie vervang is, is die betrokkenheid by die oorlog grootliks as 'n obskure koloniale onderneming beskou.
Wat het agter die skerms gebeur?
Ek skrik nie vir hoogtes of wind nie, maar by Kaappunt het die wind my byna van die hemelhoë kranse langs die Lighthouse Keeper's-voetpad afgewaai. Die ergste was 'n bebloede knie, geskaafde palms en 'n nuutgevonde respek vir die Suidooster.
Ek moes die skade met my buff probeer beredder (my laphoed het reeds met die uitklim uit die bakkie van my kop afgewaai) en het hom net so bemors weer oor my bleskop getrek. Ek het seker soos die arm man se Rambo gelyk toe ek weer by my motor kom.
Het enige van die plekke wat jy besoek het, skade gely in die destydse brande in Pringlebaai?
Die Hangklip Hotel het geringe skade aan van sy kamers en ablusie gehad, maar was teen druktyd fluks met herstelwerk besig. Die Hangklip-radarstasie is ongedeerd.
Waarheen is jou volgende reis?
Ek en my vrou, Leani, beplan 'n vakansie na Turkye. Dis 'n fassinerende land met 'n mengelmoes van kulture en 'n ryk geskiedenis, en boonop verbasend bekostigbaar.
Wat is altyd in jou reistas?
Oorpluisies en my eie kussing (ek raak 'n knorpot as ek nie ordentlik kan slaap nie), een van Leonard Cohen se digbundels en natuurlik my Nikon Z5-kamera.
Besoek jackritzinger.com vir nog van Jac se werk.








