Reis

Bly hier: Letsatsi-private wildreservaat

 ’n Laatmiddag-wildrit neem jou tot bo-op Platberg waar hierdie uitsig jou opnuut weer lief maak vir ons land. Toast Coetzer
’n Laatmiddag-wildrit neem jou tot bo-op Platberg waar hierdie uitsig jou opnuut weer lief maak vir ons land. Toast Coetzer

As jy daar tussen Trompsburg en Colesberg by Springfontein of Donkerpoort van die N1 af wegswenk, is die reservaat sowat 90 km van die snelweg af. En dit gee jou boonop 'n verskoning om by sy buurman, die Gariepdam, te gaan draai - dis 'n gesig wat 'n mens elke keer verras.

Letsatsi lê op 'n plato neffens die Caledonrivier. Dis 'n landskap van oop grasvlaktes en kliprantjies, en jy sien heelwat wild soos springbok, rooihartbees, gemsbok, swartwildebees, waterbok en sebra.

Die veldgids neem 'n mens tot by 'n uitkykpunt genaamd Platberg van waar jy kan sien hoe wildtroppe onder in die vlakte verbytrek en hierdie verste uithoekie van die Vrystaat se grondpaaie tot in die doerte uitrol. Dit maak dat jy sommer net nóg verder van jou beplande snelwegroete wil afwyk en dié agterpaaie gaan verken!

Die chalet waarin ek tuisgegaan het, het 'n uitsig oor die watergat voor die lodge se hoofgebou.

Die grasdakchalets is koel in die somer en snoesig in die winter. En ver genoeg uitmekaar dat jy nie soggens jou buurman se skeermes sal hoor loop nie.
Die grasdakchalets is koel in die somer en snoesig in die winter. En ver genoeg uitmekaar dat jy nie soggens jou buurman se skeermes sal hoor loop nie.

Hier is 'n en suite-dubbelkamer, nog 'n kamer met twee enkelbeddens, en ook 'n stoepie by die voordeur waar ek soggens met 'n koffie gesit het.

Die chalets is stapafstand van die lodge se hoofgebou met sy restaurant, kroeg (hulle wys op Saterdae die rugby) en swembad. Van die ander chalets het twee en suite-dubbelkamers met 'n sitkamer en 'n kombuishoekie.

Die grootste opsies het drie en suite-dubbelkamers, met 'n sitkamer en kombuisie.

Letsatsi het ook 'n groot boskamp wat in 'n ruie klofie staan, met 22 koepeltente (elk het twee enkelbeddens en 'n koffiestasie). Elke tent (hier's elektrisiteit) staan op sy eie platform en die kamp het gedeelde ablusiegeriewe, lapa en toegeruste kombuis.

Maar hier by Letsasti verkies die meeste gaste om by die restaurant aan te sit. Die kombuispersoneel mág maar kook en die buffet-ontbyt gaan jou deursien tot waar ook al jy daai aand jou skoene uitskop.

Van die restaurant af kan jy 'n ogie hou oor waar die kinders in die tuin of swembad speel.
Van die restaurant af kan jy 'n ogie hou oor waar die kinders in die tuin of swembad speel.

Waar? Die reservaat lê langs die R701, omtrent in die middel tussen Bethulie en Smithfield.

Kontak: 072 610 9390; 082 311 2201; letsatsigamelodge.com

Wat nog? Die emoe wat by die lodge rondloop se naam is Lucy. Sy's mak, maar hou liefs jou afstand - 'n mens weet nooit wat in daai klein koppie aangaan nie!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM