Bo die vlei hang 'n roofvoël soos 'n vlieër op een plek in die lug. Sonbesies se geskreeu sny deur die middaghitte en my selfoon voel klammerig teen my oor.
Aan die ander kant klink Glenda Kemp se vrolike lag op en my maag draai sommer.
Dis dié Glenda Kemp, wat in die apartheidsjare as ontkleedanser met 'n luislang om haar nek opgetree het. Genade, haar naam staan op 'n 30 Seconds-kaartjie!
Nou, in haar sewentigs, vertel sy my hoe sy en die einste slang in 1979 met 'n SAL-vlug op pad Londen toe was.
Op die Heathrow-lughawe het die slang tussen die ander passasiers se bagasie op die vervoerband verby gerondomtalie. "En daar's my slang toe!" gil Glenda in my oor.
"Darem nog in sy mandjie, maar die mandjie lê sommer onderstebo!" Ek verneem ook dat 'n slap limousine hulle daardie dag by die lughawe kom oplaai het.
Hier in die De Hoop-natuurreservaat is verkeer maar skaars. Hier loop nie eens teerpaaie nie. Op die Wild Fig-restaurant se stoep duur my en Glenda se gesprek voort. Maar wag, laat ek eers vertel hoekom ek haar gebel het…
Hier, naby die mees suidelike punt van Afrika, ken De Hoop net soutwinde en stilte. Die paar geboue op die eertydse plaaswerf, 'n bende bobbejane, 'n bontebok, 'n paar bewaringsgesindes en 'n handjie vol toeriste is nog steeds nie genoeg van 'n rumoer om die gevoel van afsondering te verdryf nie.
Ek het twee jaar gelede die reservaat se gewilde vyf dae lange Walvisroete kom stap.
Soggens het ons kaalvoet oor die rotse 'n pad see toe gevind vir 'n swem in die ysige branders. Ek onthou ook die uitgespoelde papierdun nautilusskulpe.
En nóg 'n herinnering is in my geheue ingeprent: Hoe 'n mens van Potberg af deur fynbos vol proteas afstap na die klein baaitjie genaamd Noetsie. Die aand het ons om die braaivuur buite die hut ons G&T-glase op die volmaan geklink.
Tóé was ek nog salig onbewus van die feit dat wetenskaplikes al sedert 2010 met opgrawings in 'n grot skaars enkele meter daarvan besig is en inderwaarheid op van die mensdom se oudste geheime afgekom het.
Vandag is ek hier by De Hoop as deel van 'n mediabekendstelling vir Origins of Early Southern Sapiens Behaviour, 'n uitstalling oor die mens se verre verlede saamgestel uit 'n mengsel (ironies) futuristiese media-elemente, binne 'n ou plaashuis.
Politici, wetenskaplikes en diplomate het reeds in stofwolke stilgehou. Besoekers sluit in die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, asook 'n Russiese filmspan en 'n aantal Overbergse burgemeesters.
Ons almal staan ingedruk in die afgewitte gebou met 'n lae rietdak, reg vir die spreekwoordelike lint om geknip te word. Van agter 'n mikrofoon verwys De Hoop se bestuurder, Hendrik Arendse, heel aandoenlik na die geleentheid as "ons groot dag".
Volgende aan die beurt is die argeologieprofessor Christopher Henshilwood wat voortborduur oor hoe die op-grawings in drie verskillende grotte aan dié stukkie van die kus - insluitend die een by Noetsie en die wêreldberoemde Blombos-grot naby Stilbaai - verloop het.
Sy oë blink skoon toe hy verklaar: "Terreine soos dié is so skaars soos hoendertande!" Die filmmaker Craig Foster (van My Octopus Teacher-faam) is die afgelope 15 jaar al medekurator van hierdie uitstalling.
Hy bestempel dit as die beste verhaal ooit - 'n tydmasjien wat ons terugvoer die verlede in. "Dis 'n sameloop van wetenskap, inheemse kennis, rolprentvervaardiging en kuns."
Binne die uitstalruimte hang 'n skemerte terwyl 'n projektor woorde en beelde van 'n gebed aan die voorvaders teen 'n massiewe epoksiharsreplika an 'n mensekop kaats. Skerms teen die mure vertel ontstaansverhale.
In een van hulle is Zolani Mahola (die voormalige voorsanger van die groep Freshlyground) met paddavoete aan't snorkel. Sy vertel dat sy in die seewater nader voel aan haar isiXhosa-herkoms.
Op glasrakke lê beendere, gladde klippe en gepoetste stukke metaal uitgestal.
Ek pols De Hoop se hoofgids, Dyllon Visagie, oor sy gunsteling-deel van die uitstalling en hy lei my tot voor 'n skerm wat stukkies been en perlemoenskulpe vertoon.
"Dis baie cool," sê hy, "dis die oorblyfsels van 'n slang se gebeendere, 'n slang wat destyds aan Glenda Kemp behoort het."
Kort daarna spoor ek Glenda se kontakbesonderhede op die internet op en skakel die nommer. Tot my verbasing antwoord sy in borrelende Afrikaans.
En dís hoe dit gekom het dat ek nou op en af oor die restaurant se stoep loop terwyl Glenda staaltjies van haar troetelluislange oor die dekades deel. Ek vertel haar van die slanggeraamte by De Hoop.
"Dit mag dalk een van myne s'n wees," sê sy laggend. Daar was oor die jare glo verskeie slange, 'n Duitser het hulle altyd vir haar in die hande gekry.
Daardie aand slaap ek in die Melkkamer-herehuis wat 'n mens per bootjie oor die vlei bereik. Uit my hemelbed hou ek spatsels sterre en wit lig deur die groot skuifraamvensters dop, 'n herinnering aan die krulkolke deur Van Gogh.
En die Suiderkruis, op haar sy gekantel - soos dit hoort.
En ek dink: dankie tog die wetenskap laat steeds ruimte vir geheime en gedigte, en toor-oomblikke.
Die Origins of Early Southern Sapiens Behaviour-uitstalling het in Januarie 2024 geopen en sal vir die volgende drie jaar in die De Hoop-natuurreservaat te siene wees. Kyk by dehoopcollection.com vir verblyfopsies.






