Die gloed van die sakkende son baai die boetiekhotel La Petite Ferme in goud. Die hoteltuin is vol papawers en vlamoranje waspypies; uitgelê tussen wingerde aan die voet van die Middagkransberg. Ek en my reisgenoot lê terug in dekstoele, voete in die lug, op die stoepie van ons suite.
Tussen my tone deur sien ek die Franschhoek-vallei wegval, verby rye dennebome en witgekalkte plaasopstalle. Die dorp met sy hoofstraat vol bougainvilleas, erfenisgeboue, kunsgalerye en restaurantjies waar swartborde disse soos stadiggeroosterde eend bedien met gebraaide kruie as special van die dag verkondig, lê net-net buite sig.
Die sonsondergang se wange blos vir oulaas rooi, en in die naderkruipende skemer skrou poue - in skrille kontras met die vreedsame toneel voor ons. Die laaste lig dans soos kwashale oor die landskap, en ek verbeel my vir 'n oomblik ons sit in 'n skildery van Claude Monet.
Gepraat van my tone - dié is tam getrap (en vol blase!) omdat ons vroeër die dag Dutoitskop in die nabygeleë Mont Rochelle-reservaat uitgeklim het. Dit was 'n stywe stap van vyf ure op en af, die voetpad wat plek-plek geswenk het deur heuphoogte fynbos, dan weer weggedaal het in die skadu's van 'n diepkloof.
By die baken bo-op die berg het ons peuselhappies uitgehaal terwyl ons sit en uitkyk na verre Tafelberg, wes van hier, en 'n trop bobbejane wat 'n entjie van ons verby karwei, sommige met kleintjies op die rug.
Daar was ook 'n paar endemiese Kaapse berglysters, die mannetjie met sy okerkleurige bors en die wyfie s'n baksteen-oranje. 'n Jangroentjie - die smaraggroen mannetjie - het op skouerhoogte verbygevlieg, draaiend op sy langstert soos 'n danser.
Puurblou blousuurkanolle het in die fynbos geflikker, met knikkende wit varkore wat met hulle voetknolle (kos vir ystervarke!) geanker staan in die meer moerassige dele.
Hier op die stoep sit ek nou met 'n dunsteelwynglas tussen die vingers terwyl die aand aanmeld met die eerste sterre en Venus. Iets ruik onmiskenbaar na kaneel. Dis die kaneel-aandblom (Gladiolus liliaceus - ook genoem ribbokblom, grootbruinafrikaner of aandpypie) wat teen skemer sy blom oopmaak om bestuiwers met soet parfuum te lok.
Ek en my vriend laat die natuur om haar gang te gaan, en stap oor na die hotel se restaurant. 'n Tafel met 'n gestyfde doek wag vir ons langs die houtstoof, en ons driegangmaaltyd ontvou: volstruisvleis met 'n heuning-en-granaatjus, daarna Kaap-Maleise seekoskerrie, en meer.
My gunsteling is die voorgereg, 'n doodeenvoudig maar perfekte forelterrien - lig en romerig, rýk - 'n klassieke Franse dis, maar met 'n Maleise twist: Dit word voorgesit in 'n kokosneutsop en kerrieblaarolie,en bedien met sesamsaadslaai en 'n dun sny verbrande roosterbrood.
Lance Peters, die sjef, het by ons tafel die geheim van sy resep kom deel: "Die forel lê eers vir ses ure in suurlemoensap en sout, wat dit‘gaarmaak' sonder dat dit naby enige hitte hoef te kom," sê hy, en beduie met 'n getatoeëerde voorarm ('n groot roos).
Hierna word die vis afgespoel, fyngemaak en gemeng met roomkaas, nóg suurlemoensap en sitroengras voordat dit gestol word. Et voilà. Of sommer: "Daars'y, nou!"
La Petite Ferme se wynmaker, Wikus Pretorius, het vir ons die landgoed se gewilde Baboon Rock Grenache Noir 2021 kom skink.
Op die etiket pryk 'n oulike skets van 'n bobbejaan want, só verduidelik Wikus, 'n span bobbejane het in 2012 die chardonnay-oes kom plunder.
Sedertdien is die strydbyl tussen mens en dier begrawe, en die bewaringsorganisasie Baboon Matters help om te sorg dat daar in harmonie met die natuur geleef word.
‘... in die naderkruipende skemer skrou poue - in skrille kontras met die vreedsame toneel voor ons. Die laaste lig dans soos kwashale oor die landskap, en ek verbeel my vir 'n oomblik ons sit in 'n skildery van Claude Monet.'
Lank gelede was dit véél wilder hier. In die hotel se sitkamer blaai ek later deur 'n boek getiteld The Huguenot Heritage waarin vertel word dat die Franse Hugenote leeus, hiënas en selfs olifante hier aangetref het met hulle aankoms in die laat 17de eeu.
Die vallei was toe nog bekend as Olifantshoek,maar sou later die bynaam Le Coin Français ("die Franse hoek") kry.
Terug in ons hotelkamer stap ek weer uit op die stoep. Dis stil, die poue het gaan slaap, en die nag ruik nie meer na kaneel nie. Donkerte lê diep en dralend oor alles, die aarde skuins en dromend op sy as.










