Reis

“My poets het geboemerang!” Grap oor leeu se gebrul lok toe régte maanhaar...

Die oewer van die Jozinidam is waarskynlik een van die indrukwekkendste plekke om te kamp. Die geriewe is nou nie watwonders nie, maar 'n mens voel regtig asof jy ín die wildernis is.

Dis 'n ongerepte uithoek van KwaZulu-Natal dié. Die dam lê binne die Phongolo-natuurreservaat, een van die oudstes in die land wat nog deur Paul Kruger verklaar is.

In 2014 is 'n klomp van ons soontoe om soos gewoonlik te gaan tiervis vang, maar dié knewels is nie die enigste wilde diere om mee rekening te hou nie; vier van die Groot Vyf loop in Phongolo rond.

Die enigste waarvoor 'n mens nie op die uitkyk hoef te wees nie, is leeus. Op 'n vorige besoek het ons 'n luiperd teëgekom wat rondom die kampplek rondsluip.

'n Ander keer het ons weer naby twee duttende witrenosters kamp gemaak. Jy kon ook staatmaak op olifante en buffels wat kom gesig wys. Seekoeie tel nie onder die Groot Vyf nie, maar dié monsters kan net so wel!

Dis lewensgevaarlik as jy tussen só 'n dier en die water waarby hy wil uitkom, beland en ons het menige "ontmoeting" by Jozini gehad.

As jy al ooit 'n seekoei in die donkernag hoor nurk het, weet jy hoe onheilspellend die nabyheid van hierdie diere kan wees - veral as jy in 'n klein tentjie lê en probeer uitpluis hoe ver (of hoe naby!) daardie klank is.

Maar 'n leeu se gebrul is waarskynlik dié klank in die veld wat 'n mens se nekhare die vinnigste laat rys. Met 'n seekoei weet jy jy's taamlik veilig, mits jy uit die ou se pad uit bly.

Met 'n leeu is dit egter nie die geval nie. Leeus is nie vegetaries nie…

Ek hou nogal daarvan om poetse te bak. Tydens dié trippie Jozini toe het ek 'n CD getiteld Animal Calls from Africa saamgeneem - een van daai aandenkings wat jy tipies in 'n curiowinkel aantref.

Daar was sestien snitte op die skyf - van die roep van 'n visarend tot die gelag van 'n hiëna. Maar die leeu se gebrul sou my geheime wapen wees, het ek vooraf besluit.

Een aand ná ete sluip ek toe van die kampvuur af weg na my Hilux toe. Ek draai die bakkie se ruite af, glip die CD in die speler en speel daardie leeusnit lekker hárd.

Ai, ek wens jy kon die ouens om die vuur se reaksie sien! Eers het net een dit gehoor en die res dadelik stilgemaak. Toe die leeu weer so 'n bulk diep uit sy borskas stoot, het almal ongemaklik begin rondkyk.

Ek wou nie my hand oorspeel nie en het ongemerk teruggesluip na my kampstoel toe. "Jis, julle gaan nou seker dink ek is mal, maar ek kon swéér ek het nou net op pad terug van die badkamer af 'n leeu hoor brul," laat ek ewe onskuldig val.

Die manne begin sonder 'n woord na hulle tente verdwyn. Naderhand is daar nog net drie van ons om die vuur - ek, my broer en 'n vriend. Tóe kon ek my geheim nie meer hou nie, en moes met die hele sak patats vorendag kom!

Die ander twee se verligting was enorm, en ons het sommer nog 'n paar houtjies op die vuur gepak vir 'n laaste lekseltjie koffie voor slapenstyd. Elkeen was met sy eie gedagtes besig toe ons dit skielik hoor: 'n leeu wat brul!

My hartklop het die hoogte in geskiet. Ek het voor my siel geweet dat dit hierdie keer nie die CD kan wees nie! Daar's dit weer - een enkele leeu. Sommer net hiér!

Dalk het hy ook vroeër die gebrul uit die bakkie gehoor en kom kyk wie nou hier in sy gebied ronddwaal… Of was daar dalk nog 'n poetsbakker in die reservaat?

Met die koffiewater vergete is ons soos blits in ons tente in. Dit was maar 'n onrustige nag, en toe die boot ons die volgende oggend kom oplaai om te gaan tiervis vang, vra ek die skipper onderlangs uit.

Nee, verseker hy my, daar is nie leeus in Phongolo nie. Maar daar het glo net die ander dag 'n mannetjie uit 'n aangrensende reservaat in eSwatini ontsnap en die veldwagters kon hom nog nie vind nie…!

‘Toe die leeu weer so 'n diep bulk uit sy borskas stoot, het almal ongemaklik begin rondkyk. Ek wou nie my hand oorspeel nie en het ongemerk teruggesluip na my kampstoel toe.'

Grant van der Walt