Ek stop gereeld by plekke in die middel van nêrens waar ek kan sien dat mense lank vir 'n geleentheid gesit en wag het. In dele van ons land waar mooi bome staan, sal só 'n wagplek altyd onder 'n boom wees.
Maar in sommige streke is daar nie skadubome nie. Dan wag die ryloper maar by 'n padbord, wat darem op 'n sekere uur skaduwee bied. By sulke padborde talm ek dikwels, want ek weet ook dat wagtende rylopers verveeld raak en dan goed op die borde skryf.
Dis gewoonlik net 'n naam, of so en so wat lief is vir so en so. Soms 'n vloekwoord in hoofletters. In Juniemaand laasjaar ry ek van Onseepkans die Boesmanland in. Dis 'n sinkplaatpad wat jou afgelope dekade se tandartswerk goed gaan beproef.
Sowat 7 km suid van Onseepkans vang my oog 'n vaal, verbleikte padbord wat sê dat Springbok, Pofadder en Bitterfontein reguit verder lê, en Kakamas na links.
Die bord is vól gekrap met allerhande geskrifte, tot so hoog as wat mense kan bykom, en ek trek af. Nou kan ek die kant van die bord sien wat terugwys in die rigting waarvandaan ek kom: "Suidwes-Afrika" staan daar! 'n Nuwer bord is wel ook opgerig wat darem "Namibië" sê.
Dalk het die afdelingsraad se ouens hier aangekom met die nuwe bord en besef dat die ou bord meer as net 'n bord is - dis 'n boek. Want hier is soveel name en boodskappe uitgekrap dat die ou bord wraggies lyk soos 'n handgeskrewe dubbelblad uit 'n koerant.
Of in moderne terme: 'n Facebook wall. Ek stap nader en begin dié stofpadhiërogliewe lees. Reeds die eerste een tref my tussen die oë: "Amigo was here to follow the living of suffering - 16 Oct 2022". Amigo se boodskap is duidelik: Ek loop die hardepad.
Daarnaas: "Paulus ‘Mighty D' was hier op pad na die Goudstad (Gauteng) op soek na vrede en geld vir sy gemoeds-rus. Remember me!" Ek wonder hoe dit met Paulus in die Goudstad gegaan het?
Wanneer jy sewe kilometer uit Onseepkans tot hier gestap het, het jy seker lankal op 'n eindbestemming besluit. Gaan jy oos draai na Kakamas of Upington, of al die pad Johannesburg toe deurdruk? Of gaan jy - sodra jy die N14 verder bereik - jou hoop in die weste setel, in Springbok of dalk Port Nolloth, of groter mik en Kaapstad kies?
Jaco was hier, Anker was hier, Dancing Shoes ook, en Bernadine is lief vir Shakes en Beranice weer vir Jaya. "Waentjie love Cynthia Miller van Keimoes" - daarnaas het iemand iets leliks bygeskryf. Mr Xhoebenzee was op pad Mas toe - Kakamas. Die meeste mense gaan net Mas toe.
Ding Dong was hier op 10 Mei 1991 "na Upington vir 'n hofsaak". Upington word soms "Uptize" genoem - plaaslike slang. Iemand was wraggies op pad Durban toe; 'n ander bloot na nabye Pella. Sommige is meer kripties: "Stroller was hier op pad". Quinton, Khoi, Chips, Dapman, Wolla, Bloodstone, Elvis, Storm, Bisto en Spanner - hulle was almal hier. Milla, Albertus (wat homself soms Alie noem), Nombes en Bra Sticco was regulars.
Ook ene B'land was dikwels hier. Eenslag skryf hy: "B'land was hier op pad na sy meisie in Pofadder. My oë is vol trane en ek verlang na my meisie". "Rampoker" het sy naam in 'n hartjie geskryf, alleen. Daar is ligte dreigemente: "Lourens van Upington en Gabriël was hier - Pasop, ons kom weer". Onseepkans (soms afgekort as "O.S.K.") se wagtendes het verbasend persoonlike dinge op dié opelugboodskapbord gedeel.
"Christo van Wyk is op pad, op soek na die meisie van sy drome". Daarna is 'n paar woorde uitgekrap, asof die planne later verander het. Elders staan daar bloot "Don't forget Christo" en ek wonder of dit dieselfde Christo is? "Lovey don't worry" het iemand sonder 'n naam by geskryf.
Dis asof dié persoon (ek raai dit is 'n man) geweet het sy vrou gaan hom soek, en hier teen die bord vir 'n boodskap sal kom kyk. En hier is dit, in 'n handskrif wat sy sou herken: Moenie kommer nie.
"Morolla was ook hier honger en dors op pad na Kaapstad op soek na ware liefde". Dit is asof "ware liefde" later almal se droom geword het. Asof hulle mekaar se droom afgekyk het, soos 'n antwoord in 'n eksamen.
In die jaar 2000 het ene Manaka, ook bekend as Menchin, sy boodskap vir die nuwe millennium hier verewig: "Let us give, let us forget".
Met hierdie woorde in my hart ry ek verder. Ek gaan nou-nou tenk volmaak op Pofadder, en dan deurdruk na Verneukpan. Kom ons gee, kom ons vergeet.
‘Quinton, Khoi, Chips, Dapman, Wolla, Bloodstone, Elvis, Storm, Bisto en Spanner - hulle was almal hier.'








