Reis

Brief uit: Windhoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

My hart is seer. Dit voel asof ek 'n dringende hart-oorplanting sonder enige verdowing of narkose ondergaan het.

Verlede week kom ek ouder gewoonte ná 'n lang dag by my woonstel aan. My voorkop is klam soos nat biltong en my enkels wankel onder my XL-lyf. Ek is moeg.

Ek het verskeie rituele wat op dae soos dié in werking tree. 'n Soort doenlys wat ek afmerk - die proses help my om van die dag se stres ontslae te raak. Ek skakel gewoonlik eers die ketel aan en maak die agterdeur oop.

Dan skakel ek agtergrondmusiek aan (so 'n bietjie David Gray, dalk...) en soek iewers 'n wierookstokkie om aan te steek - net vir 'n tikkie atmosfeer. Dan raak ek rustig, tensy daar ook toevallig 'n bottel whisky in die kas wegkruip - dan kan "rustig" skielik ontaard in iets anders... Maar gewoonlik is dit bloot koffietyd.

Koffie in die hand gaan sit ek buite op die stoep en wonder dan of ek lus is vir aandete kook. Of jy nou kosmaak vir 'n kinderkrans of net vir jouself - dit bly ewe veel moeite. Al hierdie soort dinge lei my aandag af van my probleme.

...verlede Woensdag, toe ek my woonstel instap, het iets dadelik anders gevoel.

Nou kyk, dié stoep is my stukkie hemel in die stad. My agterplaas is nie groot genoeg vir 'n toutrek-kampioenskapsbyeenkoms nie, maar ek kan tussen vyf en tien gaste gemaklik inpas. Wat dit egter lekker maak, is al die groot bome wat net agter my erf staan - hulle lang ledemate hang oor die heining en laat die erf knus en beskut voel.

Dis 'n ongewone versameling - twee enorme bougainvilleas, een denneboom en 'n witgatboom - maar hulle bied toevlug vir duiwe, vinke en spreeus. Elke keer as ek op die stoep sit en met my ma oor die foon praat, sê sy sy hoor hoe mooi die voëltjies sing. Paradysagtig.

Dié agterplaas is deel van my lewe in Windhoek. Ek weet nie eens hoe die ander woonstelle lyk nie. Ek weet nie wat agter my woud aangaan nie.

Maar verlede Woensdag, toe ek my woonstel instap, het iets dadelik anders gevoel. Ek stap eers direk skelmkas toe, maak hom oop en sien die bottel genotsop is klaar. Draai om, terug kombuis toe. Skakel die ketel aan. Dit was 'n woesste dag en ek is reg vir 'n espresso wat my asem wegslaan en my mondhoeke uitdroog.

Maar iets is nie lekker nie. Dit wat ek elke dag ervaar en waarneem, is nie dieselfde nie. Eers kom ek nie agter wat skort nie. Sit my leesbril op. Niks verander nie. Ek voel my voorkop met die agterkant van my hand - ek val deesdae mos so flou. Nee wat, my temperatuur voel heel oukei. Jy kan wel 'n eier op my voorkop bak, maar ook dit was al erger.

Ja, elke liewe boom, met sy voëltjies en hulle nessies - en my herinneringe - is daarmee heen!

Terug in die kombuis gooi ek die plunger vol moer en daarna die kookwater by. Nadat my koffie gemaak is, draai ek links verby die gastebadkamer, langs die eetkamerstel verby tot by die stoep se deure.

Toe tref dit my. In daai oomblik is ek naar, soos iemand wat dit by 'n seekosbuffet oordoen het. 'n Steekpyn skiet deur my hart. Dit voel asof 500 jaglampe direk in my oë skyn toe ek na buite stap.

Ek wil dit nie sien nie. Ek is hopeloos te swak vir dié. Iemand het besluit dis nou dit. Ja, elke liewe boom, met sy voëltjies en hulle nessies - en my herinneringe - is daarmee heen! Dit lyk soos 'n kaal skilderdoek. Daar's niks. Nie 'n enkele tak of bossie oor nie.

Ek is só onkant gevang dat die koffiebeker halfmas hang en Italiaanse goud oor my voete uitloop.

Ek begin saggies vra dat iemand nie hierdie soort grap met my moet maak nie. Maar die bome is weg, en daarmee saam - so het dit gevoel - my hele wese. Hierna sou als anders voel. Die vreugde wat ek elke dag daar op my stoep ervaar het, was in sy maai.

Dit voel deesdae asof ek voortdurend dopgehou word. Dis nou twee weke later en ek sukkel steeds. My hart is seer, maar hy bloei nog meer vir die bome. Hoe seer moes dit vir hulle wees?

Hierdie artikel het oorspronklik in Augustus 2019 verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.

Lloyd Zandberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM