Reis

Daar in Nieudwíl se wêreld

Foto's Shelley Christians

Hy bly rondskuif en omkyk, soos een wat wonder of hy nie dalk die afdraai gemis het nie. Maar op hiérdie stuk aarde weet oom Tienkie presies waar hy is. Hy's op die uitkyk vir veldblomme. "

Hierso regs van ons staan die pers aandblom, Hesperantha Pauciflora - sommer sulke pláte. Maar nou's dit bewolk, hulle gaan nie vandag oopmaak nie," beduie hy. "Maar wat ek jou nou eintlik wil wys... wag, hou hierlangs."

Ons swenk in die rigting van die platorand, met die hoop om die Sparaxis tricolor, oftewel, die fluweeltjie, iewers te sien. "Hyt drié kleure, dié blommetjie. Maar hy's báie seldsaam." Oom Tienkie ken hierdie wêreld, hy's die sesde geslag Kotzé wat op Willemsrivier met Döhne-Merinos boer. Dis hoeka nou skeertyd, maar die wol is nog te nat ná laasnag se dou. Gelukkig is dit ook blomtyd, en in hierdie kolletjie noordwes van Nieuwoudtville groei sowat tagtig spesies wat jy nêrens anders kry nie - veral bolplante.

Sommer so in die ry eien oom Tienkie nog 'n paar spesies: "Satynblom - Romulea amoena. Hy's 'n mannetjie wat baie vol nonsens is, blom ook maar net so 'n week, tien dae. Hierdie fyn blouetjies... ons noem hulle sommer bokhorinkies. En daar agter staan baie van die wit aandblomme, Hesperantha cucullata. Maar hulle maak eers namiddag vieruur oop."

Ons ry oor een van sy ander eiendomme, Ouplaas. "Sy kaartnaam is Bokkefontein. Toe ek in 1955 kom boer het, het hier ses gesinne gebly. En kyk nou, almal dood of weg." Die ontvolking van die platteland is vir hom 'n hartseer ding. 'n Bakkie kom van voor af, oom Tienkie lig sy hand in 'n groet. "Oujongkêrel daai," sê hy betekenisvol. "En hy's rýk!"

Ek kan aanvoel hy wag op 'n reaksie, maar gelukkig vang 'n kol witkatsterte sy oog. Ons hou stil en stap tussen die wit klosse in. Die oom raak liefderik aan 'n blomsteel hier voor sy Grashoppers se punte en verduidelik dan soos 'n boere-Attenborough: "Ons praat mos hier in die Bokveld van die ‘dirke', en hier staan drie soorte. Dís die witdrik, hy groei op renosterbosgrond. En dan kry jy die gele, en 'n rooie - daar by die klipkoppe, op dolorietgrond."

Dit is mos wat gebeur met die dinge wat ons liefhet - ons gee vir hulle bynaampies. Soos Tienkie. Sy ouma Mieta het kleintyd vir Theunis Nicolaas só beginne noem. Terug in die bakkie is hy eers 'n tyd lank stil. "Wee' jy, daai ouma van my... Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Kakies hier aangekom en die Kotzés se klomp koring uit die meulhuis gedra en brandgesteek. Hulle los toe twee soldaatjies om te kyk dat alles uitbrand terwyl die kommando verder ry. Maar toe die res weg is, kom sê die twee vir my ouma sy moet vir haar van die koring kom vat, want hulle sien sy't baie kinders. Hulle was elf, my pa-hulle.

"Ek wonder baie: hoe het die mense in daardie dae met mekaar gekommunikeer? Kyk, die Engelse kon nie Afrikaans praat nie, en ons mense nie Engelse nie..."

"Hierso loop my lyndraad. En hierdie land hier voor noem ons Brakkie se Land." Oom Tienkie gee skielik so 'n skreelaggie toe 'n onthou hom beetpak.

"Glo jy aan spoke?"

Ek knik.

"Ek ook!" sê hy ingenome. "Nou, toe ek nog jonk was het my oudste broer bedags hier geploeg, dan moet ek snags ploeg... hulle verneuk mos maar altyd die jongste enetjie. Nou net anderkant daai ou boompie staan 'n digte taaibos. Dis 'n vreeslike lekker ding in die koue - as jy agter hom sit en vuurmaak, sal jy nooit vind dat die vuur te veel rook nie. Hy laat net 'n sekere hoeveelheid lug deur.

"Nou ja, so is ek weer een nag hier op die land en ons drie boerhonde is by my. Lékker honde gewees, goeie jakkalsvangers. Dié aand sit ek weer agter die taaibos en vuurmaak en jong, kort-kort vliég die honde op, hul maanhare staan nét so," beduie hy so dashboard-hoogte. "Dan hardloop hulle so twee keer om die bos en kom lê weer. En ek raak so bang, want wat sién hulle nou? Naderhand loop kyk ek kastig, maar ek sorg ook darem dat ek nie té ver van die vuur af wegstaan nie!"

Die oom lag só hard oor dit wat kom, dat hy trane moet afvee. "Later daai nag raak my saad toe op. Hier anderkant het 'n oom Maans gebly, en ons het daar by hom in 'n gebou saad gestoor. Toe ek daar aankom om te loop saad haal, vertel ek hom van die honde wat so aan die knor gaan, en toe sê die ou: ‘Maar hoor hier, daar bý jou lê daar 'n kindjie begrawe...'

"Toe dit die volgende môre lig word, kry ek wraggies die graffie daar. Maar waarom die kindjie by my wou kom spook weet ek steeds nie!"

Ons praat boeregoed: reënvalsyfers ("Dit was 'n koue winter, min reën"), rygoed ("Die Europeërs bou beter karre as die Engelse"), roofdiere ("'n Rooikat is 'n bietjie dommer, maar die jakkals het die Here slim gemaak. Teen hom moet jy ál jou bietjie verstand wat jy het, inspan") en die wolprys ("Dis nou byna R100 'n kilo, hulle bemark hom dat dit bars!").

Op die platorand word daar stilgehou en oom Tienkie wys 'n duik in die berg uit - dis waar die oorspronklike pad van onder uit die Knersvlakte opgeklim het. "Dis nie waens wat daar uit is nie maar oskarre, met twee osse ingespan. Jong, dis diép daar af! Die merke van die ysterbandwiele sit nog daar in die klip."

Na ure se gesoek kry ons ook wel 'n paar fluweeltjies - bottergeel kroontjie reg in die middel, omring deur 'n swart-en-rooi kelk. Só bekyk ons dié wêreld deur 'n paar oë wat hom sien mens word het. Ons ry oor nog plase wat oom Tienkie oor die jare bygekoop het: Swellengrebel. Rooigrond. Brakrivier. En die oorspronklike stuk grond, Willemsrivier, waarvan die kaartnaam eers Kliprivier was.

"My oer-oupagrootjie is een van twee broers van Aurora aan die Weskus wat hier met twee Carstens-susters kom trou het. Hulle het 'n lang tyd vir die susters se weduwee-ma geboer, en in 1832 is die plaas toe op hulle twee se name geregistreer". Buiten die Carstens-familie was hier ook 'n klompie Louws en Steenkamps en almal het hul plaasopstalle neffens mekaar naby 'n fontein gebou.

Van dié "vierkant" af het elkeen se plasie dan in 'n ander rigting uitgewaaier. Buiten oom Tienkie en sy seun, Arend, se woonhuise staan daar steeds vandag 'n stuk of vyftien geboue vol onthou op dié uitgebreide plaaswerf. Wat nou die murasie van 'n ou skooltjie is, was doeriejare die woonhuis van 'n Skot, James McGregor.

"Dié ou man het glo Afrikaans gepraat, nes ons," vertel oom Tienkie goedkeurend. "McGregor het destyds - nog voor Nieudwíl daar was - vir Calvinia se kerkraad twee morg grond geskenk om 'n hulpkerk op te kom bou. En van 1885 af het daardie kerkie die hele distrik tot anderkant Loeriesfontein bedien.

"Mettertyd het 'n skooltjie met sy deure geopen. Twee Jode - Fischer en Vogelmann - het kom winkel opsit. Nagmaaltye het boerefamilies van ver uit die Boesmanland aangekom om babatjies te laat doop... Toe dinge egter na 'n dorp se kant toe begin staan, het die Niewoudts vir die kerkraad 'n stuk grond met goeie onderaardse water nie ver hiervandaan nie te koop aangebied. "Dis 'n goeie ding," mymer oom Tienkie. "Willemsrivier se water hou ons darem nog deur al die droogtes aan die gang, maar dit sou nie 'n hele dorp kon dra nie."

Oom Tienkie wil nou summier terug huis toe om die vierkant se dinge te loop uitwys. Daar, tussen die witgekalkte mure, voel die geskiedenis nog soos nou, en vertel die karakters van die verlede hul verhale byna uit eie mond. Karakters soos Lord Louw.

"Dié ou oom kon glo mooi viool speel. Hy't nooit gewerk nie en hy't altyd - omdat hy nie werk nie - 'n wit baadjie aangehad. Nou, sien jy hierdie lande hier links? Alles lande wat Pierrie Wolfaardt gemaak het. En hy't óók so in die nag geploeg.

"Een môre loop Pierrie 'n oom van my op die dorp raak en sê ‘Ek sien julle het gisteraand 'n dans op Willemsrivier gehad'. Maar my oom sê nee, daar was g'n dansery nie. Maar Pierrie hou vol: Toe hy laasnag van die lande af terugkom, kry hy 'n man met 'n viool in die hand op pad terug van die vierkant af.

"En Pierrie beskryf toe vir my oom hoe die man gelyk het, kompleet met 'n wit baadjie aan en als. Dit was toe niemand anders as Lord Louw se spook nie!"

Nog 'n plaasbakkie kom aangery en hou stil. En dis nóg 'n oujongkêrel waaroor hy my siel kan uittrek.

"Môre, JP."

"Watse jong vroumens ry jy mee rond?" wil JP weet.

"Sy's ook nog nie getroud nie. Is dam 'n oulike girl, nè?"

"Ja, ons ongetroude mense is almal oulik!" troef JP hom.

Natuurlik draai die gesprek sommer gou na die weer: "Middag kom reën dit." JP stel dit as 'n blote feit. "Wil jy nóg reën hê?"

"Jissie, my oom, nou's hy dríngend nodig! Vanjaar, toe hy Juniemaand begin, het ek darem nie gedink hy gaan nou wéér so gou ophou nie."

Oom Tienkie knik bevestigend. "Sewen-en-neëntig, ag-en-neëntig, het hy ook daai tyd opgehou... Maar ek hoor die langtermynvoorspeller sê dit gaan Oktober reën, báie!"

"Dis 'n bietjie laat. Daar by my staan mooi koring, móói koring, hy moet nou net reent kry."

"Jong, jy brêgh nou net voor háár met jou koring!"

Op die vierkant gekom staan die BKB-skeerspan op van waar hulle om 'n lae vuurtjie gesit en hande warmhou het. Maar voor ons by die skeerhuis inval, stap oom Tienkie eers 'n draai verby die vierkant se geboue, al met die een straat langs wat breed genoeg is dat 'n ossewa destyds sy draai kon kry: die ou kerkie, Fischer en Vogelmann se winkel, murasies van grootjies se opstalle, selfs 'n klein kliptronkie waarin die bandiete wat die Vanrhynspas gebou het snags toegesluit is.

Dis ook g'n wonder die Kakies het destyds hier kom rondsnuffel nie: Eenkant staan 'n ou strooidakhuisie met 'n wolfneusgewel en hier, vertel oom Tienkie my, het generaals Smuts en Maritz albei tydens Anglo-Boereoorlog in die geheim vergaderings gehou. Die mense van Willemsrivier was die kommando's goedgesind en het hulle gereeld van kos en vars ryperde voorsien.

"My oom Attie het op sy verjaarsdag, die 20ste Junie 1901, by Maritz aangesluit en sommer net hier anderkant het hulle 'n Engelse kommando raakgeloop en die twee het 'n bietjie op mekaar geskiet.

"Ouma Mieta was glo heluit bekommerd - haar kind het dan nou nét by die oorlog aangesluit en daar val die skote!Maar oom Attie het die skermutseling ongedeerd oorleef. "

Sy vinger is wel later, op Springbok, afgeskiet," lag oom Tientjie.

Dit herinner hom aan nog 'n storie van sy ouma: "Kyk, ná die oorlog was Smuts 'n verraaier in die Kotzés se oë. En toe hy tydens die 1914-Rebellie vir Jopie Fourie ter dood veroordeel, het ouma Mieta saam met Mevrou Dokter (die plaaslike dominee, Dr. Steenkamp, se vrou) as verteenwoordigers van 'n vroueorganisasie die trein Pretoria toe gevat om daar om sy lewe te gaan pleit. Vroue van oraloor sou saam Kerkplein toe loop terwyl hulle gesange en psalms sing. Maar toe my ouma-hulle in Pretoria afklim, het Smuts vir Jopie Fourie al daai oggend laat doodskiet - hulle was te laat."

Toe die skeermasjien aanskop en die eerste vier skape aan 'n agterbeen nadergesleep word, kry oom Tienkie sy sit in die agterste hoekie van die skeerhuis.

Hy maak vir my 'n riempiesstoeltjie langs syne staan en ons gesels word deur die knippers se gegons verja. Nie dat dit saakmaak nie - die galsterige reuk van wolvet, die BKB-manne wat repe vag laat grond toe krul, behendig opskep en dan met 'n ou hand op die sorteertafel deurkyk... dit alles vertel saam aan Willemsrivier se storie.

Namiddag vieruur pak die wolke al weer saam - die wit aandblom gaan nie vandag oopmaak nie.

Toe die klaar skaap by die skeerkraaltjie se hek uitgelaat word, tel almal op die vierkant se wysvingers en lippe saam hoeveel verbykom. Oom Tienkie skryf dit sorgvuldig in 'n rooi sakboekie neer. Dié boer van by die 80 jaar vat nog verstommend raak.

Wanneer gee hy dan die leisels oplaas aan die volgende generasie oor? Die oom skud sy kop, beduie dan padlangs in die witdirke se rigting: "Hier's twee plase wat ek nog bitter graag wil koop."

Hierdieartikel het in 2016 op Weg se webtuise verskyn. Ons probeer nuwe inligtingbywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus as jyiets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM