Reis

Leser vertel: Die goeie mense op ons pad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Etosha- nasionale park in die Kunene-streek, Namibië. Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Die Etosha- nasionale park in die Kunene-streek, Namibië. Foto: Galloimages/Gettyimages.com

'n Paar jaar gelede val ons in die pad om verskeie plekke in Namibië te besoek. Dit is een van ons gunstelinglande en ons bring onder meer 'n week in Etosha deur. Toe ons ná die week weer ry, gee my Toyota Fortuner se remme net buite Otjiwarongo in... gelukkig het ek stadig gery.

Tot my groot verligting sien ek die Indongo-Toyota-handelaar by die eerste verkeerslig soos jy die dorp binnery. Hulle stel vas die linkeragterrempyp het afgeslyt, wat veroorsaak het dat die remvloeistof lek.

Die handelaar het nie die onderdeel nie, maar met die hulp van 'n plaaslike ingenieurswerk vervang hulle dit met 'n pasgemaakte onderdeel. Teen 18:00 - nadat die motorwerktuigkundige én bestuurder na-ure gebly het om die werk af te handel - kan ons ry.

Toyota se rekenaarnetwerk is die dag af en hulle kan nie vir my 'n faktuur gee vir die herstelwerk nie. Ek bied aan om later elektronies te betaal, maar die bestuurder wens ons voorspoed toe sonder om 'n sent te vra.

Ons kom by die kampplek aan en sien ons vlekvryestaaltafel wat spesifiek op ons Front Runner-dakrak pas (en R2 600 kos), is skoonveld. Het ons vergeet om die tafel in te laai of het dit in die ry losgekom en afgeval? In Windhoek vervang ons die tafel sommer met 'n goedkoop een en skiet deur na die Richtersveld.

Terug by die huis vervang ek die tafel met 'n nuwe een wat ek by Front Runner in Kyalami koop. Later kry ek 'n oproep van Penda Shetunyenga van die Namutoni-ruskamp in Etosha: "Het julle op 2 September 2019 by Namutoni gekamp en 'n tafel agtergelos?"

Ek kan skaars glo sy doen al die moeite om my op te spoor. My tafel is daar en sy sê sy sal dit saam met iemand stuur wat Johannesburg toe kom.

Maande later bel Tony Sakala van die Drifters-toeragentskap my om reëlings te tref dat ek die tafel by hom kan kry. Tony het sowaar die tafel van Etosha af aangery - 'n volle 2 500 km.

Ek bel vir Carel de Jager by Front Runner en vertel hom die hele storie. Ek vra of ek dalk 'n terugbetaling vir die nuwe tafel kan kry, want dit is nog in die oorspronklike verpakking. Hy stem in - dít is mos nou goeie diens.

'n Groot dankie aan Indingo Toyota, Penda Shetunyenga van Namibia Wild Life Resorts, Tony Sakala van Drifters en Carel de Jager van Front Runner vir hulle onbaatsugtige en vriendelike omgee.

Ondanks ons alledaagse probleme in hierdie moeilike tye is ons geseën met baie spesiale mense in ons deel van die wêreld.

Hierdieartikel het oorspronklik in Mei 2020 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM