Reis

Die Groot-Marico se heilige akker: Riverstill

By RiverStill vloei die Groot-Marico statig verby - diep en helder. (Dalk sien jy'n geelvis van die oewer af.)

Die poel strek so ver as wat jy links en regs verby die bome kan kyk, net reg vir 'n otterlui hondjiestylswem. In die somer sal die boonste laag water lekker warm wees, maar dieper is dit koel - en dis diep genoeg dat jou voete nie sommer aan die bodem sal raak nie.

Daar is 'n tou waarmee jy in die rivier kan swaai en indrukwekkende bommies maak. Die drywende houtstellasie maak in- en uitklim maklik.

Jy kan ook in 'n kano roei, visvang (as jy swartbaars vang, moenie dit teruggooi nie - hier rond is hulle 'n bedreiging vir die inheemse visse) of sommer net sit en voëls kyk - die oewerbos gons behoorlik van die geveerdes.

Wat kan ek nog daar doen? Die eienaar, Jacques du Plessis, bied ook meditasie- en tromspeelkursusse aan. Vra hom of hy nog mampoer oor het - hy maak sitrusmampoer wat outomaties jou mondhoeke wyer sal trek (dis reg, brééd glimlag)... Verblyf by RiverStill is in ruim kliphuisies met 'n stoep en genoeg kuierplek.

Hoe kom ek daar? Draai by die poskantoor in Groot-Marico se hoofstraat rofweg suidwaarts (daar is 'n bordjie). So 4 km later draai jy links. Die gasteplaas is 2 km bult-af (die pad raak 'n bietjie sleg).

Kontak: jacques@riverstill.co.za; www.riverstill.co.za

Weg sê

Die Groot-Marico is hier nog so skoon soos kan kom - jy kan die rivierwater drink. 'n Heilige akker.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM