Reis

Die Jeep-trokkie kom weer

Die Jeep Gladiator
Die Jeep Gladiator

Tussen 1947 en 1992 was daar verskeie soorte Jeep-bakkies, maar die gewildste onder hulle was die oorspronklike Jeep Gladiator (1962-1988) wat op die imposante Jeep Wagoneer gegrond was.

Die nuwe Gladiator is in 2005 te midde van groot opgewondenheid as 'n konsepmodel gewys, maar toe droog die nuus rondom die bakkie se ontwikkeling op.

Daardie konsepmodel het onder meer agterskarnierdeure (die sogenaamde suicide doors) en 'n noodwiel links agter langs die laaibak gehad. Dié uitspattighede is egter laat vaar en die produksiemodel is meer konvensioneel.

Die nuwe Gladiator is einde verlede jaar by die Los Angeles-motorskou in Amerika bekend gestel. Hoewel Fiat-Chrysler-motors Suid-Afrika niks ampteliks oor die Gladiator wil sê nie, kan ons bevestig dat hy 'n dubbelkajuit gaan hê, en die dak, voorruit en deure gaan, nes by die Jeep Wrangler, verwyder kan word.

Binnelangs is hy heeltemal nuut met 'n knoppiebesaaide instrumentepaneel. Die agtersitplekke kan boontoe vou én platslaan sodat jy en jou maat se kampgoed agterin kan lê sonder dat die bekleedsel beskadig word.

Onder die enjinkap is 'n 3,6 l-Penta-star-V6-enjin met 'n 8 spoed- outomatiese of 6 spoed-handratkas, of 'n 3 l-EcoDiesel-V6 met 'n 8 spoed- outomatiese ratkas.

Kom hy Suid-Afrika toe? Die Gladiator word eersdaags in Amerika verkoop (dollarpryse was teen druktyd nog onbekend).

Ons hou jou op die hoogte wat Fiat- Chrysler-motors Suid-Afrika besluit, maar die kanse lyk goed, veral as Suid-Afrikaners genoeg belangstelling toon.

Besoek jeep.com/gladiator vir meer inligting oor die bakkie

Lees al die nuusbrokkies wat in ons Februarie-uitgawe verskyn hier.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM