Vergeet van daai ou Mercedes-Benz-motors wat die ryk mielieboere in bakkies laat ombou het - dié slag het die maatskappy sy eie bakkie - met 'n kinkel in die kabel.
Na 'n jaar of twee se gerugte en duimsuig met kunstenaarsvoorstellings is die geraai verby: Mercedes-Benz se bakkie is 'n voldonge feit en hy gaan binne die volgende jaar al uit die fabrieke begin rol. Nissan se fabrieke, om presies te wees. Want Mercedes en Nissan het 'n ooreenkoms aangegaan waarvolgens die Merc-bakkie die nuwe Navara se leerraamonderstel en sekere dele van die bakwerk sal gebruik.

Dis egter waar dit ophou, want die meeste enjins, transmissies en dryflyne gaan suiwer Mercedes-Benz wees. So ook die vering, wat anders ingestel gaan wees as die Nissan s'n.
En laastens gaan die binneruim - eintlik alles wat jy van binne kan sien en voel - 100% Mercedes-Benz wees. Dink Merc ML en jy sal 'n idee kry van wat hulle beoog.

Tydens die bekendstelling die afgelope week het Merc twee konsepvoertuie onthul - die een meer stadsgeorieënteerde Stylish Explorer en die veldrygefokusde Powerful Adventurer. Hoewel die finale produksiemodelle wat volgende jaar van die monteerlyn gaan afrol, 'n klein bietjie van hierdie twee modelle gaan verskil, gee dit 'n goeie aanduiding van die verskillende afwerkingsvlakke wat beskikbaar gaan wees.
Uit gesprekke met Mercedes is die volgende onthul:
1.Die 4x4-modelle gaan voltydse vierwielaandrywing hê, nes VW se Amarok. Dit gaan egter Mercedes se 7G-outomatiese ratkas hê en oor 'n laestrekratkas beskik.
2.Daar gaan ook 4x2-modelle wees.
3.Die enjinreeks gaan bestaan uit 'n V6-turbodiesel van Mercedes-Benz (m.a.w. ons gaan kyk na 160-180 kW krag en meer as 650 Nm se wringkrag!), 'n kleiner viersilinderturbodiesel en 'n viersilinder-petrolturbo.
4.Die agterste suspensie gaan bestaan uit 'n vyfskakelvering met kronkelvere en 'n vaste as.
5.Mercedes-Benz se grootbaas van handelsvoertuie, Volker Mornhinweg, onder wie se vlerk die nuwe bakkieprojek staan, het gesê dat die bakkie "mededingend" geprys gaan wees. Kom nou Volker, moet ons nie terleurstel nie.
6.Mornhinweg het ook gesê dat die ritgehalte baie goed gaan wees en dat hulle voluit gaan om 'n produk te skep wat bekend sal staan as "die Mercedes-Benz van bakkies".
7.Die nuwe bakkiereeks sal as die X-Klas bekend staan.
Dus, as alles volgens plan verloop - maar dan praat ons darem van 'n groot Duitse motormaatskappy - behoort ons die X-Klas vroeg in 2018 op ons vertoonvloere te sien.


'n Mens kan jouself dus skaars die opgewondenheid voorstel wat gaan heers as hy op Nampo bekend gestel gaan word. Soos 'n veearts pas vir my per WhatsApp laat weet het: "Die goed gaan soos soetkoek loop. Die boere se produksielenings gaan weer gebuig word om die outjies te kan koop!"











