
Foto's Leon Botha
As 'n mens in die Breëriviervallei rondom jou kyk na al die wingerde en vrugteboorde, besef jy waarom dié streek bekend staan as die vrugtemandjie van die Wes-Kaap.
Die kleiner Slanghoekvallei aan die Kaap se kant van Worcester vorm deel van dié streek, en met die berge, blou hemel en groen rondom jou lyk dit waarlik skilderagtig.
Pens en pootjies in die Slanghoekvallei lê die plaas Moreson met sy chardonnay- en chenin blanc-druiwe. Die Breërivier vorm die noordelike grens van die plaas, en dis teen dié water waar jy kamp opslaan en tot ruste kom.
Omtrent halfpad tussen Worcester en Ceres draai die Slanghoekpad uit die R43 in die rigting van die bekende ATKV-Goudini-spa en Rawsonville.
Moreson se afdraai is egter sommer vroeg-vroeg na links.

Sodra jy afgedraai het, loop die pad teen 'n rantjie uit - as jy nou links oor die wingerde kyk, sien jy hoe die Breërivier sy kronkels in die vallei kry. Op die een punt staan 'n klompie bome langs die rivier wat lyk of dit 'n bloekombos kan wees. Dit is Moreson se kampplek.
Kort ná die afdraai en 'n knik in die pad ry jy met 'n betonpaadjie teen die rantjie af - dis só steil g'n mens sou hier uitkom as dit grondpad was nie.
Ná 300 m swenk die pad links waar dit inderdaad grondpad word, maar gelukkig lê die steilte nou agter jou. Skaars 100 m verder is daar 'n skuifhek, ironies genoeg sonder 'n draadheining aan weerskante.
Op 'n pilaar langs die hek staan die eienaar, Pieter Le Roux, se selnommer, en hy maak oop sodra jy hom laat weet jy staan voor die hek. Omtrent nog 100 m verder staan 'n groot skuur met die plaashuis net agter dit.
Pieter kry jou by daardie hoek en wys jy moet agter hom aanry. Die plaaspad is heel skaflik en jy kan met 'n geruste hart jou gewone padwoonwa sleep.
Ná 'n paar linkse en regse begin die eerste staanplekke 1,2 km van waar Pieter jou kom kry het. By jou staanplek gee hy vir jou 'n badkamersleutel (met 'n afstandbeheer vir die hek), en as jy dalk sonder braaihout gekom het, kan Pieter daar en dan help. Agterop sy bakkie is sommer 'n hele paar sakkies hout teen R40 elk.

Die staanplekke is in drie groepe verdeel. Soos 'n mens deur die wingerd nader ry, kry jy eers die Pomphuis-kothuis met die eerste ses staanplekke daarna (nr. 11-16). Staanplek nr. 7-10 is volgende, gevolg deur die Brughuis-kothuis met die laaste ses staanplekke (nr. 1-6) op die punt. Die staanplekke is in gelid langs mekaar uitgelê met 'n skouerhoë paaltjiesheining tussenin.
In die droë seisoen kan die rivier voor jou na 'n rotsbedding lyk, maar selfs dan dam van die water digby die eerste kampplekke op en die kinders kan heerlik hier plas.
Elke staanplek het 'n kragpunt (gewone huissok) met jou vullisdrom en lig - wat jy self kan aan- en afskakel - daarnaas. Jy kry ook 'n braaivuurpan wat jy kan ronddra en neersit waar dit jou pas, maar jy moet onthou om jou eie rooster saam te bring.
Die eerste groep staanplekke het die meeste gras, want die bome is kleiner en jou staanplek ook meer in die oopte. Die bome in die tweede en derde groep vorm omtrent een aaneenlopende stuk skaduwee en jy kamp dus op grond. Hier gaan jy waarskynlik nie 'n woonwa se stoeptent opgeslaan kry nie omdat van die bome op die staanplekke staan - jy gaan ook tussen die bome deur moet wurm. Dit is meer geskik vir boswaens.
Die derde groep staanplekke het weer groter oop kolle en jy gaan maklik regkom met jou wa en tente. Agter elkeen van die drie groepe staanplekke loop 'n heining verby met 'n laninkie bome daarnaas - dié help om die wind effens te stuit, maar dit beteken ook jy sien nie die wingerde nie.
Gepraat van die wind: As dié eers spoed optel daar uit Goudini se koers, gaan jy nie vir hom wegkruip nie. Parkeer sommer vroegtydig jou wa met die buitekombuis aan die rivier se kant, anders gaan jou stoof se gasvlammetjie nie jou koffiewater warm kry nie. Die naaste kraan is by die badkamergebou.
Elkeen van die groepe staanplekke het hulle eie blok badkamers met 'n string deure aan die een kant, elk met 'n nommer op. Dié stem ooreen met die staanpleknommers, wat beteken jou badkamer is net joune. Dis 'n beskeie badkamer met die nodigste: 'n klein gesigwasbak met 'n spieël, en 'n smal rakkie neffens dit waarop 'n badkamersakkie net-net pas, en langs dit 'n toilet.
Ons het op staanplek nr. 8 gestaan en ons toilet se spoelarm het die gees gegee. Hiermee is 'n plan gemaak met draad, maar verder het alles gewerk soos dit moet.
In die ander hoek is 'n oop stort wat ruim genoeg is dat jy nie die wêreld vol water spat nie. Die wasbakke vir die skottelgoed is op die punt van jou badkamergebou.
As jy in die verte 'n paar geweerskote hoor, is dit nie nodig om plat te val nie - die Kleinberg-kleiduifklub hou elke derde Saterdag 'n byeenkoms hier op Moreson se grond. Maak gerus 'n draai by die Slanghoekkelder hier naby vir 'n gratis wynproe.
Pieter-hulle verskaf druiwe aan die kelder en dis skaars 12 km tot daar. Onder die wyne wat jy kan proe, tel die 2009 Rooi Muskadel, wat verlede jaar met 'n Veritas-toekenning bekroon is, én 'n hele rits ander goeie wyne. Daar's selfs 'n oop balie eenkant vol kurkproppe en 'n klompie kleurryke strandgrafies en -harkies waarin die kleintjies kan speel terwyl Ma en Pa hulle tong laat werk.
Onthou net, die kelder is Saterdae net tot 13:00 oop en op Sondae gesluit - as jy dus vir die naweek kom kuier, moet jy sorg dat jy die Saterdagoggend kort ná ontbyt 'n draai maak. (Op weeksdae is hulle oop van 09:00 tot 17:00.)
Terwyl jy terugry Moreson toe, kan jy by die Slanghoekoord se winkel, 2,6 km terug op jou spoor, inloer. (Moreson het nie 'n winkel nie.) Hier kan jy 'n verskeidenheid aandenkings koop, maar ook koeldrank, roomys, pasteitjies, outydse lekkergoedappelkosies, suiker en selfs vleis soos skaaptjops en hoendersosaties. Jy kan ook hout en houtskool aanskaf, maar met ons besoek was daar nie vuuraanstekers nie.
Bêre jou laaste energie vir Sondag en stap na die grot toe. Dis halfpad op teen die berg anderkant die wingerd. Dié wingerd is nie op Pieter se grond nie, maar behoort aan sy buurman Danie Zeeman. Hier is wel geen grensdrade nie en Danie gee ook nie om dat 'n mens deur die wingerd stap nie. Dit is hoogstens 45 minute se stap tot by die grot, en net die laaste 100 m of wat is werklik steil.
Hou wel jou oë oop vir wawielspinnekoppe as julle vroegoggend stap - hulle span hulle web oor die paadjie tussen hoë bossies. Gelukkig is die webbe groot en 'n mens kan hulle skaars miskyk.

Die grot se bek is lekker groot (20 m breed en 10 m hoog), maar word kleiner na agter soos jy die berg in stap. Omtrent 25 m van die bek af is 'n vierkantige klip wat soos 'n bankie lyk en blink gesit is.
Danie sê hulle het as kinders deur die grot geklouter om anderkant uit te kom, maar daarvoor gaan jy bitterlik skraal moet wees. As jy van die bek af reguit terugkyk, is Moreson se kampplek omtrent in die middel van die natuurtoneel voor jou.
Gelukkig gaan die af vinniger en 'n mens is betyds terug in die kampplek om nog so 'n laaste teug vars lug in te asem vóór jy weer in die pad val huis toe.

Kortliks | Moreson-rivierkothuise-en-kampplek
Kampplek: 16 staanplekke teenaan die Breërivier wat in 3 groepe verdeel is.
Ablusiegeriewe: Jou eie badkamervertrek digby jou staanplek. Dis basies en skoon.
Prys: R400 p.n. per staanplek vir tot 4 mense; daarna R50 p.p. (hoogstens 6 mense).
Aankoms- en vertrektyd: 13:00 en 11:00. Op Sondae kan jy langer vertoef, want dan is daar geen uitkloktyd nie.
Kontak: 072 436 9377; moresoncottagesandcampsites.co.za; info@moresoncampsites.co.za
Naaste dorp: Ceres en Worcester, albei 27 km.
Hoe lyk die pad? Die laaste 1,4 km is 'n goeie plaasgrondpad.
Ry & Sleep sê Troeteldiere is welkom mits hulle "vriendelik" is. Jy is welkom om met Wagter in die wingerd te gaan stap.

Hiermee het ons gery
Die Audi Q3 is 'n klein nutsvoertuig, maar hy skrik nie vir plaaspaaie nie. Trouens, hy is heel wakker - selfs met 'n woonwa op die haak. In 'n onlangse sleeptoets het hy sy staal gewys met 'n Sprite Swing wat die skaal op 940 kg getrek het.
Die standaardmodel kos R599 000, maar as jy wil sleep, het jy die elektriese stang (R10 500 ekstra) nodig. Ook die trukamera (R6 800) is 'n gawe opsionele ekstra as jy nie wil sukkel om jou wa te parkeer nie.
SPESIFIKASIES
Model: 35 TFSI S line S tronic
Enjin: 4 silinder-turbopetrol
Krag: 110 kW
Wringkrag: 250 Nm
Ratkas: 6 spoed-outomaties
Aandrywing: Voorwiele
Tenk: 64 l
Sleepvermoë: 2 000 kg
Sleepstang se maksimumtrekgewig: D-waarde 12,6 kN (1 285 kg)
Sleepstang se maksimum vertikale gewig: 90 kg
Is die stang verwyderbaar? Nee
Is daar plek vir 'n sakplaat? Nee
(Hierdie artikel hetoorspronklik in April 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het -laat weet gerus by digitaal@weg.co.zaas jy iets raaksien.)












