Reis

Dis (steeds) walvistyd!

Die eerste walvisse is al van Junie af langs die Suid-Afrikaanse kuslyn te sien, maar die spitstyd is Augustus en September.

Foto: www.dehoopcollection.com
Foto: www.dehoopcollection.com

Waar kyk ek? Die walvisroete strek van Kaapstad tot Durban en jy kan soms selfs aan die Weskus ook walvisse sien. Maar die gewildste plekke vir walviskyk in Augustus en September is:

Valsbaai: Clarence-rylaan tussen Gordonsbaai en Rooiels

Hermanus: Kranswandelpaadjie tussen die nuwe hawe en Grottostrand

De Hoop-natuurresservaat in die Overberg: Koppie Alleen-piekniekplek

Mosselbaai en omgewing: By die Mosselbaaipunt - sit by The Point Hotel, die King Fisher-restaurant of een van die ander restaurante.

Wildernis: Dolphin's Point-uitkykpunt op die Kaaimanspas

Brenton-on-Sea: Die Butterfly Blu-restaurant

Knysna-koppe: Die uitkykpunt op die oostelike kop

Plettenbergbaai: Robberg-skiereiland

Hoekom sien ons hulle juis nou? Die walvisse migreer van Antarktika om in die warmer water aan die ooskus van Suider-Afrika te kom paar, kalf en soog.

Watter soort walvisse is dit? Ons sien meestal suidelike noorkappers (Balaena glacialis) wat aan ons suid- en ooskus kalf, maar ook bultrugwalvisse (Megaptera novaeangliae) wat migreer na die kus van Mosambiek en Angola (dis steeds warmer as Antarktika!) om te kalf.

Leer ken die suidelike noorkapper

Bring 'n groter skaal! Volwasse suidelike noorkappers is min of meer so groot soos 'n bus en weeg tot 60 ton. Kalfies weeg sowat 1,5 ton (dieselfde as 17 volwasse mans!) wanneer hulle gebore word en sit 85 kg per dag aan.

Staan terug, Usain Bolt… of nie. Kyk hoe vergelyk suidelike noorkappers se spoed in die water met ons gemaklike stappas.

Het jy genoeg kraamverlof, Mevrou? Die gewone voortplantingsiklus van 'n suidelike noorkapperkoei is drie jaar. Die eerste jaar paar hulle aan ons kus, die tweede jaar keer die swanger koei terug en skenk die lewe aan een kalf en in die derde jaar rus hulle. Dit geld vir 80% van die koeie - party het 'n twee-, vier- of meerjarige siklus.

Beïndruk jou vriende met jou kennis van walvisgedrag:

Blaas Dis gekondenseerde water wat uitspuit as die walvis asemhaal.

Spring Die walvis maak 'n agteroorsprong uit die water en land op sy sy of rug. Dis waarskynlik 'n manier van kommunikeer, oefening of om parasiete wat op die vel bly af te kry. Hulle kan dit 3-8 keer ná mekaar doen.

Stertklap Hulle kap hulle stertvinne op die water - dis 'n manier van kommunikeer.

Rondkyk Dit kop en lyf word vertikaal gelig bo die oppervlak tot by die kantvinne sodat hulle kan sien wat om hulle gebeur bo die water.

Bronne: southafrica.net; whaleroute.com; "Southern Right Whales and Other Cetaceans in the De Hoop Nature Reserve Area, Western Cape, South Africa" deur Katja Vinding

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM