Reis

Doen dit: Voëlskyk in Soweto

Doen dit: Voëlskyk in Soweto

Ek kry Raymond by die Orlando-torings, 'n baken in dié buurt, en stap af na die vleiland wat ook voorheen deel was van 'n voormalige kragstasie. Ons groet die kinders van die plaaslike kanoklub wat regmaak vir 'n oefensessie en fynkam dan die horison vir voëls. Asof dit vooraf so afgespreek is, swiep 'n mosterdkleurige vormpie oor die water. "Ralreier," sê Raymond. "Dis een van ons specials."

Terwyl ons al op die oewer langs loop na die besoedelde rivier wat die vleiland water gee, rammel hy die spesies af: witbaardsterretjie, gryskopmeeu, grootwaterhoender, kleindobbertjie, gewone bontrokkie, rooivink, swartkeelgeelvink...

Ons klim in die kar en ry die sowat 2,5 km tot by die Enoch Sontonga-heuwel - "Nkosi Sikelel' iAfrika" is op die koppie gekomponeer en dis steeds 'n gewyde plek vir baie van die plaaslike inwoners. Dis só mooi en groen hier dat ek vir 'n oomblik voel asof ek in die wildtuin is. Op pad boontoe loop ons tradisionele genesers raak wat besig is met 'n ritueel, en ons sien ook 'n nedikkie, twee soorte muisvoëls, twee soorte spreeus en 'n blouvalk.

Ons gaan sit op 'n groot rots en tuur oor die stad. "Ek kan vir ure hier sit," sê Raymond. "Soweto is raserig. Hierdie is my terapie."

Raymond Rampolokeng
Raymond Rampolokeng Raymond Rampolokeng

Wanneer? Jy moet vooruit bespreek. Die uitstappie duur drie tot vier uur en begin en eindig by die veilige parkeerterrein langs die Orlando-torings.

Koste R650 p.p. as jy met jou eie motor tussen die drie verskillende kolle ry. Raymond kan 'n voertuig voorsien teen nog R200 p.p. Afslag is beskikbaar vir groepe van meer as ses mense.

Spesiale aanbod Die nuwe "voëlkyk-op-fietse"-toer volg min of meer dieselfde roete - op bergfietse! Dit kos R450 p.p., plus R100 p.p. wat 'n fiets wil huur.

Onthou Dra stapskoene en klere in neutrale kleure. Bring water, iets om aan te peusel en 'n verkyker saam.

Kontak 072 947 3311; bayofgracetours@gmail.com

Kyk hier na 'n kortfilm oor Raymond en sy werk.

Nick Dall

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM