Jy en jou kinders kan tydens die nasionale inperking elke dag saam met gidse in die groter Krugergebied ‘rondry' en saam op 'n wildbesigtigingsritte gaan. Elke oggend en laatmiddag word dié ritte regstreeks op YouTube uitgesaai. Skuif agter jou rekenaar of televisie in en volg die YouTube-skakel om saam op 'n regstreekse uitsending van 'n safari-rit te gaan. Al wat jy hoef te doen, is om seker te maak jy het internettoegang, luidsprekers en lus vir opwinding.
Dié virtuele safari's word deur WildEarth TV aangebied. WildEarth is 'n regstreekse uitsaaier van wildritte wat interaktiewe toere met kenners en gidse onderneem. Op elke voertuig is 'n gids en kameraman en daar word nie net by roofdiere stilgehou nie, interessante insekte voëls en plante van die omgewing kry ook hulle tydjie op die grootskerm. Die ritte is boonop interaktief, want kykers kan vrae aan die gidse stuur wat hulle dan ook sommer so in die ry beantwoord.


Verwag dus hope opwinding, want een oomblik kyk jy nog hoe 'n spinnekop sy web spin en die volgende oomblik wys 'n ander gids 'n maanhaar wat oor 'n grondpad drentel. Vyf minute later vind jy meer uit oor olifante wat by 'n watergat baljaar en dan, wanneer die son begin sak, kyk jy hoe 'n trop leeus begin opstaan vir die aand se jag. Op so 'n rit kan jy dus maklik meer sien as wat jy in 'n hele week op jou eie in die wildtuin sou sien. En vir nou is hierdie 'n briljante manier om die wildtuinervaring te ervaar.
Die ritte in die oggend begin 5 vm. tot 8.30 vm. en die middae kan jy vanaf 3.30 nm. tot 6.30 nm. inskakel.
As jy nie deelneem aan die regstreekse virtuele toer nie, kan jy na die webtuiste gaan en een video van die hele dag se toere kyk, óf jy kan net na die dag se hoogtepunte kyk.
WildEarth TV bied ook toere vir kinders tussen die ouderdomme van 4 en 18 jaar aan. Jy moet vooraf jou plek bespreek vir elke regstreekse uitsending (WildEarth Kids op safariLIV.
Die ritte vir kinders is ook opvoedkundig. Elke rit is 45 minute lank en kinders kan ook hulle vrae aan die gidse stuur.
Elke safari is anders en jy kan maar verwag om op die punt van jou stoel te sit, al is dit vir nou eers net op jou sitkamer se leunstoel en nie agterop 'n safarivoertuig met die Laeveldse son wat op jou skouers bak nie.
* WildEarth se safaris vind plaas in die Djuma-private wildreservaat in Sabi Sand en die Ngala-wildreservaat.
WENK: Jy kan hulle ook help om die safari's aan die gang te hou, gaan na wildearth.tv/support
Hoe maak ek?
- Gaan na die YouTube-kanaal om van die vorige video's te kyk en seker te maak jy weet wat om te verwag.
- Sorg dat jy 'n internetkonneksie het wat werk.
- Kry jou elektroniese toestel reg, of dit nou 'n skootrekenaar, TV, selfoon of rekenaar is. Dit moet natuurlik ook luidsprekers hê.













