In Weg Agterpaaie reis Erns Grundling en Toast Coetzer deur die suide van Namibië. Onthou om hulle reis te volg op Woensdae om 8.30 nm. op Via (Kanaal 147 op DStv). Hier is 'n paar interessante syfers oor dié reeks:
0
Die aantal woorde op die teks (script) vir die reeks. Erns en Toast het sommer uit die heup geskiet met sêgoed en waarnemings.
2
Die aantal bande wat Erns en Toast moes omruil langs die agterpaaie. Hulle was eintlik gelukkig om net een pap wiel te kry, die ander een was twee Spanjaarde s'n buite Sossusvlei.
4
Die grootte van die Weg Agterpaaie-span op die langpad: Erns, Toast en die kameramanne en regisseurs Chris Kritzinger en Kobus Zietsman.
6
Die aantal herhalings per episode elke week op Via. (Dit is veral handig as jy nie 'n PVR het nie…)
10
Die aantal kameras - wat twee hommeltuie en twee GoPro's insluit - wat saamgereis het deur Namibië.
26
Elke episode is soveel minute lank, as jy advertensietyd aftrek.
31
Die hoeveelheid dae wat die span van die Kaap na Namibië (en terug) gereis het. Dit is waarskynlik ook dieselfde hoeveelheid kilogram biltong en droëwors wat hulle tydens die reis geëet het.
200
Die hoeveelheid keer per minuut wat Erns se hart (vermoedelik) geklop het toe Spikkels die fisant hom op die plaas Kuduberg rondgejaag het.
3 900
Die hoeveelheid minute (min of meer) beeldmateriaal wat tydens die reeks geskiet is. Vir elke episode van 26 minute benodig jy minstens 5 uur se beeldmateriaal.
5 000+
Die aantal foto's wat Erns en Toast op kameras en selfone geneem het tydens die skiet van die reeks.
6 020
Die aantal kilometer wat Erns en Toast vir Weg Agterpaaie afgelê het.













