Reis

Help red só ons renosters

Die veearts Gerhardus Scheepers (ondersteun deur Steve Dell van Pilanesberg Wildlife Trust en Luyanduthando Dube, ’n natuurbewaringstudent aan UNISA) saag ’n horing af.
Die veearts Gerhardus Scheepers (ondersteun deur Steve Dell van Pilanesberg Wildlife Trust en Luyanduthando Dube, ’n natuurbewaringstudent aan UNISA) saag ’n horing af.

Hoewel onthoring op sy eie nie genoeg is om die stropery te keer nie, is dit saam met meer tradisionele teenstroperymetodes - soos veiligheidspatrollies, sorgvuldige monitering van renosterbevolkings en veral openbare bewusmakingsveldtogte - 'n belangrike wapen in die oorlog teen stropers.

'n Renoster kry 'n vitamieninspuiting.
'n Renoster kry 'n vitamieninspuiting.

Maar dit is 'n duur proses om 'n renoster te onthoring. En aangesien die horing (wat net uit kalsium, melanien en keratien bestaan) teen 'n koers van 12 cm 'n jaar teruggroei, moet dit elke 14 tot 16 maande gedoen word. Sanparke beraam die koste tot R8 000 per dier, en in meeste gevalle word daar staatgemaak op die finansiële hulp van nie-regeringsorganisasies en sakevenootskappe.

Dis juis hoekom Toyota onlangs vir Weg! saamgenooi het om 'n grootskaalse onthoringsveldtog in die Pilanesberg-wildreservaat mee te maak. Tot dusver het diemotorvervaardiger twee voertuie geskenk aan die Pilanesberg-wildreservaat omrenosterstropery te bekamp, en hy borg ook die diens en instandhouding vanaltesame 12 voertuie.

'n Horingstomp word met 'n antiseptiese en insekwerende middel behandel.
'n Horingstomp word met 'n antiseptiese en insekwerende middel behandel.

John Thomson, vise-president van Future Toyota by Toyota Suid-Afrika, is op grondvlak betrokke by renosterbewaring en die teenstropingsprojekte. John, 'n passievolle fotograaf, se pad met renosters het jare gelede begin.

Hy was op sy rekenaar besig met foto's van die diere terwyl sy kleindogter op sy skoot gesit het. Die gedagte het by hom opgekom dat haar kinders of kleinkinders dalk nooit die voorreg sal hê om 'n renoster in die natuur te sien nie. "Ons is nóú hier. Ons moet nóú toesien dat hulle nog oor 10 of 20 jaar voortbestaan," sê John.

Volgens John het renosterstropery aansienlik afgeneem vandat onthoring toegepas word. Hoewel dit steeds plaasvind, maak die potensiële wins uit 'n klein stukkie horing, opgeweeg teenoor die gevaar van stropery, dit heelwat minder aanloklik vir misdadigers.

Renosterhoring het 'n keratienbasis, soos ons naels, en die dier ervaar nie pyn wanneer dit afgesny word nie. Dit is nogtans traumaties vir die diere aangesien hulle deur 'n skoot vanuit 'n helikopter verdoof moet word. Die span vrywilligers, vlieëniers, veeartse en wildbewaarders moet flink saamwerk om die proses so vinnig moontlik af te handel.

Die groep gaan vir sowat 10 dae tussen sonop en sononder daagliks in die veld besig wees.

Douvoordag word daar reeds gewoel in die die huis waar die span vir die duur van die onthoringsprojek bly. Kospakkies word voorberei, medikasie word uitgepak en gereed gemaak, en brandstof vir die helikopters word in ondersteuningsvoertuie gelaai.

Helikopters word douvoordag gereedgemaak.
Helikopters word douvoordag gereedgemaak.

Dolf Van der Merwe is 'n ervare helikoptervlieënier. Saam met Gerhardus Scheepers, veearts van die Zodiac Dierekliniek op Brits in Noordwes, sirkel hy in die lug bokant die reservaat op soek na renosters. Gerhardus merk die geteikende dier met een skoot, en Dolf sorg vernuftig dat die dier in die rigting van die span ondersteuningsvoertuie gestuur word. Die renoster word dopgehou tot dit aan die slaap val.

Nou werk die span blitsig. Terwyl Gerhardus die horing afsaag en die growwe rande met 'n hoekslyper gelykmaak, staan John reg om 'n ontsmettingsmiddel aan die oorblywende horing te verf om infeksie te voorkom.

Perry Dell (middel) van Pilanesberg Wildlife Trust saam met natuurbewaringstudente in hulle praktiese jaar, Luyanduthando Dube van Unisa (links) en Khanyi Hlatshwayo van die Universiteit Mpumalanga (regs).
Perry Dell (middel) van Pilanesberg Wildlife Trust saam met natuurbewaringstudente in hulle praktiese jaar, Luyanduthando Dube van Unisa (links) en Khanyi Hlatshwayo van die Universiteit Mpumalanga (regs).

Ander spanlede dien 'n multi-vitamieninspuiting, anti-inflammatoriese en ontwurmingsmiddels toe. Die dier se oë word behandel met reinigingsoogdruppels, dit word aan die oor gemerk en DNS-monsters word bymekaargemaak sodat elkeen herkenbaar is in geval van die onwettige handel van die horing.

'n Helikopter land terwyl ondersteuningsvoertuie van Toyota gereed staan.
'n Helikopter land terwyl ondersteuningsvoertuie van Toyota gereed staan.

Alles gebeur vinnig, en voor jy jou kom kry, word 'n middel ingespuit om die renoster wakker te maak. Binne minute is die dier weer op die been. In die geval van witrenosters, drentel die dier stadig weg terwyl ons toekyk.

Die Pilanesberg-wildreservaat.
Die Pilanesberg-wildreservaat.

Maar in die geval van die swart renosters word ons gewaarsku om in ons voertuie te wees voordat die ontwakingsmiddel toegedien word - hierdie ouens is kwaai, en berug daarvoor dat hulle man of voertuig in 'n blinde woede sal bestorm wanneer hulle wakker word.

Renosterkalfies word verkieslik nie verdoof nie, en word deur spanlede aangemoedig om in die omgewing van die slapende ma te bly. In sommige gevalle word die ma en kalf egter in die warboel van mekaar geskei, en dan moet die kalfie verdoof word.

Voorbereidings vir die dag wat voorlê. Dr Louis van Schalkwyk
Voorbereidings vir die dag wat voorlê. Dr Louis van Schalkwyk

Die slapende renostertjie word in 'n seil toegedraai en per helikopter by sy ma afgelaai. Die span werk met groot sorg en dringendheid om ma en kleinding so vinnig moontlik te herenig.

John Thomson
John Thomson

Dis harde maar bevredigende werk. Volgens John moet die boodskap so luid moontlik uitgedra word dat renosters op die rand van uitwissing is.

Spanfoto v.l.n.r.: Wessel Wessels (helikopters), Dr. Gerhardus Scheepers (veearts), Dolph van der Merwe (vlieënier), Cornel van der Walt (veeartsassistent), Khanyisile Hlatswayo (student), Perry Dell (Pilanesberg Wildlife Trust-bestuurder), Stephen Dell (park-ekoloog), Luyanduthando Dube (student), John Thomson (vise-president van Future Toyota).
Spanfoto v.l.n.r.: Wessel Wessels (helikopters), Dr. Gerhardus Scheepers (veearts), Dolph van der Merwe (vlieënier), Cornel van der Walt (veeartsassistent), Khanyisile Hlatswayo (student), Perry Dell (Pilanesberg Wildlife Trust-bestuurder), Stephen Dell (park-ekoloog), Luyanduthando Dube (student), John Thomson (vise-president van Future Toyota).

En net so belangrik is die boodskap dat die horings geen medisinale waarde het nie. As enigeen wil help, is dit goed om skenkings direk aan instansies soos die Pilanesberg Wildlife Trust en die Zululand Conservation Trust te maak omdat dit direk vir renosterbewaring aangewend sal word.

Besoek https://pilanesbergwildlifetrust.co.za/pilanesbergwildlifetrust.co.za en https://zululandconservationtrust.org/zululandconservationtrust.org vir meer inligting oor die werk wat hulle doen.

Ronel Steyn (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM