Reis

Schalk sê: Hoekom dan nie?

Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com (Halfpoint Images)

Anita sê sy en haar lewensmaat, Johan, gaan minstens twee keer per maand weg en verkies dit om plekke op hulle voorstoep - binne 'n radius van 200 km - te besoek. Sy vra ook hoekom 'n mens eerder by die huis sal slaap as jy die natuur, sonsondergange en kampvure in die buitlewe kan geniet?

Sy slaan natuurlik die spyker op die kop, veral hierdie tyd van die jaar. Hoekom sal jy by die huis bly as daar - ongeag van waar jy woon - 'n plek binne twee uur se ry is waar jy nog nie was nie?

Jy het per slot van sake reeds al die buitelewe-toerusting wat jy nodig het. En selfs al het jy nie die toerusting nie, kan jy altyd 'n ander plan maak en dit huu. Hoekom bly jy dan by die huis?

Die hemel weet, ons almal verdien 'n blaaskans. Dis al laat in die jaar, ons is in die pylvak en ek kan jou waarborg jy gaan binnekort "Come they told me, pa ram pam pam pam" in die inkopiesentrum begin hoor om die begin van die einde van die jaar aan te kondig.

Ek verstaan die versoeking om ná 'n lang en moeilike week in jou pajamas te bly, die gordyne toe te trek, jou foon af te sit en net voor die televisie te muf. Maar 'n mens moet nooit die kans misloop om iets wonderlik te sien of te ervaar nie.

Watter een gaan jy eendag onthou? Die wegkruipnaweek in jou TV-kamer? Of die keer toe jy op die ingewing van die oomblik jou gesin en julle kampgoed in die kar gelaai het om die Groot Vyf in Dinokeng te gaan soek?

Ek dink jy weet wat die antwoord is.

Veilig reis!

Schalk Jonker

schalk.jonker@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM