Wil jy 'n 360°-uitsig oor Port Elizabeth sien? Mik vir die 52 m hoë kloktoring in Strandstraat naby die hawe.

Die ikoniese kloktoring het onlangs 'n nuwe baadjie gekry. Besoekers kan nou met 'n splinternuwe hysbak (dis rolstoelvriendelik) tot bo ry. Die meer fikses kan met die 204 trappe tot bo klim - wees op die uitkyk vir die 67ste trap met 'n plaatjie wat oudpresident Nelson Mandela se jare op Robbeneiland gedenk. Op pad kan jy inloer by verskeie galerye waar plaaslike kunstenaars uitstal.

Die toring het in 1936 sy klokkespel van 23 klokke (wat altesame 16 ton weeg!) gekry. Dié klokke is skoongemaak en saam met twee nuwes weer tot bo in die toring opgehys. Terloops, dis die grootste klokkespel in die land. Dié klokke lui elke 15 minute en op die uur is daar 'n langer klokkespel - hulle kan selfs die volkslied speel! Besoekers kan kyk na 'n volledige stel perspex-replikas (die sogenaamde spookklokke) van die ware jakob op die vyfde verdieping.
Die ooreenstemmende perspex-klok verlig terwyl die regte klok lui. Hier's ook 'n interaktiewe klawerbord waar jy die perpex-klokke kan "speel". Kinders sal gaande wees hieroor én oor die glaskapsule op die boonste dek waarin dit voel asof jy bo-op die stad staan.
Die kloktoring is in die vroeë 1920's gebou naby die plek waar die Britse Setlaars 'n eeu gelede aan wal gekom het, maar die opgeknapte toring is 'n viering van ons land se ryk geskiedenis. Die kloktoring is dan ook die begin van die Roete 67, 'n kunsroete deur die stad.
Oop: Dinsdae- Saterdae: 9 vm.-12.30 nm. en 1.30 nm.-5 nm. Sondae: 2 nm.-5 nm. Toegang is gratis.












