Die natuurbewaringsorganisasie
Panthera beywer hulle vir die bewaring van grootkatte. En hulle het jou hulp nodig!
Die agtergrond
Panthera het strikkameras regoor Suider-Afrika wat die grootkatte, hulle prooi en enigiets wat beweeg, afneem. Ongelukkig kan dié kameras nie tussen spesies of voertuie onderskei nie.
Die organisasie se werk het egter so vinnig gegroei dat hulle teen die einde van 2015 nie meer kon byhou met al die foto's wat ingesamel is nie. Daar is sowat twee miljoen strikkamerafoto's wat uitgeken moet word (en nuwes wat elke dag bykom)… As oplossing het hulle die publiek se hulp ingeroep en die Camera CATalogue is gebore.

Hoe werk dit?
Dis eenvoudig. Hulle het mense nodig om na dié foto's te kyk en die spesies en getal diere in elke foto uit te ken. Nadat minstens 10 mense 'n foto geïdentifiseer het, word dit verwyder en op 'n databasis gebêre.
Op die oomblik help meer as 20 000 vrywilligers, maar hulle het nog baie meer mense nodig. Gaan na *cameracatalogue.org en begin! Dis maklik - 'n kort video wys jou hoe.

Wat gebeur daarna?
Panthera vat dan dié inligting (met die wete dat van die uitkennings dalk verkeerd kan wees) en ontleed dit om vas te stel wat die mees waarskynlike spesies op die foto's is.
Die inligting word ook gebruik om die volgende te bepaal: die grootte van luiperdbevolkings, veranderinge oor die jare en om nuwe neigings raak te sien. Op die oomblik wys die data (wat strek oor Suid-Afrika, Mosambiek en Swaziland) byvoorbeeld die luiperdbevolking is vinnig besig om af te neem.
Meer inligting: *panthera.org; *cameracatalogue.org













