Leser Henriët Jacobs vertel: Ek het in die winter 'n ietermagog bevry uit 'n onwettige strik op ons plaas naby Upington. Ek het dadelik begin navors hoe om my nuwe pasiënt te versorg - Darren Pietersen van die African Pangolin Working Group was baie behulpsaam.
Die ietermagog, Ietie, het mettertyd gesond geraak. Hy het later my stem herken, oopgerol, en begin soek vir sy nuwe miershoop, waarvan ons baie dele uit die veld vir hom aangery het. Hy het heerlik langs die honde en Piep, ons hanshoender, voor die verwarmer gelê en slaap.

Ietermagôs is 'n bedreigde spesie en dit was 'n voorreg om hom as deel van ons huishouding vir sowat drie weke te hê! Hulle aard glad nie in klein ruimtes nie omdat hulle ná elke ete etlike kilometers moet loop om sy kos te verteer.
Hy is losgelaat op 'n wildplaas met oorgenoeg kos, waar hy veilig is.
Ons verlang baie na hom, maar hoop hy het kinders by dosyne!














