Ken jy die gevoel wanneer jy vir die eerste keer iets raaksien of hoor, en daarna begin dit oral opduik? Op die radio en televisie, in gesprekke, en op die oop pad. Jy kan dit later net nie meer ignoreer nie. Dis orals!
Ek het dit onlangs weer ervaar nadat ons vir vier dae in 'n Suzuki Jimny deur die noorde van Botswana - van Kasane deur die Chobe- nasionale park, die Savuti en die Moremi-wildreservaat na Maun - gery het.

Dis nie my eerste avontuur in dié gedugte motortjie nie. Ek het al in Mpumalanga op tweespoorpaaie die berge ingery met een, en in 'n ander deur die Richtersveld getoer. En elke keer raak ek meer verlief op die Jimny.
En ek sien hulle dan met my terugkeer oral - op die oop pad, op grondpaaie met dakrakke wat gelaai is met bagasie, in helder kleure in die parkeerarea by die winkelsentrum.
In my agterkop weet ek dis die Baader-Meinhof-verskynsel, of frekwensie-illusie, wat my beet het. Dis my brein wat met my mors.

Ek en my vrou het 'n wonderlike toer deur Botswana in 'n Jimny gedoen. Ek wil nou self een koop. Nou registreer my brein net Jimnys terwyl dit die duisende ander motors op die pad na 'n obskure parkeergarage rangeer.
My verstand is dus bevooroordeeld wat Jimnys betref. Dis nie dat hulle orals is nie. Dis verdomd ek wat hulle uitsoek! Maar dié keer is dit Botswana se skuld.
Ons toer begin by die Kasane-lughawe in die noorde van Botswana. JJ du Toit van African Expeditions wag ons hier in met 'n konvooi van ses Jimnys.
JJ is al 'n legende in Suzuki-kringe danksy sy unieke safaris in Suider-Afrika waar jy of in jou eie Jimny kan ry of een kan huur. Sy span slaan kamp op en maak kos en jy ry saam. Heerlik, en JJ-hulle weet wat hulle doen.
Vanaf die moderne klein lughawe ry ons gou eers 'n draai oor die splinternuwe Kazangulabrug wat Botswana en Zambië met mekaar verbind. Hier, waar die Chobe- in die Zambesi invloei, is dit die enigste plek in die wêreld waar die grense van vier lande - Botswana, Zambië, Namibië en Zimbabwe - mekaar in die middel van 'n rivier soengroet.
Ek was 10 jaar laas hier, toe dit 'n daglange ekspedisie en 'n doane-nagmerrie was om met 'n pont die rivier van een land tot 'n ander oor te steek. Deesdae is die proses blykbaar amper pynloos, maar vandag gaan ons nie die grens oorsteek nie.
Ons mik die Jimny se vierkantige neus terug Botswana in, want vanaand slaap ons by die Mwandi View op die Choberivier - sowat 75 km suidwes van Kasane.

Anton en Amelia du Plessis het hier 'n heerlike (en bekostigbare) lodge geskep waar jy of kan kamp (R190 per persoon per nag) of in selfsorgtente bly (R1 300 per nag vir twee) wat op 'n dek opgerig is. Elke eenheid het 'n dek wat oor die Chobe en die vloedvlakte uitkyk.
Ons is net betyds om vanaf die restaurant se dek die son te sien sak oor die Choberivier terwyl die lodge se hond, Bruno die Staffordshire-bulterriër, in die swembad gaste vermaak.

Seekoeie blaas wasem in die verte teen die agtergrond van 'n skarlaken skemer. Daardie aand raas die seekoeie buite ons tente, en vroegoggend word ek wakker met takke wat kraak. Buite op die dek kan ek net-net die logge lywe van 'n trop buffels uitmaak wat in die lang gras skaars 20 m vanaf die verhewe tent wei.
Ons groet vroegoggend vir Anton en Amelia, want vandag moet ons 190 km ry na die Tshaa-gemeenskapskamp op die Khwairivier, en in die dik sand gaan dit ons omtrent ses uur neem om daar te kom.
Ons blaas ons bande af tot 1 bar en dis nie lank nie of ons tref ons eerste sandpad (en ons eerste slagoffer) aan nie. Dis 'n Duitse toeris, sy vrou en tienerdogter wat in hul groot dubbelkajuitbakkie vassit in die sand.
Hulle is verheug om die konvooitjie Jimnys te sien wat soos vlugvoetige gimnaste oor die sand aangedans kom. Ons stop om te help.
Sy bakkie se bande is nog kliphard gepomp, en die man wil-wil stry toe ons vir hom sê ons gaan sy bande sy lugdruk aansienlik moet verlaag.
"Meneer, ons gaan of jou bande afblaas…," sê JJ vriendelik dog ferm vir hom "…of jy kan kies om hier te bly vassit." Dit blyk toe 'n aanbod te wees wat hy nie kan weier nie.
Vyf minute later, met sy banddruk op 1,1 bar, wikkel ons vinnig-vinnig die bakkie uit die sand. Sy vrou is so verheug sy stop vir ons 'n boksie sjokolade in die hand.
"Kasane is net 20 km die pad af. Jy sal daar jou bande weer kan opblaas," sê JJ vir hom. Hy ruil met die man nommers uit, en kry later 'n dankie-sê SMS wat sê hulle het veilig hul bestemming bereik.

Ons suiker sonder moeite voort in die Jimny's in 4x4-modus, en net af en toe moet ons die laestrekratkas inspan wanneer die sand regtig dik lê. Die motor weeg skaars 'n ton, en al is die 1,5 liter-enjin nie die sterkste nie, het die Jimny 'n uitstekende krag-tot-gewig-verhouding.
Ons ry rustig deur mopanewoude, verby koorsbome en kremetarte. Dis hier, in die wildernis, waar die Jimny in sy element is.
Ná middagete, en nie vêr van ons kampplek af nie, begin olifante en kameelperde hul verskyning maak. Ons sien 'n reuse swerm witrugaasvoëls, en vind later uit 'n trop leeus het daar naby 'n olifant platgetrek.

Dis waarskynlik dieselfde trop leeus wat ons later teen skemer naby ons kampplek op die oewer van die Khwai hoor kattemaai. Onmiskenbaar Afrika en 'n geluid wat 'n mens hoendervleis gee.
Hier kamp ons vir twee dae. Saans snork en nurk die seekoeie dat die bessiebome bewe, skaars 50 m van ons tente. Tussendeur rinkink die leeus, huil die hiënas en roep die gevlekte ooruile.
Soggens word ons wakker met die onmisbare roep van visarende, en een kom sit in 'n boom voor ons met 'n groot katvis in sy kloue.
Ons ry lang draaie al met die Khwai langs waar reuse krokodille in die son lê en bak, olifante rustig in die rivier bad en omgesukkelde seekoeie aanstoot neem wanneer ons een te veel foto wil neem.

Dis 'n voëlkykersparadys hierdie en ek merk die een na die ander spesie in my Roberts-voëlgids af: slangarend, breëkoparend, bontvisvanger, swaelstertbyvreter, berghaan, gewone troupante en geel- en rooibekneushoringvoëls by die dosyne.
Op pad na Maun waar ons vlug na Johannesburg vir ons wag, ry die een ná die ander groot sportnutsvoertuig en dubbelkajuitbakkie, baie wat boswaens sleep, verby ons.

Dit was altyd my droom om so 'n voertuig te koop. Maar nou het die Jimny, bekostigbaar en uiters bekwaam veral as jy 4x4 paaie wil ry, my hart gesteel.
As jy tot hier gelees het en nou self wonder of groter altyd beter is, skop die Baader-Meinhoff-verskynsel dalk in en begin jy ook Jimny's orals sien.
En dalk sien jy myne - 'n splinternuwe olyfgroen GLX met 'n Stellenbosse nommerplaat (die versoeking was te groot)!
Flits jou ligte. As jy 'n flits terugkry, is dit ek.













