FOTO's Nellie Brand-Jonker
As jy nog nie in Namibië gaan kamp het nie, moet jy 'n plan maak.
Ons buurland Namibië is 'n droombestemming. Dis 'n land met 'n keurspel van kleure, geure en teksture, en 'n plek waar jy om elke draai iets anders as by jou vorige oornagplek kan beleef - van die woestynland in die suide, die amper spookagtige Skedelkus, die bergryke Kaokoland tot by die waarlik betowerende Caprivistrook.
Een enkele reis hier gee jou 'n leeftyd se herinneringe.
Die Etosha- nasionale park in die noordweste tel ongetwyfeld as een van daardie bestemmings wat 'n mens móét sien voor jy lepel in die dak steek. Dié wildtuin strek oor 'n gebied groter as 22 000 km2 en is genoem na die Etoshapan wat bykans in sy geheel binne die park se grense val. Dié pan - die naam beteken "groot wit gebied" of "plek van droë water", afhangend van wie jy vra - is bykans 5 000 km2 groot.
Honderde spesies wild, voëls en reptiele noem die park hulle tuiste en jy kan hier kom soek vir leeus, jagluiperds, swart- en witrenosters, olifante, kameelperde, voëls en... en... en...

Die winter is die beste tyd van die jaar om Etosha te besoek, want dan is dit droog en die wild hou naby die watergate. Jy is dus so te sê gewaarborg om minstens 'n paar van die diere op jou moetsienlys te kan doodtrek. En die goeie nuus vir kampeerders is: Al hoe meer lodges rig nou kampplekke in.
Ons het by drie kampplekke in en om Etosha gaan kamp: Etosha safari camp, Olifantsrus en Tamboti. Moenie wag as jy nog nie daar was nie...
Etosha safari camp
Groen is die land

Die goue reël in hierdie geweste is om so naby as moontlik aan die wildtuin te wees - jy wil basies voor in die ry staan as die hek met sonsopkoms oopmaak. Hier by die Etosha Safari Camp, sowat 10 km van die Etosha- nasionale park se Anderssonhek af, voldoen jy dubbel en dwars aan dié immerbelangrike reël, en jy kamp boonop by 'n meneer van 'n kampterrein wat na al jou behoeftes omsien.
Dit reën nie baie in hierdie geweste nie en daarom is dit te verstane dat gras nie iets is wat jy by elke kampplek sien nie.
Om die waarheid te sê in dié deel van die wêreld is kampplekke met gras so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande.
Hierdie kampplek het egter gras in oorvloed. Dit is omtrent 'n welkome gesig as jy al die pad van Gauteng af gesleep het.
Twintig staanplekke, in die koelte van mopaniebome, is in 'n sirkel uitgelê en nie afgebaken nie. Vyf mense word per staanplek toegelaat. Hier is 'n kragpunt (huissok), lig en 'n losstaande braaidrom met 'n rooster by elke staanplek. Krane en vullisdromme staan tussendeur versprei en hier en daar staan klein betontafels waarop jy en jou gesin kan sit en eet.

Kyk net mooi, want daar is 'n klompie krane met water wat jy nie mag drink nie. Hulle is duidelik gemerk.
As jy 'n kampvuur wil maak, kry jou staan by een van die handjie vol staanplekke met 'n braaiput. En daar is beswaarlik 'n beter manier om oor alles te gesels wat jy die dag beleef het as om 'n hardekoolvuur - in jou kampstoel met 'n koue lafenis in die hand.
Badtyd
Wanneer dit tyd is om die stof van die dag af te was is hier twee ablusieblokke om van te kies - een aan jou regterkant soos jy by die kampterrein inry, en een aan die verste punt. By die eerste een is afsonderlike geriewe vir mans en vroue, albei met drie storte, drie toilette en drie wasbakke met spieëls. Die storte - met gordyne - staan in 'n ry in 'n gang. Jy het 'n bankie voor elke ingang waarop jy jou handdoek en skoon klere kan neersit. Jy kan egter nie in dié blok jou hare droogblaas nie, want hier is nie 'n kragprop nie.
Die tweede ablusieblok is groter as kleinboet by die ingang, en daar's vier van alles: toilette, storte en wasbakke met spieëls. Die storthokkies is in twee verdeel met 'n bankie en hake aan die droë kant.
Jy kan ook jou haardroër en elektriese skeermes hier by die wasbakke inprop.
Jy kry selfs dubbellaag-witgoud as jy hier kom kamp.
Die opwasgeriewe is in hulle eie klein geboutjies. Aan die een kant is 'n wasbak en werkblad waar jy jou skottelgoed kan pak en aan die ander kant twee diep klerewasbakke. Drie van dié geboutjies is tussen die staanplekke versprei.
Hou jou rommel sover moontlik ook apart, want die oordbestuur doen hulle deel as dit kom by herwinning. Op twee plekke in die kampterrein staan dromme vir onderskeidelik glas, metaal, papier en plastiek.
Sit terug en ontspan
As jy vir 'n paar dae hier kom uitspan, hoef jy nie elke dag wildtuin toe te ry nie.
As jy verkies om dit vir 'n dag lank rustig te vat, kan jy jou handdoek, sonroom en nuwe WegSleep vat en langs die swembad gaan ontspan.

Die ronde swembad is omtrent so groot - en diep - soos die plaasdam op jou oupa se plaas en om die water is sambrele en lêstoele waar jy die kinders rustig kan lê en dophou. Van die swembad af loop jy met 'n stel trappe af na die Down Corruption-kroeg waar jy vir jou 'n rock shandy of ligte middagete kan bestel as jy te lui is om nou al die vuur aan te steek ('n hoenderschnitzel met tjips en slaai kos R90). Jy kan ook die gratis Wi-Fi by die restaurant en kroeg gebruik om gou vir Swaer Piet te WhatsApp om te hoor of alles nog reg is by die huis.

Net regs van die kroeg is die restaurant-winkel-en-ontvangskantoor - 'n unieke plek. Die hele gebou is amper soos 'n museum wat jou op 'n reis van Namibië se onafhanklikheidswording neem.
Die mure is beplak met plakkate uit die jare tagtig met politieke partye wat almal vrede en demokrasie vir die mense van Namibië belowe. "Swapo will win, Namibia will be free," sê die een, "Vote DTA for Peace, Democracy and Prosperity" die ander.
'n Plakkaat van die Republikeinse Party sê Henk Mudge moet Namibië se volgende president wees, terwyl 'n Swapo-plakkaat op die oorkantste muur met 'n glimlaggende Sam Nujoma spog. Reg langs 'n plakkaat van Nujoma is 'n foto van die Hollywood-akteurs Hillary Swank en Morgan Freeman met die Oscar-beeldjies wat hulle vir die rolprent Million Dollar Baby gewen het. Dis onseker wat dít met die geskiedens van Namibië se onafhanklikheid uit te waai het. Dalk hou die mense hier maar net besonder baie van dié fliek.
Dís hoe jy ry
Ry van Outjo af met die C38 in 'n noordelike rigting.
Ná 120 km sit die ingang na Etosha Safari Camp aan jou linkerkant.
GPS: S19.411203 E15.924286
WegSleep sê: Die sekerheidswagte is dag en nag aan diens hier; dus kan jy jou goed met gemoedsrus los en vir die dag Etosha toe trek.
Olifantsrus
Plek van die grootvoete

Etosha se jongste kampterrein, Olifantsrus, lê in die weste van die wildtuin, op die pad tussen die Okaukuejo- en Dolomite-kamp, en is die enigste oorblyplek in die nasionale park wat ekslusief vir kampeerders is.
Die wêreld hier is so ongerep as wat kan kom, want die kampterrein het minder as twee jaar terug sy deure oopgemaak en lê in 'n deel van die park wat tot onlangs toe nog beskut was teen 'n oormag toeriste.
Dis egter meer geskik vir jou boswa as jou Penta, want dit is grondpad hierheen, een wat nie goed onderhou word nie, en dis 'n toets vir selfs die mees gesoute slepers onder ons.
Wat sy geskiedenis betref, is die kampplek gebou op die plek waar meer as 500 olifante geskiet en geslag is as deel van 'n uitdunningsproses in die vroeë jare tagtig. Die slagpale staan vandag nog hier.

Olifantsrus se trots is 'n uitkykpunt by die watergat, 'n dubbelverdiepinggrasdakrondawel waar jy wild op twee vlakke van nader bekyk.

Die mense van Namibia Wildlife Resorts beweer skugter diere soos swartrenosters en swartgesig-rooibokke is meer gevestig in dié deel van die park, wat beteken jy staan 'n beter kans om hulle hier te sien.
In die kampterrein is tien staanplekke. Jou plek word aan jou toegeken wanneer jy bespreek het en van hulle is groter en meer afgesonder as ander.
Jy deel 'n kragpunt (gewone huissok) met jou buurman en moet 'n verlengkoord van minstens 20 m saambring. Jy kry jou eie losstaande braaier met 'n rooster en elke staanplek het ook 'n betonbraaiput waar jy in die stilte om jou kampvuur kan ontspan.
Die staanplekke is redelik opmekaar en die mopaniebome is meer soos struike, wat beteken jy kan sien wat jou bure se doen en late is.
Jy moet ook mooi beplan waar jy jou tent of wa gaan staanmaak, want die koelte by die meeste staanplekke is maar skraps. Die grond is ook nie oral ewe gelyk nie.
Hoe kan ons help?
Die personeel is vriendelik en behulpsaam en jy kan hulle vra om van jou bederfbare goed in die vrieskas te hou.
Hier is ook 'n kiosk waar jy ligte etes en goed soos koeldrank en bier kan koop. Die kaartmasjien werk nie altyd nie - vat dus maar genoeg kontant saam.
Die ablusiegeriewe is netjies en modern en word elke dag skoongemaak. Dit is in twee gedeel met die stortgeriewe (twee storte en een wasbak elk vir mans en vroue) aan die een kant en toilette (drie vir die vroue, en een vir die mans, plus dan twee urinale) aan die ander. Tussenin is die opwasgeriewe en diep wasbakke. Die warm water word met sonpanele en 'n kragopwekker gemaak. Hier is ook kombuisgeriewe in 'n afsonderlike gebou.
Wel, dit is nou as 'n kamer met een tweeplaatstoof vir jou as kombuisgeriewe tel.
Dís hoe jy ry
Ry van Okaukuejo af deur die Sprokieswoud in die rigting van die Dolomite-kamp.
Sowat 50 km nadat jy by Sonderkop-kamp verby is, draai jy regs by Olifantsrus in.
GPS: S18.971116 E14.861153
WegSleep sê: Probeer om staanplek nr. 10 te kry wanneer jy bespreek. Dis groot met die meeste skaduwee en is die naaste aan die uitkykpunt.
Tamboti-kampterrein
'n Wildtuin langs die wildtuin

Die Tamboti-kampterrein is in die Onguma- private reservaat net buite die oostekant van Etosha geleë. Hier kamp jy in weelde in die oortreffende trap. Buiten dat hier om verstaanbare redes nie gras op jou staanplek is nie en jy nie 'n braairooster kry nie, is hier min wat ontbreek.
Die Onguma-reservaat is een van daardie geheime wat jy teësinnig met ander deel omdat jy dit eintlik net vir jouself wil hê wanneer jy daar kamp. Dit is 'n wildtuin van 340 km2 rég langs Etosha.
Hier is meer as 30 wildspesies te sien en jy kan enigiets van koedoes, kameelperde, elande, gemsbokke, hartbeeste, sebras en rooibokke tot vleiseters soos leeus, jagluiperds en luiperds langs die pad teëkom.
Die jongste toevoeging is 'n familie swartrenosters wat onlangs hier gevestig is.
Dit is ook 'n topbestemming vir voëlkykers, en volgens die oordbestuur is hier honderde geveerde spesies in dié geweste te sien.
Kampkoning
Jy kamp op een van 15 groot staanplekke en by almal van hulle is jy heel afgesonder van jou bure. Jou staanplek is met kalkklippe uitgelê onder die tambotiebome en dit voel kompleet of jy hier jou eie lappie aarde het. Elke staanplek het ook 'n betonbraai waarom almal kan sit en kuier.
Die ablusiegeriewe is modern, skoon en netjies... en net vir jou. Die gebou is in drie dele verdeel met die toilet en 'n wasbak in een vertrek en 'n stort en wasbak in 'n ander. Die badkamer het 'n bankie, hake, handdoekreling en 'n oppervlak langs die wasbak om jou droë goed te pak.
Tussen die toilet en die stort is jou kombuis met twee wasbakke en 'n werkoppervlak met genoeg bêreplek vir al jou kombuisgoed. Jy kan ook jou kampyskas hier inprop en jou kamera en selfoon se battery herlaai.
Die kampterrein se swembad is by die ontvangskantoor, sowat 5 minute se stap van die kampterrein af. Hier is lêstoele onder sambrele en die kombuis sit ontbyt en ligte etes voor - jy moet hulle net waarsku as jy iets wil bestel.

Hier is ook 'n groot stoep waar jy op een van die gemaklike stoele kan wag om te sien of daardie groot katte gaan kom drink by die watergat wat sowat 150 m veld-in lê.
Dís hoe jy ry
Ry van Tsumeb af met die B1 in die rigting van Oshivelo.
Draai ná 84 km links op die D3001.
Volg dié pad vir 18 km en draai regs in by die Onguma-reservaat se hek.
GPS: S18.706659 E17.046085
WegSleep sê: Jy is doodseker jy gaan stilte hê wanneer jy hier kamp, want musiek word nie toegelaat nie.













