Nog nooit by die Voortrekker-monument gewees nie? Gaan kyk!
Hier's 'n voorsmakie van wat 'n mens alles daar te sien kry - van 'n massiewe laer van klipossewaens tot Hans Dons se Bybel - heel profeties oopgeslaan by die boek Job.
FOTO'S SAM REINDERS

Die Voortrekker-monument is nou een van Suid-Afrikaanse se mees bekende besienswaardighede. Selfs al het jy nie veel erg aan die Groot Trek-geskiedenis nie, is hierdie argitektoniese meesterstuk van Gerard Moerdijk iets om te aanskou. Dit het twaalf jaar se bloedsweet en byna 60 000 groot granietblokke gevat, daar's verstommend baie aandag aan detail gegee en die simboliek bons van die mure af.

Die museum in die kelder is vol huishoudelike items uit die Groot Trek, soos kruithorings en voorlaaiers, die dolosse en kakebeenwaentjies waarmee die kinders gespeel het, Hans Dons de Lange se Bybel (wat heel profeties by die boek Job oopgeslaan is) en Piet Retief se vrou, Magdalena, se silwer snuifdosie.

Dis ook hier waar 'n mens die Treklewe-tapisserie bestaande uit 15 panele kan bekyk. Lede van die ATKV se Vrou-en-Moederbeweging het vir agt jaar hieraan gewerk - die kunswerk bestaan uit 3,3 miljoen stekies! En rondom die senotaaf wapper die vlae van talle kleiner Boererepublieke van kortstondige bestaan, soos Stellaland en Goosen (waarvan die hoofstad Heliopolis genoem is).

Die Heldesaal se boogvensters staan sowat 40 m hoog en elkeen bevat 1072 stukkies Belgiese glas. Die marmer vir die vloer kom uit Marble Hall se groewe.

Die 92 meter lange fries is deur vier plaaslike beeldhouers (Hennie Potgieter, Laurika Postma, Frikkie Kruger en Peter Kirchhoff) ontwerp, en in Italië deur 40 man met beitels uitgekap. Daarna is die afsonderlike gedeeltes (wat altesame 200 ton weeg!) hierheen verskeep en gemonteer.

Die ossewalaer rondom die monument is op die skaal van die laer by Bloedrivier ontwerp (bestaande uit 64 waens). Van bo uit die monument kyk 'n mens na die noorde en ooste oor Pretoria uit,

Die 169 trappies na bo is die moeite werd. Binne-in die monument kyk 'n mens van hier bo af op die senotaaf . Die son val elke jaar op 16 Desember direk op dié senotaaf en verlig die woorde "Ons vir jou Suid-Afrika".













