Reis

Kom speel wegkruipertjie

Kom speel wegkruipertjie

Buite Rawsonville eindig die Stettynskloof teen 'n berg wat dwars voor jou in die pad staan, en aan die voet van dié berg lê die Dwarsberg Trout Hideaway langs die Holslootrivier.

Dié enorme kampplek is net 90 minute se ry van die Kaap af en dis 'n mooi pad soontoe. Jy vat die N1, ry met die Du Toitskloofpas en die 4 km lange Hugenotetonnel langs en draai dan van die hoofpad af na Rawsonville. Ná die afdraai kronkel die pad tussen plase, wingerde en boomlanings deur tot op die dorp.

Rawsonville is op die Kaap se Roete 62 wat deur van die land se vrugbaarste wynvalleie kronkel - van hier af is dit nog sowat 'n halfuur se ry tot by die kampplek.

Op pad kan jy by landgoedere soos Goudini, Merwida, Avondrood, UniWines en Kirabo aftrek en 'n bottel of twee goeie wyn koop vir jou kampvuurkuiers.

Die Dwarsberg-kampplek is op 'n werkende vrugte-en-wynplaas en, soos die naam sê, is dit 'n plek waar jy vir 'n ruk kan kom wegkruip en van die stadsgedruis vergeet. Om die kampplek lê die plaas wyd en oop en jy kan in die vars lug en die natuur stap en bergklim en in die skoon rivier en poele inspring of lyn ingooi vir 'n forel, baars of baber.

Die staanplekke is groot en privaat en jy het jou eie badkamer.

Dis groot!

Jy kan maar sê jou staanplek is 'n klein kampterrein op sy eie met 'n private badkamer.

Jou kampbure op die ander staanplekke is ver en jy sien of hoor nie veel van hulle van jou wa se stoep af nie. Op van die staanplekke - soos nr. 1 - is jy só ver van die res af dat dit voel of jy heeltemal alleen kamp op die plaas.

Op die staanplekke waar die koelte skraps is, is koelteafdakke gebou.

As jy 'n hangmat saambring, is hier genoeg bome om hom te anker vir 'n middagslapie.

Vir jou kampvuur het jy 'n vuurput op jou staanplek, maar jy kry ook 'n losstaande braaier ingeval jy eerder daarop wil braai. Op elke staanplek is vullisdromme vir jou gemors.

Badhuisie toe

Die private sinkdakbadkamers op die staanplekke lyk nie almal eenders nie en is nie almal dieselfde uitgelê nie. Van hulle is met riet gebou en ander met hout. Party se vloere is van hout en ander s'n van beton.

Dit is basiese badkamers, maar gerieflik en netjies. Jy stort altyd warm, al staan jy op een van die staanplekke sonder krag, want die kraglose staanplekke het gasgeisers. Elke badkamer het ook 'n opwasplek vir jou vuil skottelgoed.

In die badkamer en by die opwashoeke is ook vullisdromme.

Forel, voëls en fynbos

Vlieghengelaars hou van die Holslootrivier met sy helder water. Dit is een van daardie hengelplekke waar 'n damwal regdeur die jaar sorg vir die vloei van konstante koel water en waar die water nie in die somer te warm raak vir forelhengel nie.

Maar onthou, al die forel wat jy hier vang, moet weer teruggegooi word in die water.

Ná oorstromings vier jaar gelede het baars en baber in hierdie waters beland en jy kan vir hulle ook lyn ingooi. Jy hoef hulle nie terug te gooi nie, want hulle is indringers wat die forelbevolking bedreig deur die eiers te vreet.

Pak ook jou verkyker en voël- en planteboeke in. In die kloof swerf 'n alleenlopervalk en jy kan ook jou oë spits vir Kaapse suikerbekkies, kwikstertjies, Kaapse berglysters, grondspegte en witvlerkkanaries.

Tekkies en swembroeke

Die plaas is groot en jy kan ver stap en fietsry óf bergklim en swem. Stappaadjies lei tot by watervalle en jy kan al langs die bergpad tot bo by die Stettynskloofdam se wal stap of fietsry.

As jy egter nie die moed het om die 11,8 km na die damwal te stap nie, kan jy met die kar soontoe ry.

Die silwerskoon water van die Holslootrivier nooi jou om te swem. Op plekke kan jy in die koue bergwater stroomaf dryf of jy kan in een van die vele poele baljaar.

Liana Mocke

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM