Reis

Kopstampery oor Kruger-restaurante

Uitsig oor die Letaba-rivier. Foto: François Haasbroek
Uitsig oor die Letaba-rivier. Uitsig oor die Letaba-rivier. Foto: François Haasbroek (François Haasbroek)

Ons het 'n lang dag agter die rug, en Letaba-ruskamp lê soos 'n oase voor ons. Ons is vroegoggend weg by die Massingirdam in Mosambiek, waarna kilometers se sinkplaatpad na die grenspos by Giriyondo (en die grenspos self) ons senuwees behoorlik getoets het.

Maar dis oukei, want ek weet daar wag 'n hamburger en 'n koue bier met my naam daarop op die dek van Letaba se restaurant. Ek en my vrou, Ronel, se een wens is nou om ná 10 dae en 2 836 km se ry deur Mosambiek, rustig te raak en kyk hoe die diere in die laaste strale van die son by die Letaba-rivier kom drink.

Die restaurant lyk 'n bietjie donker toe ons daar instap, en ek's verbaas om net enkele mense by die tafels op die dek te sien. 'n Kelnerin rus lusteloos teen 'n muur. "Is julle oop vir ete?" vra ek. Ja, sê sy. Maar hulle sluit al 5 nm. want hulle het nie krag nie. Hulle gebruik gas om kos te maak, maar die meeste van die goed op die spyskaart is nie beskikbaar nie. En nee, hulle kan nie 'n cappuccino maak nie. En as daar nie krag is nie, is die bier ook nie koud nie. Ag nee man!

En dan onthou ek die persverklaring wat ek net voor my vertrek na Mosambiek gesien het. SANParke het in September die krag na die restaurante in die Letaba-, Satara- en Olifantsruskamp in die Krugerwildtuin afgesny.

Letaba-ruskamp. Foto: Esma Marnewick
Letaba-ruskamp. Foto: Esma Marnewick (Esma Marnewick)

Dit volg ná vele besoekers gekla het oor swak diens by die restaurante. Die maatskappy Ringgold, wat die restaurant bedryf, het volgens SANParke ook nie betyds hul uitstaande rekeninge betaal nie. Die bakleiery het nou in 'n regsgeding ontaard, en sleep steeds voort.

Ons het maar omgedraai en uitgeloop.

Kyk, die roosterkoek en hoenderlewertjies by SANParke se tydelike buitelug-restaurant onder die bome buite die Olifantsaal was nie sleg nie. Die bier was koud en die diens flink en vriendelik. Maar om met 'n blouaap in die boom bo jou oogkontak te maak, is nie dieselfde as om op die dek te sit en kyk hoe 'n trop olifante voor jou skouers skuur nie. Daai restaurante kan 'n goudmyn wees as dit reg bestuur word. SANParke moet nou net die regte mense kry om dit te ontgin.

Pierre Steyn

Pierre Steyn

Pierre Steyn is die redakteur van Weg!-tydskrif.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM