Die jaarlikse Draadkar Grand Prix is 'n groot gebeurtenis op Philipstown en besoekers kan dié Saterdag uitsien na foto-uitstallings, 'n pretloop ten bate van kanker, stalletjies en die draadkar wedloop.

FOTO WILLEM VAN DER BERG
Suid-Afrika se eie Lewis Hamilton kan dalk net een van die dae uit Philipstown verrys. Die land se enigste Draadkar Grand Prix word jaarliks op dié dorpie sowat 50 km noordoos van De Aar gehou.
Kinders bou lank voor die tyd aan hulle resieskarre. Goeie bande en stuurmeganismes is allerbelangrik, want die baan loop oor min teer en baie grondpad.
Die kleintjies (o. 8 jaar) hol net om die blok, maar die groter kinders het 'n stewige 2 km om kaf te draf.
Die halfpadmerk is oorkant die Werda-supermark onder 'n staning bloekombome - hier kan jaers 'n koeldrank of water in die verbygaan gryp.
Dan moet hulle nog teen die polisiestasie verby, om die NG Kerk en in die hoofstraat af tot by die eindstreep by die motorhawe.
Kom hou die jaery dop en hou fees saam met die Philipstowners op 2 September.
Volg die dorp se gebeure op Facebook - soek vir Philipstown.












