Reis

Goeie tye sonder diep sakke: Leser wys jy kan lekker wegbreek naby die huis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Voor 'n onlangse wegbreek gryp ek my Oktober-November 2022- en Desember 2022-Januarie 2023-uitgawe van Ry & Sleep. Dit is om te lees terwyl ons toer.

Maar ek neem nie skoon papier saam nie en gebruik uiteindelik van julle tydskrifte vir notas. Dis Januarie en die skole het pas heropen. Vir my en my vrou, Tracy, beteken dit tyd vir ry.

Ons vat dus grondpad vir ons vyfdagreis: Nie langer as 3 uur of 250 km van die huis af nie. Stofpaaie, riviere, berge, son en see en, die belangrikste van alles: Geen selfoonsein nie lê voor. Dit terwyl ons selfversorgend gaan wees. Die berge net buite Kareedouw is ons eerste bestemming. Hier ontvang en verwelkom die stilte ons.

Binne 10 minute is ons opgeslaan en geniet 'n yskoue bier - die Boeing is immers al oor. Die volgende dag verwelkom 'n gloeiende rooi die nuwe dag terwyl die koffie aan die kook is.

Ons soek vinnig 'n bietjie oggendskaduwee, want die son bak al vroeg-groeg neer. Terwyl ons nog sit en teug aan die koffie, kom 'n loerie soos 'n skouduif van die duskantse kranse af oor die rivier gevlieg. Hy vind skuiling in ons koelteboom.

'n Uitgevrete pofadder seil uit die oorkantse skaduwee tot in die son, maar verdwyn weer tussen die riete. Intussen kom stel 'n nuuskierige likkewaan ondersoek in na ons kano wat op die sandbank staan.

Ons kyk of ons 'n byenes agter ons teen die krans kan sien, want daar is 'n gezoem soos die besige N2 daar naby ons huis wanneer al die binnelanders see toe skiet.

Iets trek my aandag tussen die lang gras... en daar sien ek sowaar 'n bobbejaanspinnekop. Hy skiet soos 'n pyl uit 'n boog oor die gras op soek na ander skuiling.

Ek voel soos 'n politikus om dit alles oor te vertel, maar dit is die reine waarheid - alles op ons eerste oggend hier.

Ons het ook gaan roei. Ek word tot die uiterse beproef en vra vir Tracy op my mooiste manier om nie so paniekerig te wees nie en eerder voor haar te kyk. Anders vaar ons die rotse in... hemel alleen weet hoekom sy so vinnig wil roei en oral water spat.

Ons oorleef dit en plant 'n sambreel in die vlak water sodat ons verder teen die son kan skuil. Soos ware skelms swem klein kurpertjies nader en kom knibbel sommer aan ons lyf.

Die Strydoms hou van kampplekke nie te ver van die huis af nie. Hoe meer afgesonder, hoe beter... terwyl die natuur sy gang gaan.
Die Strydoms hou van kampplekke nie te ver van die huis af nie. Hoe meer afgesonder, hoe beter... terwyl die natuur sy gang gaan.

Die Land Rover Defender se enjin staan en luier, en binne 'n oogwink is drie dae verby. Ons moet 'n steil bult uit, maar Tracy verkies om dit uit te stap, want sy hou nie van die gestamp en stoot nie - en hierdie is 'n lelike entjie. Dis boonop warm.

Maar Tracy mik vooruit en ek pik haar aan die bokant op. Ons maak weer 'n vinnige draai op Kareedouw en vul die ys, vleis en bier aan. Anglers' Paradise naby Eersterivierstrand is volgende aan die beurt - hier bring ons twee onvergeetlike dae deur.

Ons spesifieke staanplek is afgesonder, en jy het 'n 4x4 nodig om hier uit te kom.

Ons kamp langs die see. Die son is weer vroeg-vroeg op sy stukke, maar die weer verander skielik en ons beland in 'n chaos van wind en reën. Die daktent én die tent se stoepdak staan hulle man, maar die kantseile word weggeskeur. Dit laat ons met 'n baie klein skuiling. Die water stroom letterlik uit die hemele en ons kom nat en modderig anderkant uit.

Bewolkte weer met 'n sagte reën groet ons in die nuwe oggend. Ons kom tot ons sinne en geniet die laaste dag van ons kort wegbreek. Ons kyk vir oulaas hoe die kamikaze-voëls - wat lyk of hulle een té veel agter die blad het - die rowwe branders induik.

'n Mens wonder of hulle dit gaan maak, maar dan steek hy sy kop weer iewers anders uit, net om weer die "aanval" van stapel te stuur. Terwyl ons staan en tande borsel, sien ons hoe 'n slang 'n paddatjie vang in die poel wat nie gister daar was nie.

Ons het 'n wonderlike tyd agter die rug, en ons was nie te ver of te lank van die huis af weg nie. Jy hoef nie ver te ry en diep sakke te hê om goeie tye te geniet nie. Al wat ons weet, is dis tyd vir ry.

Ons hoor graag wat jy op die hart het!

Skryf vir ons by rysleep@weg.co.za en onthou asseblief om jou volledige adres en kontakbesonderhede te gee.

Ry & Sleep behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort - en na goeddunke in die tydskrif, op die webwerf en elders te gebruik.