Die beplanning
Op 'n Maandag in Junie loer ek na die weervoorspelling om my planne vir die week te maak. Ek sien daar word 'n storm voorspel - met die eerste groot sneeu van die jaar!
Ek bel onmiddellik my bergklimmaat Michael en vra of hy wil saamkom: Ek wil net voor die storm en die sneeu 'n berg uitklim en êrens tent opslaan. Só kan ons hopelik die volgende oggend in 'n wit sprokieswêreld wakker word.
Ons beplan die avontuur en soek plekke waar ons die beste kans op sneeu gaan hê en waar toegang nie 'n probleem sal wees nie. Ons besluit toe om die Du Toitspiek in die Limietberg-natuurreservaat te klim.
Dié bergspits is byna 2 000 meter bo seespieël en ons hoop die storm sal die berg ordentlik tref en sorg vir baie sneeu. Ons ken die berg goed en het selfoonontvangs vir ingeval daar 'n noodgeval is.
Ons beplan alles haarfyn en maak voorsiening vir ekstra kos vir as ons dalk in die sneeu vasval. Verder pak ons goeie toerusting en klere in - die soort goed wat 'n mens nie sommer gewoonlik in Suid-Afrika sal dra nie, maar wat eerder geskik is vir veel kouer plekke.
Die avontuur begin
Die weervoorspelling sê dit gaan teen 6 nm. reën en ons val vroegoggend in die pad. Die wind waai baie sterk, maar daar is nog nie 'n wolkie op die horison te bespeur nie.
Later die middag slaan ons kamp op by 'n plek wat ons glo redelik beskut sal wees teen die wind - sowat 200 meter onder die spits. Die uitsig is fantasties en gou is die koffie gemaak. Michael rook sy pyp en ons gesels land en sand terwyl ons op die sneeu wag. Dis heerlik om hier te sit, met al ons probleme wat aan die voet van die berg gebly het.
Die sonsondergang roer iets in my binneste. Ek kan nie wegkyk van die helder kleure op die horison nie. Maar ek weet: As die son weg is, gaan dit kóúd wees hierbo!
Die wind waai en net ná 6 nm. val die eerste druppels. Kort daarna besef ons daar gaan nie vannag veel geslaap word nie: Die wind dreun kliphard onder in die vallei, soos vliegtuigenjins wat brul, en dit ruk en klap aan ons tent. Ons hou duimvas ons tent sal dit oorleef.
Dit reën tot in die vroeë oggendure, toe die waterdruppels skielik harder begin klink... dit hael. Dit word nog kouer en na 'n rukkie word dié geluide weer sagter. Ek loer by die tentdeur uit en sien sneeuvlokkies - die sneeu is hier.
En dit hou nie op nie! Ons lê die hele dag vasgevang in ons tentjie. Die sneeu hoop later op en druk die mure van die tent in. Ons moet sneeu van die bokant afskap en on deur oopgrawe... en steeds hou dit net aan met sneeu!
Die ure gaan verby en dag word nag, ons smul aan ons kos en drink koffie (maar nie te veel nie: Om 'n draai te loop in dié koue en sneeu is nie 'n plesier nie). Ons derde dag op die berg breek aan en dis windstil. Ons is angstig om te loer hoe dit buite lyk en trek die ritssluiter van die tent se deur oop. Buite lê die sneeu tot op kniediepte.
Om ons lê mis so dig, dit is haas onmoontlik om skaars 10 m voor jou te sien.
Die digte mis maak dit baie onveilig om tot heel bo-op die bergspits te klim. Boonop raak die roete van hier af meer ingewikkeld, al is dit net 200 meter se klim tot bo, en ons besluit daarteen.

Speel in die sneeu
Genoeg is genoeg, ons gaan nie nog 'n dag in die tent deur bring nie, besluit ons.
Ons pak vinnig op sodat ons aan die beweeg kan kom, maar sjoe, dis koud! Die hange van die berg is een groot ysmassa en oral waar daar 'n gelyk stuk grond is, lê die sneeu soos versiersuiker op 'n koek. Ons baljaar heerlik in die sneeu.
Ons moet mooi kyk om die roete ondertoe in die mis te kry. Die rotse is heeltemal bedek met sneeu, maar ons vat dit stadig en kom wel reg.
Ons gooi 'n paar sneeuballe, en verwonder onsself aan die sprokieswêreld om ons. Stadig maar seker drentel ons met die berg af en kry die laaste sneeu sowat 800 m bo seespieël.
Uiteindelik is ons by die kar. Ons raak ontslae van al die lae waterdigte en warm klere. Ek kyk weer op boontoe na waar ons die afgelope 2 nagte deurgebring het. Wat 'n unieke ervaring!
Het jy al kans gesien om in die sneeu op die berg te gaan kamp?
Laat ons gerus weet waar jou mees uitdagende kamp ooit was. Stuur jou storie na digitaal@weg.co.za.













