Ons het ook as kinders weke in die Krugerwildtuin deurgebring - ook toe ons later 'n jong paartjie was én uiteindelik weer saam met ons kinders.
Op ons reise het ons gewoonlik in hotelle, chalets of B&B's tuisgegaan, totdat ons 'n paar jaar gelede saam met vriende gaan kamp het. En daar byt die kampgogga ons.
Ons het 'n Swing Sprite gekoop en volgens ons behoeftes aangepas. Die aanvanklike plan was om die Swing vir nog Krugerbesoeke te gebruik, maar ons is nou al só gesout dat ons beplan om langer en meer gereeld by verskillende oorde te kamp.
Hier is 'n paar redes waarom ons van die woonwaleefstyl hou: Eerstens, die eenvoud: Minder is meer. Alles wat ons nodig het om ons lewe gemaklik te maak is by ons. Dinge soos ons eilandbed, die toilet, die lugreëling, ys-vrieskas, vier kratte vol kruideniersware, 'n buitekombuis, kameras, verkykers, fone en 'n tablet met kaarte daarop, 'n voëlkyk-app, my bank se app en die app om nuus te lees. Wat anders het jy nodig vir 'n eenvoudige en gelukkige lewe?

Tweedens is 'n mens nie plekgebonde nie. Jy sluit eenvoudig die huis, val in die pad en ontdek nuwe plekke en nuwe vriende. Nog meer sonsondergange en nóg meer wilde diere. In Suid-Afrika is ons geseën met lieflike kampplekke en die padnetwerk om daar uit te kom.
En dis 'n bekostigbare leefstyl - g'n wonder kamp en toer deur die land is besig om te groei nie.
Laastens is jy vry en onafhanklik. Wanneer ons die woonwa haak, kan ons enige roete kies en in die pad val, want ons het ons huis by ons.
Tog geniet ons dit om ons reise sorgvuldig te beplan. Vanjaar kyk ons na 'n suid-noord-toer deur die Kruger waar ons by Malelane begin en by Punda Maria eindig. Ons wil ook in die winter 'n draai maak in die Kgalagadi én Etosha. Tussendeur wil ons ook by 'n paar plaaslike kampplekke uitkom, en dan is dit weer terug na die Kruger en die strand. Ons tema is reis lig en naby die aarde.
Hierdie artikel het oorspronklik in April 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.












