Reis

Hoendervel gewaarborg! Strikkamera vang luiperds se paringsritueel vas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto's: Cape Leopard Trust

Luiperds is alleenloperdiere wat bykans heeltyd op hulle eentjie is, al swerwend deur hulle groot tuisgebiede. Dis ongewoon om strikkamerafoto's met meer as een kolkat te kry.

Wanneer dit wel gebeur, is dit gewoonlik 'n ma met kleintjies. Af en toe kry ons egter 'n gelukskoot van 'n ontmoeting tussen 'n mannetjie en 'n wyfie...

Wanneer luiperds paar, is dit 'n energieke, vurige en soms uitgerekte affêre. Hierdie twee katte het vir die eerste keer net ná 8.30 nm. op die toneel verskyn.

Die reeks foto's wat volg, wys hoe die twee met tussenposes mekaar omsirkel, lê en paar, weer sirkel, grom, sis en tandewys, en selfs 'n paar lugtoertjies uitvoer. Die laaste foto's is eers ná 10nm. geneem.

Wanneer 'n luiperdwyfie ontvanklik is om te paar en 'n mannetjie haar opspoor (onthou, luiperd-tuisgebiede in die Kaapse gebergtes is enorm), sal hy na aan haar bly en hulle sal oor die volgende paar dae herhaaldelik paar.

Die rede hiervoor is dat katte "geïnduseerde ovulators" is: Wanneer 'n wyfie in oestrus is, neem dit 'n hele aantal paringsessies om die vrystelling van haar eierselle te stimuleer.

'n Tweede rede waarom die mannetjie naby die wyfie bly, is omdat die wyfie in staat is tot iets genaamd heteropaternal superfecundation - fênsie woorde wat eenvoudig beteken dat twee of meer eierselle van dieselfde siklus deur sperm van verskillende parings bevrug kan word - wat kan lei tot tweelingwelpies met twee verskillende pa's as sy met meer as een mannetjie paar!

Dus, deur naby die wyfie te bly en herhaaldelik te paar, verseker die mannetjie dat die volgende werpsel welpies almal sý nasate is.

Hoe opwindend om hierdie gedrag op kamera vas te vang en 'n blik te kry op die geheime lewe van hierdie ontwykende groot katte!

Internasionale Luiperddag word op 3 Mei gevier. Lees meer by internationalleopardday.org.

Jeannie Hayward