Reis

RUBRIEK: ’n Kar wat hou van vakansiehou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Ek en my vrou, Jess, het onlangs 'n tweedehandse Subaru Outback gekoop. Dit was 'n winskoop, al het die Outback nie baie kilometers op die klok gehad nie.

Ons het meer spasie vir die twee kinders (en al hulle goeters!) gesoek en wou 'n veilige kar kry waarmee ons die langpad met gemoedsrus kan vat.

Die Outback is dit, én meer. Die kar klou aan die pad soos 'n luiperd aan die gorrel van 'n rooibok. Hy het spoedbeheer en 'n blitsige enjin waarmee jy verby ander ouens kan fluit sodra die pad twee bane word. Hy het gevorderde tegnologie wat jou veilig hou wanneer jy ry. Jy kan selfs die sitplekke warm maak.

Weet jy hoe lekker is 'n warm sitvlak as dit 5 °C buite is terwyl dit sous in die Kaap?

Al hierdie dinge is goed en wel. Maar skielik is daar nie meer drama wanneer ons die pad vat nie. Nóg duurder karre as 'n Outback bied selfs meer: spoedbeheer, hibriede enjins, blindekolkameras, parkeergonsers en hope ander slim eienskappe.

Een van die dae sal jy seker net jou kar by die muur hoef uit te prop (klaar gelaai), in te klim, die sitplek te stel en 'n uiltjie knip terwyl jou kar self Plet toe ry. Maar gaan dít pret wees?

My eerste kar was my ma se ou Golfie. En ek het ontvangs daarvan geneem presies twee dae nadat ek my rybewys gekry het - en dieselfde dag wat ek en my vriende op ons matriekvakansie vertrek het.

(Vir die rekord: Vandag se karre is dalk veiliger, maar daar's geen manier dat ek my kinders sal toelaat om van Johannesburg Ballito toe te ry twee dae ná hulle hulle rybewys gekry het nie. Ek kan nie glo my ouers het dit toegelaat nie!)

Die Golfie was tipies Volkswagen: Betroubaar, maar effens pap in die spiere. Dit het my glad nie gepla nie. My eerste modifikasie was om twee gate in die agterste pakrak te sny om plek te maak vir twee Pioneer 6x9-luidsprekers.

Dis nou sodat ons kon skud op die maat van 'n groep soos The Prodigy, of wat ook al ons geluister het in die somer van 2000. Harde musiek: net nog iets om die onervare bestuurder se aandag af te trek terwyl ons op die N3 ry...

Toe ons op Pietermaritzburg kom, het ons gedink dis snaaks om die verwarmer op volle sterkte te sit (dit was hoogsomer) sodat ons kon kyk wie eerste ingee en 'n ruit afdraai. Dit was soos 'n episode van Survivor. Ons het in poele sweet gesit, ons gesigte soos knolle beet - maar ons het dit wraggies gemaak tot in Ballito.

Daar het ons uit die Golfie direk na 'n koue bier "geswem". Hoe ons daai vakansie nie van domgeit omgekom het nie, sal die Vader alleen weet.

Die Golfie het saamgekom Kaapstad toe vir varsity. 'n Agterruitplakker het intussen bygekom: Feed the Rat. Hoekom? Want ek was 18.

My geliefde 6x9-luidsprekers is gesteel in Observatory - waar almal se 6x9's gesteel word - en die bakwerk het begin roes hier ver weg van die Hoëveld se genadiger klimaat vir 'n kar.

Die Golfie het my die Klein-Karoo se Roete 62 gaan wys, met die ruitplakker wat in die wind flap. Ek het gevoel soos 'n karakter in 'n Tarantino-fliek wat iets gaan oorkom.

Ek het per ongeluk die Prins Alfred-pas in die donker gery, en geleer hoe om afdraande uit rat uit af te rol om brandstof te bespaar. Op 'n ander toer na Velddrif het ons in die Golf geslaap ná ons onwettig probeer kamp het in 'n veld waarna die boer ons verjaag het.

Mettertyd het langer ritte in die Golfie aan gevaarlik begin grens. Die Feed the Rat-plakker het afgeval; die kar het begin batterye vreet en plesier daaruit geput om op ongeleë tye te oorverhit - een keer in die regterbaan. In spitsverkeer.

Ek het klaar gestudeer, werk gekry en getrou. Die oomblik het gekom om een van daai grootmensdinge te doen: skuld te maak! My vrou het haar Mazda Soho en ek my Golf van die hand gesit en ons het ons harte verloor op die wêreld se mees onpraktiese kar in menseheugenis.

‘ ... die Jimny het ons lewe soms moeilik gemaak, maar hy het karakter gehad. Soos om die baas van 'n chihuahua te wees."

Dit was 'n wit Suzuki Jimny. Die verkoopsman was seker mal oor ons - ek glo nie ons het die Jimny eens vir 'n toetsrit gevat nie. Ons wou net weet waar om te teken.

Die Jimny is 'n klein 4x4 wat nie terugstaan vir 'n rowwe pad nie. Maar om by 'n lekker stuk boendoepad uit te kom moet jy gewoonlik eers minstens 350 km teerpad ry, en dis hier waar die Jimny se swakplek lê.

Albertus van Wyk, 'n oudkollega wat toe redakteur van WegRy was, het 'n Jimny teen 120 km/h op 'n teerpad só opgesom: "Dis soos 'n enamel-bord wat agterop 'n bakkie rondbons."

Dis nou ás jy die Jimny kon aanhits om 120 km/h te haal. Gooi 'n dwarswind by en dié enamel-bord begin vibreer. Die kar het meer na 'n seilbootjie op die rug van 'n stormsee begin voel.

Op 'n teerpad was my hande altyd wit geklem om die stuur van die Jimny, en my voet plat op die versneller. Ek het gedurig my oë geknip, dalk om visioene van rampspoedige toekomstonele (Jimny rol in aankomende verkeer in, ensovoorts) uit my gedagtes te probeer vee.

En dan is daar die petroltenk. Dis so groot soos 'n koffiefles, en ek moes altyd lank voor ek nog in die boendoe kom, stop om weer vol te maak. Ek was paranoïes dat ek sonder petrol sou gaan staan en het op een kamptoer deur Namibië party van die kampgoed by die huis gelos sodat ek kon plek maak vir 'n tweede jerrykan.

Die groot, warm tent het dus tuis gebly en ek het 'n staptentjie ingepak. By Sesriem was dit yskoud en die wind het gewaai. Toe ek die staptentjie ooprol en opslaan, het ek besef hier kom moeilikheid. Die tentjie was gemaak vir "drie seisoene" (somer, lente en somer). Gelukkig was dit só klein dat ek en Jess mekaar deurnag genoeg liggaamshitte kon gee sodat ons darem nie verkluim het nie.

Die laaste strooi was die pynlike naweek kort nadat ons eerste seun gebore is. Vir dié wat nie weet nie: 'n Babasitplek word aan die agtersitplek vasgemaak en kyk agtertoe. Aangesien die Jimny nie agterdeure het nie, kon ons net deur die kattebakdeur by hom uitkom.

Pak nou ook als in daai piepklein 4x4 wat jou baba nodig het - kos, wasgoeters, klere, die stootwaentjie (en my bergfiets...) - en jy begin verstaan hoekom dit 'n stryd was om elke halfuur wanneer die kind aan die huil gaan, te stop, uit te klim, om te stap, die kind aan die slaap te sus... en dan nog kort-kort die dwarswind te moet aanvat, en, wag 'n bietjie, dis al weer tyd om vol te maak!

Dit was ongelukkig tyd om die Jimny koebaai te waai.

Ondanks dit als was ek lief vir die Jimny. Hy het ons lewe soms moeilik gemaak, maar hy het karakter gehad. Soos om die baas van 'n chihuahua te wees.

Dit bring ons by die Outback, met sy warmsitplekke en spoedbeheer. Die kilo's vlieg moeiteloos verby. Langafstandritte is nou stresloos - maar ook om die een of ander rede minder opwindend.

Tog is daar iets omtrent die Outback wat hom steeds laat uitstaan bo wérklik vervelige karre soos 'n Audi of BMW. Ons het die dieselmodel gekoop nadat Subaru besluit het om dié model nie verder in Suid-Afrika te verkoop nie.

Hoekom nie? Blykbaar is ons diesel nie skoon genoeg vir die kar se filter nie. Dié spesifieke filter raak verstop wanneer jy die Outback in die stad gebruik - kort entjies se ry tussen die huis en die werk, of skool toe en dan gou mall toe. Dís hoekom ons die kar so goedkoop kon koop!

Vir ons Outback se filterprobleem is daar net een kuur: ry vinnig en lang ente op die ooppad. Dan is die filter gelukkig. Met ander woorde, ons moet meer op vakansie gaan, want dis goed vir ons kar!

Hierdie wen-wen situasie beteken dat ons nou "gedwing" word om meer uit die stad te ontsnap.

Dit het dalk meer saai geword om langpad te ry, maar wanneer ek (stresloos) in die boendoe aankom en my kampvuurtjie brand en die volmaan begin lig agter die berge uit - dan loer ek na waar die Outback staan.

Smaak my amper sy glimlag is so breed soos myne...

Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Jon Minster

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM