Die bioloog dr. Ian Little, bestuurder van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) se habitatprogram, is onlangs in Londen as een van die wenners van die gesogte Whitley-toekenning aangewys.

Dié toekennings staan bekend as die "Groen Oscars" en wenners kry befondsing van meer as R500 000. Ian het dit gewen vir sy werk om die grasveldhabitat in KwaZulu-Natal te bewaar. Ons het by hom gaan hoor wat sy werk behels.
Waar kom jou liefde vir die buitelewe vandaan?
Dit was maar nog altyd daar. Ek het in die Drakensberg by Cathedralpiek grootgeword - my pa was 'n bosbouer daar. Ons het later vir drie jaar in Idaho (Amerika) gebly en toe op 'n plaas in die Oos-Kaap. Ek is al so lank as wat ek kan onthou lief vir diere en wilde plekke.
Wat behels die werk?
Die trust werk om wilde spesies en gebiede te bewaar. Die natuur word bedreig deur mense wat onverantwoordelik optree - gewoonlik as gevolg van gierigheid of onkunde. Ons probeer mense bewusmaak van ons werk deur te verduidelik hoe die mens ook sal swaarkry sonder dié natuurlike hulpbronne, maar die fokus bly op die beskerming van die natuur.
Hoe lyk 'n tipiese werksdag?
My pos behels ongelukkig dat ek op die oomblik meestal in die kantoor sit. Ek hou toesig oor al EWT se habitatprogramme en hou my besig met onder meer fondsinsameling en strategiese beplanning.
Ek mis die dae toe ek net op veldwerk kon fokus, maar geniet dit om saam met sulke passievolle mense te werk. Waar ek nou is, het ek die kans om op die lange duur 'n groter impak op bewaring hê - dit maak alles die moeite werd.
Ek probeer wel om so gereeld as moontlik in die veld te kom en wanneer ek in die buitelug vakansie hou is dit nou net nóg meet kosbaar!
Hoe het jy in dié loopbaan beland?
Ek dink die werk het my gekies. My PhD-navorsing het gefokus op grasveldbewaring en net daarna het dié pos beskikbaar geword. Ek was regtig baie gelukkig.
Wat's die beste deel van wat jy doen?
Om te sien hoe dinge ten goede verander vir besondere spesies en habitats, en om saam met sulke wonderlike, toegewyde kollegas te werk.
En die slegste?
Om die voortdurende verwoesting en geldgierigheid te sien wat so algemeen geword het in die moderne samelewing en by politici. Dit veroorsaak dat ek die mens al minder ag.
Hoe het dit gevoel om te hoor jy het die Whitley-toekenning gekry en waarvoor gaan die geld gebruik word?
Dit was wonderlik, al het ek nie regtig toe besef tot hoeveel erkenning dit gaan lei nie.
Die geld gaan gebruik word om die grasveld- en woudhabitat al op die Oostelike platorand noord van die huidige Ukahlamba-Drakensberg-park op die lange duur te bewaar. 'n Magdom inheemse en bedreigde spesies kom hier voor én dis een van die land se strategiese waterbrongebiede.
Hoe kan gewone mense help met bewaring?
Daar's verskillende maniere. Help ons om regeringondersteuning te kry vir bewaring en hou op met onverantwoordelike mynbou en ontwikkeling.
Leef self so volhoubaar as moontlik, sodat die impak op jou omgewing so gering as moontlik is. En ondersteun die EWT - dis 'n nie-regeringsorganisasie wat staatmaak op befondsing en skenkings om ons werk te doen. Hoe meer befondsing ons het, hoe meer kan ons vir bewaring doen (*ewt.org.za).
As my skip inkom… sal ek bewaringsgrond koop sodat belangrike spesies en habitats beskerm kan word.
My droombestemming is… onmoontlik om te kies, daar's te veel! Groot eilande soos Madagaskar of Borne is boaan die lys - dit word teen so 'n stink spoed verwoes dat ek graag die natuurlike skoonheid sal wil sien voor dit vir altyd weg is.
GROOT GETALLE
60 000 - Soveel hektaar grasveld is al deur Ian en sy span vir bewaring beveilig
2,4% - Slegs soveel van SA se grasveld word tans formeel bewaar.
60% - Soveel van ons grasvelde is onomkeerbaar omskep vir onder meer land- en mynbou.
10 - Suid-Afrika is een van die 10 lande ter wêreld met die meeste biodiversiteit (die grootste verskeidenheid dier- en plantspesies)
2025 - Dis wanneer die vraag na water in Suid-Afrika na verwagting groter sal wees as die aanbod.












