Reis

Ontmoet die skrywer: Peter Slingsby

Een van sy boeke, Ants of Southern Africa, is die eerste plaaslike veldgids oor miere. Dit sluit meer as 600 spesies in, met puik foto's, illustrasies en Peter se humoristiese, kundige en maklik verteerbare skryfwerk. Hy vertel meer.

Waarom miere? Ek stel al sedert my kinderjare belang in miere. En ek gebruik 'n mier as logo op my kaarte. Ek is al baie jare gefrustreerd met die gebrek aan 'n toeganklike gids tot plaaslike miere. Daar is webwerwe met baie foto's van dooie miere en lang tegniese beskrywings van hulle kenmerke, maar niks om 'n amateur, 'n opvoeder of selfs 'n professionele persoon van hulp te wees nie.

Hoekom is mense meestal mislik met miere? Baie mense verstaan nie dat die web van lewe op Planeet Aarde omvangryk en fyn verweef is nie, en elke klein deeltjie speel 'n rol om die groot geheel aan die gang te hou. Miere in jou huis, veral in die konfyt of suiker of oorskietkoek wat jy vergeet het om te bêre kan 'n ergenis wees. Dit is egter nie so wyd bekend dat al die huismiere wat ons so verpes, eintlik miere is wat ons deur menslike handel help versprei het nie.

Hoe begin 'n mens so 'n groot projek? Met 'n magdom leeswerk en heelwat besluite oor wat jy insluit of nie en om foto's in die hande te kry. Ek het ook in 2016 ná 'n operasie weke lank op my rug gelê. Dit was verpligte tyd vir navorsing en beplanning sonder enige afleidings. Maar ek beveel nie 'n rugbesering aan as voorvereiste vir boekskryf nie!

Was dit 'n uitdaging om 'n boek oor miere toeganklik te maak? Beslis, en ek hoop ek het dit reggekry. Die meeste miere is baie klein en byna onsigbaar as jy versiende is. Dis dus baie moeilik om van die kleinste miere sonder 'n vergrootglas uit te ken. Ek het probeer aandui watter miere jy met die blote oog kan sien of nie, en inligting gegee oor byvoorbeeld grootte, kleur, spesifieke kenmerke, watter tyd van die dag jy hulle kan sien en die habitat. Die foto's is besonders.

Vertel ons van Philip Herbst se bydrae. Philip is 'n kardioloog aan die Universiteit Stellenbosch met 'n passie vir makrofotografie - hy sê dit laat hom toe om klein wesens in hulle ware glorie te sien.

Sy insekfoto's op die aanlynprogram iSpot het my oog gevang en ek het vir hom 'n paar miere aangestuur wat ek nie self kon uitken nie - ek wou graag foto's hê om na Kalifornië te stuur vir uitkenning. Philip se foto's van miere van slegs 1,8 mm lank was ongelooflik. Kort daarna was hy op die heuwels van Tygerberg besig om miere af te neem.

Ons het vir hom miere versamel in die Sederberg, al langs die Weskus en Skiereiland. Later het ons selfs miere uit KwaZulu-Natal ingevlieg. Philip het meer as 100 spesies in die boek afgeneem en ek reken sy mierfoto's is wêreldklas.

Jy het ook akkurate, volkleursketse van miere geteken. Het jou kaarttegnieke hiermee gehelp? Ja, die tegnieke wat ek ontwikkel het met 'n program soos CorelDraw het geweldig baie gehelp met die miersketse - en ek het ook nuwe vaardighede geleer wat ek nou weer op kaarte kan toepas!

Vertel ons van die reise tydens jou navorsing. Ek en my vrou, Maggie, het verskeie kere gereis na die Sederberg, die Langeberg, Kaap Columbine en verskeie staproetes regoor die Skiereiland, hoofsaaklik om miere te versamel wat Philip kon afneem of om sommer net na miere te kyk en ons kennis uit te brei.

Later het ons begin om miere te versamel om vir die Californian Academy of Science (CalAcad) te stuur. Hulle het die grootste mierversameling ter wêreld en hulle mikpunt is om elke mierspesie af te neem. Tans trek hulle al verby 24 000 spesies...

Waarom is malmiere jou gunsteling? Hulle het houding. Hulle val summier aan tydens kontak - hulle ruik jou nie eers nie. As jy langs hulle nes trap, storm hulle doelgerig op jou af. Maar tog kan hulle jou nie seermaak nie. Jy kan kaalvoet tussen hulle staan terwyl hulle jou probeer byt, maar dit voel of iemand jou kielie - hulle kan nie deur jou menslike huid breek nie. Verder is hulle ook die primêre mier wat betrokke is by die veilige verspreiding van fynbossaad - sonder malmiere sal ons nie boegoe, rooibos, speldekussings of rooistompies hê nie.

Watter aspek van miere se gedrag vind jy boeiend? Hulle sorg vir hulle jongelinge. Die eiers, larwes, kokonne of papies word altyd met ywer verdedig en wanneer die nes versteur word, onmiddellik in veiligheid weggedra. Dit is wat alle ware sosiale diere - mense ingesluit - die beste doen.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #75 (September 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM