Die BBC se tweede Planet Earth-reeks is tans ook op Suid-Afrikaanse TV-skerms te sien - tien jaar nadat die vorige reeks uitgesaai het. Ons het met Fredi Devas, die regisseur van die "Cities"-episode, gesels oor die unieke uitdagings van dié onderwerp.

Foto: Paul Thompson
Hoekom 'n episode oor stede in 'n natuurreeks?
Dis die habitat wat die vinnigste groei en diere is besig om daarby aan te pas. Ons wou wys watter diere dit goed regkry - van luiperds in Mumbai, Indië, tot swerfvalke in New York, VSA.
Watter unieke uitdagings het die stede gebied?
Om in die stad te verfilm is baie moeiliker as op enige ander plek. Gewoonlik werk 'n mens in natuurreservate en jy het net een permit nodig vir 'n hele verfilming, maar nou moes ons toegang kry tot die dakke van 30 verskillende wolkekrabbers in New York. Ons kon ook nie sommer net hommeltuie gebruik in die stede nie - netnou val dit en beskadig 'n motor of maak iemand seer.
Ons moes ook nogal nuut dink om stories te kry oor die stadomgewing as 'n habitat vir wilde diere, omdat nog nie baie navorsing daaroor gedoen is nie. Ons het die navorsing wat daar wel is, gefynkam en met bewaringsbioloë gesels en 'n klomp stories gekry, maar ons het ook sosiale media gebruik.
Hoe het tegnologie verbeter sedert die eerste Planet Earth-reeks?
Die belangrikste verbetering is dat stabiliserende tegnologie (wat sorg dat die beeld mooi egalig is) baie kleiner geword het. Jy kan dit dus nou self vashou en daarmee rondloop en dit hoef nie aan 'n helikopter vasgemaak te word nie. 'n Mens kan baie nader kom en tussen diere inbeweeg wat dit baie meer intiem laat voel - 'n mens sien die diere se lewens asof deur hulle eie oë.
'n Mens kan ook deesdae "buffer", wat beteken jy kan jou kamera op die toneel gerig hou, en "record" druk wanneer iets interessants gebeur - die kamera stoor tot 4 sekondes se beeldmateriaal van voor jy die knoppie gedruk het. Voorheen sou 'n mens dae aaneen moes opneem en dele met aksie gaan uitsoek.

Het jy 'n gunsteling 'n gunstelingstorielyn uit die episode?
Ons het hiënas verfilm wat snags vrylik in die stad Harar in Ethiopië rondbeweeg sonder om mense en hulle vee aan te val. Dis 'n vredesooreenkoms wat oor die afgelope 400 jaar tussen die diere en die mense van die stad gevestig is: Die diere kry bene by die slagter, maar in ruil daarvoor laat hulle die inwoners in vrede. Dit geld net vir die stad en onmiddellike omgewing - 'n ent weg sal hulle wel die vee vang. Ek het nog altyd gedink hiënas is vreesaanjaend - dit was ongelooflik om hulle so vreedsaam saam met mense te sien leef. Dit is die storie wat my die meeste verras het.
Wat is die beste deel van jou werk?
Om die natuurlike wêreld te kan dophou. Ek verloor myself heeltemal as ek na diere kyk, om te sien hoe hulle lewe en te probeer verstaan wat hulle aandryf.
Vir "Cities" het ons in Indië slankape verfilm en ek kon myself skaars wegskeur. 'n Uur ná sononder was dit heeltemal te donker om enigiets te verfilm en die diere het al gaan slaap, maar ek kon myself skaars wegskeur. Dis die beste deel.
En die slegste deel?
Om weg te wees van my familie. Ek het twee dogters (4 en 6) en dis sleg omdat hulle so vinnig groei, maar dit vang my veral as ek op sulke mooi plekke kom en dink "As ek net my familie saam met my hier kon hê."
Wat is jou volgende projek? Ons maak 'n film oor Antarktika.
Dit verskyn oor 3 jaar... nog 'n lang een! Dit gaan oor hoe diere in so 'n vyandige omgewing oorleef.
As my skip inkom... sou ek die grootste deel van die geld gebruik om soveel as moontlik bome in die Amasone te plant. Woude skep nie net wonderlike ryk habitats vir natuurlewe nie, maar dis ook wonderlik vir klimaatverandering omdat dit so baie koolstofdioksied opsuig. Bo alles is sulke wildernisgebiede so belangrik vir mense, om te kan sien hoe diere lewe. Dit maak ons kalm en is goed vir ons gesondheid.
- Planet Earth II word Sondae om 4 nm. op BBC Earth (DStv-kanaal 184 uitgesaai. Die "Cities"-episode word op 12 Maart uitgesaai












