MARTHIE SKRYF: Nadat ons vroeër vanjaar julle inligtingsessie "Brekfis met Toast" by die Blue Crane-restaurant in Pretoria bygewoon het, roep Botswana ons al harder.
Ek het al 'n bietjie daar gaan kuier, maar nou gaan my man en 'n goeie vriend saam. Fotografie is een van ons topprioriteite.
My vriend is veral lief daarvoor om voëls in vlug af te neem en wil graag aksiefoto's van visarende neem.
Ons beplan om met een voertuig en die Conqueror Commander-boswa te ry en vir 'n paar dae by Drotsky's Cabins langs die Okavango-pypsteel te gaan kamp. Ons is onseker waarheen ons van Drotsky's af moet ry vir ons volgende blyplek. Ons mik vir 'n reis van twee weke en wil dalk net twee keer kamp opslaan...
Hierdie reis is die eerste van nog vele in die toekoms. My doel is om die manne lus te maak vir padvat, sodat hulle kan verstaan hoekom ek so opgewonde raak oor my reise.
Ek wil die twee nou ook nie oorweldig met te veel plekke op een slag nie - dit hou ek vir later!

TOAST ANTWOORD: Die afstande in Botswana is groot, en julle sal noodgedwonge 'n paar ekstra aande moet kamp opslaan op pad na die noorde van Botswana, en weer terug. Hier is my voorstel vir 'n moontlike reisplan:
Dag 1: Ry van Pretoria af tot net anderkant Kang in die Kalahari - goeie blyplek hier is Kalahari Rest.
Dag 2: Ry van Kang af tot by Drotsky's (dis 'n baie lang dag op pad, en die laaste stuk teer is swak)
Dag 3: Drotsky's - rustige dag, skep asem, hou vakansie!
Dag 4: Drotsky's - vang tiervis, neem foto's ensovoorts. Onthou hier's nie baie wild by Drotsky's nie - jy sal gelukkig wees om 'n olifant te sien, en beslis nie leeus en goed nie. Dis meer 'n plek waar jy voëltjies kyk, visarende afneem, seekoeie en krokodille sien.
Dag 5: Drotsky's - doen van hier af 'n dagtoer na die Tsodilokoppies om na die rotstekeninge te gaan kyk. Dis 'n baie spesiale plek en die rit soontoe en terug is lekker.
Dag 6: Drotsky's - Die Mahango-wildreservaat lê oorkant die grens van Drotsky's af - aan Namibië se kant. Die reservaat is klein en maklik om in een dag deur te ry. Jy sien baie wild: bastergemsbok, swartwitpens, dalk buffels, olifante, ensovoorts. Dis ook 'n lekker plek vir foto's neem. Goedkoop toegangsgelde ook.
Dag 7: Drotsky's - laaste dag hier, rus lekker uit.
Dag 8: Ry van Drotsky's oor Maun na South Gate in die Moremi-wildreservaat (bespreek nou al om plek te kry daar). Moenie bekommerd wees as jy nie plek kry by South Gate nie. Jy kan ook jou basiskamp by Island Safari Lodge net buite Maun maak en dagtoere van daar af doen. Dit sal ook goedkoper wees om te doen want kampering in Moremi is aan die duur kant.
Dag 9: South Gate - doen wildritte in area. Hier is baie wild, ook leeus en luiperds. (Of, soos ek hier bo voorstel: Bly naby Maun en doen 'n dagtoer na die South Gate-deel van Moremi. Moenie te diep die park in ry nie, jou tyd gaan te min raak.)
Dag 10: South Gate - wildritdag. (Alternatief: Ry weer van Maun af hierheen of doen 'n besigtigingsvlug oor die Okavangodelta van Maun af. Ek beveel so 'n vlug sterk aan.)
Dag 11: South Gate/Maun soos jy wil. Rustige dag.
Dag 12: Ry van South Gate/Maun af na die Khama Rhino Sanctuary net noord van Serowe. Dis 'n baie lekker klein park met netjiese kampplek. Hier's baie wild, ook renosters, wat jy nie elders in Botswana sien nie.
Dag 13: Khama Rhino Sanctuary.
Dag 14: Ry huis toe.
Let wel:
* As julle nie plek kry by Drotsky's nie, oorweeg ook Shakawe River Lodge, wat naby aan Drotsky's is, dieselfde dinge bied, en ook mooi kampplek het.
* Julle hoef nie met die opryslag via Kang te ry nie - julle kan ook oor Serowe ry en Khama Rhino Sanctuary dan julle oornagplek maak.
Wees ook op die uitkyk uit vir ons 2017/'18 Botswana-gids wat binnekort op die rakke sal wees vir nog roete-idees.
Geniet dit!
Kan ons help met jou vakansiebeplanning? Stuur 'n e-pos na toast@weg.co.za













