Reis

Roete: Bainskloofpas

Die pad is só smal dat dit heeltyd voel asof jy in die aankomende verkeer gaan vasry of by die afgrond gaan aftuimel.

Maar jy sal ver moet soek vir 'n bergpas met mooier uitsigte en meer dramatiese landskappe as die Bainskloofpas.

Boonop ry jy 'n bobaaspasbouer se meesterstuk, dis 'n nasionale gedenkwaardigheid, én hier is genoeg om te sien en doen dat jy en jou gesin 'n daguitstappie daarvan kan maak.

Waar is dit?

Sowat 80 km oos van Kaapstad. Die 27 km lange pas begin amptelik net buite Wellington op die R301 en eindig anderkant die Limietberg by die Breërivier naby Wolseley.

Beste tyd om te gaan?

In die lente en somer is die pas op sy mooiste. In die winter sorg die reën vir mooi watervalletjies en stroompies, maar dis nie 'n pas wat jy sommer in nat weer wil ry nie.

Pasop!

Veral oor naweke raak die pas baie bedrywig, en nie almal ry so verantwoordelik soos jy nie. Onthou, die pad is nou en groot dele is sonder 'n skouer, en soos die meeste passe het hierdie een baie skerp draaie en 'n steil afgrond.

Geskiedenisles

In die negentiende eeu was dit 'n enorme kopseer om goedere óór die berge tussen Kaapstad en die binneland te kry. John Montagu, destydse koloniale sekretaris, het die Skot Andrew Geddes Bain opdrag gegee om 'n oplossing te vind.

In daardie stadium het Bain al onder meer die Oubergpas naby Graaff-Reinet, die Eccapas tussen Grahamstad en Fort Beaufort, en die Michellspas by Ceres op sy kerfstok gehad.

Die aanvanklike plan was om 'n tonnel deur die berg te grawe, maar dié idee is gou laat vaar (die ingange weerskante van die berg waar begin grawe is, is steeds te sien). Toe gaan hulle maar óór die berg.

Danksy Bain en meer as 'n duisend gevangenes kry Montagu vier en 'n half jaar later, in 1853, waarvoor hy gevra het: die Bainskloofpas.

Dit was lank 'n hoofroete tussen Kaapstad en die binneland, maar met die opening van die Du Toitskloofpas 'n eeu later - en die Hugenote-tonnel in 1988 - het die verkeer oor Bainskloofpas stelselmatig afgeneem.

Francois Haasbroek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM