As jy van die Kaapse Skiereiland af in die binneland wil kom, móét jy 'n berg oorsteek (dis nou as jy nie 'n vliegtuig het of langpad om die Weskus wil ry nie). Daar is talle passe binne 100 km van Kaapstad waarop duisende voertuie daagliks binneland toe kruie, waarvan die bekendste seker die Du Toitskloof- en Sir Lowryspas is.
Tussen dié twee woelige passe loop die Franschhoekpas stil-stil oor die Middagskransberg - Suid-Afrika se die oudste pas.
Toe Jan van Riebeeck by die Kaap kom vasmeer het, was daar nog olifante in die kontrei. Die heel eerste "pas" waarmee mense binneland toe gereis het, was die pad wat die grootvoete uitgetrap het soos hulle oor die berg getrek het.
Ná een mislukte probeerslag is 'n rybare pas uiteindelik in 1825 voltooi en die ossewaens se wiele kon na die Overberg rol.
Die heel eerste "pas" waarmee mense binneland toe gereis het, was die pad wat die grootvoete uitgetrap het soos hulle oor die berg getrek het.
Vandag word die Franschhoekpas nie meer regtig gebruik om goedere na die binneland te vervoer nie.
Dis 'n stil pad, en die uitsigte oor die wingerde aan die westelike helling en bergagtige wildernis aan die oostelike kant maak dit die moeite werd om eerder hiér om te ry as deur die Hugenotetonnel, as jy weer op pad is na die R62 toe.
Die dorpie aan die voet van die berg is elke naweek stampvol besoekers. As jy een van hulle is, onthou net die pad eindig nie in die dorp nie.
Vinnige feit
Die Britse goewerneur lord Charles Somerset het lank gesukkel om toestemming te kry om die pas te bou. Maar toe daar 'n groep soldate onderweg na Sierra Leone in die Kaap gestasioneer was, het hy besef hy moet 'n plan maak.
Hy was bang dat die verveelde soldate amok sou maak in die Kaap en het dit gebruik as 'n verskoning om die owerhede te oorreed. Die soldate is toe saam met slawe aan die werk gesit om die pas te voltooi.












