Vandat ek kan onthou, was ’n Volkswagen Syncro Kombi my pa se droommotor. In 2005 is dié droom verwesenlik toe hy een middag voor ons huis in George stop met die koelste ding op vier wiele wat my 13-jarige oë nóg aanskou het.
Met sy hoë suspensie, reuse-wiele en ’n imposante bullbar vooraan het die bloedrooi Syncro soos ’n omgesukkelde seekoei gelyk. Tweedehands was hy wel, maar vir my was dié bussie so goed soos nuut.
Kort daarna kondig my ouers aan dat ons Lesotho toe gaan vir die somervakansie – in die Syncro, natuurlik!
Ek en my jonger broer, Rouxbert, kan skaars wag vir die avontuur wat vir ons voorlê: Twee weke in die Bergkoninkryk!
Met ’n fietsrak wat kreun onder die gewig van vier fietse, val ons daardie Desember in die pad. Outeniekwapas oor, skuins deur die Klein-Karoo en dan dreun die Syncro in die rigting van Bloemfontein, ons eerste oornagplek.
Tussen Aberdeen en Graaff-Reinet gee Pa skielik ’n sug. “Die Kombi trek nie reg nie,” mor hy.
Ons druk deur tot in Bloemfontein. Daar pak ons af by Ouma terwyl my pa die Volkswagen-agent se nommer vir na-ure skakel.
“Hulle kan ons help,” hoor ons oor aandete.
’n Dag se gewag word twee, want “iets is fout met die kleppe”. Ek en Rouxbert trap die aftreeoord plat met ons fietse terwyl Ma en Pa gespanne gesprekke in die sitkamer voer.
“Oom Ouboet ken ’n werktuigkundige in Bethlehem wat kan help, ons moet dit net tot daar maak,” lig
Pa ons daardie aand in. Oom Ouboet is getroud met my pa se ouer suster, tannie Karin.
Die volgende oggend groet ons vir Ouma en durf die 250 km na Beth-lehem aan.
“My ou is ’n kénner van Vollas, hy sal die Kombi sommer vinnig uit-sort,” belowe oom Ouboet toe ons op sy plaaswerf stop.
Die volgende oggend vat ons die rooi Syncro na die werktuigkundige op Bethlehem. “Gee my vandag en môre en dan het ek julle weer op die pad voor Krismis,” sê die omie in die blou oorpak.
Teen dié tyd moes ons al in Lesotho gewees het, maar hoe gemaak? Só laat my pa ons vakansie en die welstand van die Syncro oor aan die mechanic van Bethlehem.
Die oggend van 23 Desember bring egter geen goeie tyding nie. “Die skade is erger as wat hy gedink het,” kom deel my pa die nuus.
‘O, koek’ is al wat my pa sê wanneer hy aftrek.
Op oom Ouboet en tannie Karin se plaas kan ons nie bly nie, want hulle het hulle eie reëlings vir Kersfees. Naarstigtelik word planne gemaak terwyl ek en Rouxbert skyfskiet en kleilat gooi saam met ons niggie en nefie, Karla en Louwrie.
“Oom Ouboet gaan ons by Golden Gate se kampplek aflaai – ons sal daar wag totdat die Syncro reg is,” sê Pa die aand om die braaivleisvuur.
“Julle gaan van die plek hou – julle kan oral fietsry, en daar is swempoele in die rivier,” paai Ma wanneer ons die volgende dag ons tasse en tente in die Glen Reenen-kampterrein aflaai.
“Koebaai, Geseënde Kersfees en mooi bly!” roep Oom Ouboet wanneer hy ry. “Ek sien julle seker oor twee of drie dae!”
Oukersaand deel ons geskenke om die kampvuur uit en Kersdag gaan stap ons in die berg. Dis nou wel nie Lesotho nie, maar in die verte is die Malutiberge sigbaar en dit lyk asof Ma en Pa gemoedsrus het dat die Syncro spoedig herstel sal word.
Maar met elke dag wat verbygaan, raak Pa se gemoed swaarder. Om dinge te vererger, steel ’n trop bobbejane bykans al ons kos. Noodgedwonge moet Pa die byna 20 km Clarens toe (én 20 km terug!) fietsry om ons proviand aan te vul.
Oujaarsaand is ’n gedempte affêre. “Ons sal moet wag en sien, ou bul,” is al wat Pa sê as ek uitvra.
Uiteindelik, op 3 Januarie, kom die goeie nuus – die Syncro is reg!
Oom Ouboet kom tel Pa op en vat hom Bethlehem toe om die bussie te gaan haal. Daar is slegs twee dae van ons beplande twee weke vakansie in Lesotho oor – maar Lesotho-vakansie gaan daar gehou word!
By die Caledonspoort-grenspos loop als seepglad, maar ons is skaars buite sig van die grenspos voordat die Syncro met ’n allemintige geknor en geklap sidderend teen die eerste bult uitstotter.
“O, koek!” is al wat my pa sê wanneer hy aftrek.
Om ’n Kombi se enjin te bekyk is ’n aardige storie, want die enjin sit agter onder die bagasieruimte. Die fietsrak met vier fietse moet eers afgelaai word...
Ek en Ma begin afpak terwyl Pa op sy rug onder die bussie inskuif.
“Dit kan die prop shaft wees,” kom dit van onder die bussie. Pa wys my hoe om die dryfas los te bout en af te haal. Ná ’n gesukkel is die enorme stuk yster af en word dit onder een van die sitplekke gebêre. “Ons sit hom weer aan wanneer ons moet 4x4 ry,” antwoord Pa toe Rouxbert vra of die Kombi nog sal kan ry.
Ons hou asem op, maar die Kombi kom aan die brand.
Die diagnose was dalk reg. Maar dan verloor die enjin weer krag, net soos op die eerste dag van ons vakansie. Teen ’n slakkegang kruie ons die steil bergpasse uit. Vroegaand stop ons by die Oxbow Lodge, doodmoeg en dun gesmeer van spanning.
Die volgende oggend mik ons vir die Sani-pas, maar elke keer as die pad rof raak, moet ek en Pa eers die dryfas vasbout sodat ons 4x4-aandrywing het. Die res van die dag word ’n waas van dryfas vas- en dan weer losmaak. Net buite Underberg maak die enjin weer ’n doodsgeluid.
Fietse af, bagasie uit; Pa inspekteer die enjin. Die dryfband het gebreek en die verkoeling se pype afgeslaan. Gelukkig kan Pa ’n plan maak en hy kry ons weer aan die ry, maar gemeet aan die uitdrukking op sy gesig, is die vakansie nou verby.
“Ons ry nou om by die huis te kom,” sê Pa terwyl hy die padkaart bestudeer vir die kortste pad terug na George.
Van dié deurnag 1 000 km-uithourit kan ek net grepe onthou: Middernagstoppe by vreemde vulstasies waar Ma en Pa met flitse en bottels water aan die enjin peuter.
Terug op George by ’n werktuigkundige wat sy storie ken, is die Syncro later herstel. Hierna ry ons nog lekker met die Syncro vir ’n jaar of wat voordat Pa dit aan ’n versamelaar verkoop.
“Daai mechanics in die Vrystaat het meer skade as goed aangerig,” sal Pa nou nog sê as ons oor dáái vakansie gesels.
“Onthou jy hoe vinnig ons die fietsrak kon op- en aflaai, en hoe goed jy en jou pa was met prop shaft se vas- en losskroef?” sal Ma vra.
“Wat daai trippie my geleer het, is dat ’n droommotor nie noodwendig vir ’n droomvakansie sorg nie,” erken my pa nou die dag toe ons weer oor die prop shaft-kaskenades gesels.
Snaaks genoeg, ondanks ons Kombi se temperamentele aard, is ’n bloedrooi Syncro wraggies ook steeds mý droommotor...












