Skoolgaan in PE was vir my baie lekker, maar vakansies was vir my nóg lekkerder. Wanneer die skool sluit, het my ouers my op die nagtrein na Willowmore gesit. By die stasie het my pa my met my tas gehelp, en my ma het met die kondukteur gereël dat hy my betyds wakker maak. Sy het hom ook opdrag gegee om 'n ogie oor my te hou.
My ma het ses susters gehad. Een van hulle - Betta - was kinderloos. Toe ek drie jaar oud was, het ek vir die eerste keer alleen by haar en haar man op die plaas Krugerspoort buite Willowmore agtergebly nadat my ma-hulle vir die naweek daar gekuier het.
Daarna was die koeël deur die kerk: Ek is met elke moontlike geleentheid na hulle toe.
Sedert 1963, toe ek in sub A was, kon ek alleen met die trein Willowmore toe ry. Kan 'n mens jou dit vandag voorstel dat jy 'n sesjarige vir 'n hele nag alleen op 'n trein los! Gewoonlik het die stoomtrein om agtuur die aand uit die Baai vertrek.
Dan hang ek by die venster uit en waai vir my ouers; dit was nie 'n probleem nie, want jy het agtertoe gekyk en die roet kon nie in jou oë waai nie.
Die moeilikheid het die anderdagmôre gekom wanneer ek by die venster uithang om te kyk of my oom en tannie al op die perron staan en wag. Dit is hoekom my ma altyd probeer het om my plek in 'n wa so ver as moontlik van die lokomotief af te bespreek.
Uitenhage was die eerste stop ná die Baai. Daar het gewoonlik weer mense opgeklim. Dan het die portier (of bedjoggie, soos hy later genoem is toe Afrikaans in sy bloeitydperk was) gekom en jou bed opgemaak.
Deur die jare het ek interessante reisgenote gehad. Ek onthou nou veral een keer toe 'n oom en sy seuntjie saam met my in die kompartement was. Ek was seker in standerd ses en die seuntjie sowat vyf jaar oud.
Langs ons was 'n tannie alleen in 'n koepee. Gou het die oom en tannie aan die gesels geraak, en dit was nie lank nie of die oom kom vertel dat die tannie baie bang is en dat hy 'n bietjie by haar gaan sit... Ek moes 'n ogie oor die seuntjie hou.
Toe ek die volgende oggend sesuur op Willowmore wou afklim, moes ek die oom langsaan gaan roep. Die tannie moet seker baie bang gewees het.
Nadat die trein uit Uitenhage vertrek het, het ek gewoonlik aan die slaap geraak en eers weer so tweeuur se kant op Klipplaat wakker geword as die trein moes stop en gerangeer is. Dit was onplesierig, want dit was 'n geraas en oponthoud - al was my reis dan al verby halfpad.
Met die afspring by Bakoond kon ek gouer op die plaas wees, en dit was vir my lekker om te weet die trein het spesiaal net vir my gestop.
My oom en tannie se plaas was ongeveer 14 myl van Willowmore af. Maar 7 myl voor Willowmore was 'n siding met 'n naambord: Aan die een kant het "Oven" gestaan en aan die ander "Bakoond".
As my oom en tannie vroeër die week reeds op die dorp was, het hulle nie weer Willowmore toe gery nie, maar my by Oven/Bakoond kom optel. Dan het hulle 'n vuur by die naambord gemaak sodat die drywer weet hy moes daar stop om iemand af te laai.
Dit moes egter vinnig gaan. Die kondukteur het net geroep "Strydom!" - en dan moes ek afspring, want daar was nie 'n perron nie. Hy het my tas aangegee en dan is die trein vort Willowmore toe.
Met die afspring by Bakoond kon ek gouer op die plaas wees, en dit was vir my lekker om te weet die trein het spesiaal net vir my gestop.
Maar om op Willowmore af te klim was weer 'n anderste lekker.
Wanneer die trein Willowmore-stasie instoom, staan oom Danie en Betta my en inwag (ons het my tannie nooit "tannie" genoem nie, maar altyd op haar voornaam - seker omdat sy so jonk van gees was en nie kinders gehad het nie).
In my geheue was dit altyd koud op Willowmore. Betta sou 'n jas dra, met wolhandskoene en haar handsak oor die arm. Oom Danie sou sy beste baadjie dorp toe dra. Eers het ons in die motor onder die peperbome buite die stasie gaan sit en ontbyt eet.
Ons moes tyd opmaak tot die winkels oopmaak of die dorpsfamilie opstaan sodat ons hulle kon gaan groet en iets afgee. As plaasmense vir die dag dorp toe gaan, was daar dikwels eers iets wat by iemand afgegee moes word - gewoonlik 'n eetding van die plaas af.
Agtuur het ons by die Jood Julius Musikanth se Algemene Handelaar ingestap. Jy kon nie jouself bedien soos in die Baai se OK nie. Daar was toonbanke reg rondom die winkel en in die middel 'n ovaalvormige eiland-toonbank met 'n deurtjie.
Die minder algemene produkte was by daardie toonbank - meestal het Mister Musikanth dit fancy goods genoem - dis waar Betta altyd trou- of verjaardaggeskenke uitgekies het.
As Betta fancy goods wou hê, het Mister Musikanth by die deurtjie ingegaan, dit toegemaak en haar oor die toonbank bedien.
Terwyl sy die week se eiers aan hom "verkoop" - die waarde is eintlik maar net van haar aankope afgetrek - was my oom op die stoep waar die velle wat hy ingebring het, geweeg is en die bedrag ook van die aankope afgetrek is. Dan het hy plaasgoed gekoop: paraffien, 'n skaapskêr, 'n stuk sifdraad.
Hierna is ons soms na die Handelshuis, die Koöperasie, of Scholtz se apteek. Soms is ons na die Karoonuus, die distrikskoerantjie, waar Betta dalk 'n berig sou plaas - oor iemand op besoek of 'n ander se goue bruilof.
Later jare het Betta graag die tuisnywerheid - wat toe 'n nuutjie was - besoek om ongewone gebak te koop wat sy nie self kon of wou maak nie. Tussendeur is oor en weer gegroet en gesels. Dit het vir my gevoel asof almal mekaar ken en vriende is - baie anders as by ons in die Baai. En Engels hoef jy nooit te gepraat het nie.
Hulle was seker op die uitkyk vir wilddiewe, want in daardie geweste was onwettig jag in die padreserwe byna 'n nasionale sport.
Wanneer die winkels eenuur sluit synde dit Saterdag was - het oom Danie die 1957-tweedeur-Opeltjie se neus Krugerspoort toe gestuur om die 14 myl kaf te draf. Dan was daar sewe hekke wat ek moes oopmaak voordat ons die plaaswerf kon binnery.
Ek het die hekke soos familie geken: elkeen se skeet en slag om hom oop te kry. Die konsertinahek was die moeilikste. In my hoërskooljare is hy uiteindelik met 'n oopswaaihek vervang. Ek het toe gevoel dat dit my lewe baie makliker maak.
As die Opeltjie die werf op Krugerspoort inry, het Voete, die skaaphond, kar toe gedraf en dan het ek geweet: Nóú is ek met vakansie.
Ná matriek het ek nie meer trein gery nie, maar ek is elke universiteitsvakansie met my 1972 Kewer Krugerspoort toe. As ek aan die einde van die vakansie daar weg is, het die Kewer gekreun onder die vrag koekies, beskuit, tuisgebakte brood, biltong, vleis, konfyt, groente en vrugte - om te deel tussen my en Betta se susters en enigste broer wat in die Baai gebly het.
Ná een vakansie het 'n verkeerskonstabel my anderkant Wolwefontein gestop, by die Kewer ingeloer en vir die ander konstabel gesê: "Nee, dis oukei. Net 'n student wat gaan kos haal het vir die nuwe kwartaal..."
Hulle was seker op die uitkyk vir wilddiewe, want in daardie geweste was onwettig jag in die padreserwe byna 'n nasionale sport.
Vandag loop daar nie meer 'n passasierstrein Willowmore toe nie. Dis 'n ervaring wat deesdae se jong mense nie meer beskore is nie - dis ook 'n gratis leerskool wat vir altyd verlore is.
Ek wonder soms wat van die seuntjie met die "dapper" pappa geword het; of van Raymond van die Ugie-kinderhuis wat meer as een keer op dieselfde trein as ek was op pad na sy vakansie-ouers, of van die seun van die bejaarde ou wewenaar-oom wat vir hom gaan kuier het in die Alexandra-hospitaal in Kaapstad.
Sou die lewe vir hulle almal ook so gelukkig verloop het soos vir my?
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #149 (Maart 2017) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.













