Reis

Rubriek: Om honger te wees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Ek was deel van 'n filmspan wat 'n dokumentêre film gemaak het oor 'n sjimpansee-reddingsoperasie deur die Jane Goodall-instituut.

In daardie stadium was François Bozizé president van die land en alles was so korrup as wat dit kon wees: Jy moes omtrent iemand omkoop elke keer wanneer jy toilet toe wou gaan. Die land was boonop in 'n burgeroorlog gewikkel, en die rebelle was in die noorde.

Ná ons aankoms per vliegtuig het ons die hoofstad, Bangui, verlaat om in die oerwoud suid van die stad na sjimpansees te gaan soek. Ek, die kameraman en klankman is vergesel deur 'n polisiekaptein, 'n tolk en ons gids (en bestuurder) wat ons die ongeveer 100 km tot by 'n bosboustasie sou vergesel.

Ek onthou hoe ons op die bak van 'n Isuzu-bakkie gestaan het terwyl ons die reënwoud binnery. Die reuk van die geil, nat aarde, varings en mos het ons in die gesig getref. Daar was iets onbeskryfliks vars aan die oerwoud.

"Kan jy glo dat iemand ons betaal om hier te wees?" het ek in my kameraman se oor geskree. Hy't net instemmend geknik, gelag en gewys na honderde skoenlappers wat tussen die stamme van enorme bome rondfladder.

Terwyl ons by dorpies verbyry, het kinders geskree en gewaai.

Hier was buitelanders (oftewel wit mense!) omtrent so 'n vreemde verskynsel soos olifante in die strate van New York.

Die paaie was byna onbegaanbaar en dit het ons meer as agt uur gevat om die 100 km af te lê. By die bosboustasie aangekom, hoor ons dat sjimpansees lanklaas in die omgewing gesien is.

Probeer in Boda se rigting, hoor ons.

Laat daardie aand het ons honger, vuil en moeg in Boda aangekom en kon ons in 'n "hotel" oorslaap. Elke kamer was basies 'n leë vertrek met 'n houtstellasie om op te slaap en 'n waskom om in te was.

"Dis nie te ver nie," het polisiekaptein August ons verseker.

Ons het nie baie geld by ons gehad nie, maar ons wou die beste maak van ons tyd in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en het besluit om verder te ry - ons moes beeldmateriaal kry.

Laat daardie aand het ons honger, vuil en moeg in Boda aangekom en kon ons in 'n "hotel" oorslaap. Elke kamer was basies 'n leë vertrek met 'n houtstellasie om op te slaap en 'n waskom om in te was.

Ons is na 'n eetplek waar ons vir omtrent R20 per kop 'n sort hoenderbeensop en pap (gemaak uit kassawewortel) geëet het. Die bier was gelukkig koud.

Die volgende oggend - ek onthou dit was mistig - was ons steeds honger en het by 'n mark iets te ete gaan soek. Soos ons nader stap, tref 'n bekende reuk my: vetkoek! Ek het die vrou wat vetkoekies in 'n pan sit en braai het, amper omhels. 'n Happie van die huis in die hart van Afrika.

Ná ontbyt ry ons die laaste 100 km na waar ons glo sjimpansees sou kry. Die paaie het nóg slegter geraak en ons moes soms die Isuzu uit modder losgrawe. Langs die pad het Batwa (Pigmeë, soos dié stam dalk beter bekend staan) gestaan en ons met belangstelling dopgehou.

Ons het uiteindelik ons bestemming bereik, eintlik maar net 'n gehuggie in die oerwoud. Eers moet ons almal van belang ontmoet - van die plaaslike hoof van die weermag tot die bosbouhoof tot die subprefek van die gebied. Elkeen moes natuurlik ook sy "permitfooi" betaal word voordat ons met ons kameras die bos kon in.

Ons het op die stoep van die subprefek se huis gesit en lang praatjies gemaak. Hulle kry min besoekers hier, dít was duidelik. Later het hulle iemand gestuur met 'n motorfiets om die accountant te gaan haal. Hy was die een wat sou bepaal hoeveel ons moes opdok.

Toe hy agterop die motorfiets opdaag, sak ons moed in ons skoene. Die rekenmeester het 'n goue horlosie om sy gewrig en glinsterende kettings om sy nek - duidelik 'n man van die wêreld. Dit was toe ook nie 'n goedkoop transaksie nie, en só is ons geld vir kos nóg minder.

Een ding wat ek van die Sentraal-Afrikaanse Republiek kan sê, is dit: Hulle weet hoe om brood te bak. Daardie middag koop ons die heerlikste Franse brode by 'n sinkplaatwinkeltjie. Ons eet dit sommer net so sonder botter. Lekkerder brood as wat ek al ooit in my lewe geëet het.

Ná nog 'n nag van hard slaap het ons vroeg die volgende oggend saam met 'n span gidse die woud ingestap. Hulle't omtrent gedrafstap in die yl bospaadjie af en ons het behoorlik geblaas soos wat ons probeer byhou met ons kameras. Van die sjimpansees was daar egter geen teken nie, net leë haelgeweerdoppies op die plekke waar hulle eens gehou het.

Toe moes ons terugry Bangui toe. Teen daardie tyd het ons klere behoorlik aan ons lyf gekleef ná vier dae in die tropiese reënwoud. Al wat ons oorgehad het om te eet was 'n paar warm grenadella-agtige vrugte wat ons by een van die dorpies langs die pad gekoop het.

Ons het vroeg die oggend weggetrek, want daar was 'n goeie 300 km tussen ons en Bangui. Ons moes opskud, want die stad se hekke het elke aand om middernag gesluit as gevolg van die burgeroorlog. Ons wou beslis nie nóg 'n nag buite die stad slaap nie.

'n Ent verby Boda het die bakkie egter begin moeilikheid gee. Die Isuzu het elke paar kilometer gevrek en uiteindelik verseg om verder te ry.

Tussen die ses van ons het ons uiteindelik agtergekom dat daar 'n verstopping in die dieseltenk is. Ons het 'n klein dieseltenk uit 'n leë 2 liter-koeldrankbottel geprakseer, wat die enjin direk kon voer.

In die pad lê daar 'n boerbok wat doodgery is. Hoe lank het die bok al daar gelê? Ons was nie seker nie.

Sodoende het ons die laaste 60 km in vyf skofte van 12 km op 'n slag afgelê. Ons was moeg en honger en daar was 'n goeie kans dat ons nie die stad voor middernag sou haal nie.

Op 'n kol, net nadat ons weer die dieseltenk gevul het, stop die Isuzu skielik met skreeuende bande. Die bestuurder, ons tolk en ons sekuriteitsman loer nuuskierig deur die venster.

In die pad lê daar 'n boerbok wat doodgery is. Hoe lank het die bok al daar gelê? Ons was nie seker nie.

Die manne het opgewonde in Frans met mekaar gepraat. Dit het geblyk dat hulle die roadkill wou oplaai.

"Allons-y! Allons-y!" het ek vir hulle in Frans geskree - ons moet ry. Ek was buite myself van honger, maar vir 'n karkarkas (snaaks dat daar nie 'n lekker Afrikaanse woord vir roadkill is nie...) het ek nog nie kans gesien nie.

Hulle het 'n laaste keer nog verlangend na die padprooi gekyk. In 'n land waar kos - en veral vleis - so skaars is, wil jy nie sommer 'n gegewe boerbok in die bek kyk nie.

Ons hét toe daardie aand buite die poorte van Bangui geslaap, sommer in die bakkie.

Die volgende oggend was ons behóórlik honger. Terug by die huis wat ons as basis gebruik het, het ons hompe spek en eier vir ontbyt geëet.

Ek het nog nooit so lekker geëet nie.

* Jaco is in Oktober 2016 oorlede; rus sag. - Red.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #147 (Januarie 2017) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Jaco Botha

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM